Engele en Magte

27 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Engele en Magte

Judas:8-10

???? VIDEO | ???? OUDIO

In Judas vers 9 lees jy dat die duiwel met die aartsengel Migael gestry het oor Moses se liggaam. Het jy dit al ooit in die Ou Testament iewers raakgelees? Moenie ongeletterd voel as jy dit nog nie gesien het nie. Ek het ook nie. Maar kom ek verduidelik.

Kort voor die Israeliete die beloofde land sou binnegaan, het hulle in die Moabsvlakte aangekom. Moses het die Neboberg uitgeklim en getuur oor die land wat “oorloop van melk en heuning”, die beloofde land van die Israeliete. Alhoewel hy al 120 jaar oud was, was daar nog genoeg krag in sy bene om hom toe te laat om hierdie uitmergelende tog aan te pak teen die berg op. Vir Moses was dit die naaste wat hy aan sy groot droom sou kom. “Dit is die land wat Ek met ‘n eed beloof het”, klink die woorde van God in sy ore as Moses vir oulaas die landstreek verken. Hy het vrede gemaak daarmee dat hy dit nooit sou binnegaan nie.

Daar op die Moabsvlakte het Moses gesterf. Sy liggaam is nooit gevind nie, want die Here het hom begrawe. Dit is soos die Bybel die gebeurtenis vir ons skilder. Daar is egter ander oorleweringe, en die Jode het baie gefantaseer oor wat daar werklik gebeur het. “Die Testament van Moses” was ‘n boek wat probeer het om die gebeure rondom Moses se afsterwe te verwerk.

Volgens die skrywer het die Here die aartsengel Migael gestuur om Moses se liggaam te kom haal en na die hemel te neem. Migael se naam alleen spreek van groot gesag. Dit beteken “Wie is soos die Here?” Inderdaad beklee hy ‘n baie hoë posisie onder die engele, en hy is ook die aanvoerder van die hemelse leër. Ons lees byvoorbeeld in Daniël 10 hoedat hy die volk van God beskerm, en in Openbaring 12 sien ons dat hy die direkte opponent van die duiwel is.

Volgens die skrywer van “Die Testament van Moses” sou Migael teenstand gekry het van die duiwel, wat sélf belang gestel het in Moses se liggaam. Omdat Moses as jong man ‘n moord gepleeg het, was hy volgens die duiwel nie geregtig om na die hemel te gaan nie. In sy woordestryd met die duiwel het Migael homself nie verhef tot regter nie, maar bloot die oppergesag van God erken, as Regter wat die duiwel sou straf.

Judas haal aan uit hierdie boek, wat ongelukkig vandag nie meer bestaan nie. Die punt wat hy wil maak, is dat ons nie ligtelik moet praat oor die dinge waarvan ons absoluut niks weet nie. Daar bestaan ‘n wêreld van geeste, engele en bose magte wat vir ons maar net ‘n vae beeld is. Tóg is dit ‘n harde werklikheid. Maar dit is baie gevaarlik vir ons as mense om daardie wêreld te gaan probeer verken en dinge daaroor te sê wat ons uit die duim suig. Dikwels probeer ons om die dinge wat jy nie kan verklaar nie te ontrafel en allerhande soorte betekenisse daaraan te heg sonder dat jy die ware feite daaragter ken.

Een so ‘n veld is jou droomwêreld: Ja, inderdaad het God al met mense gepraat deur hulle drome. Daar is egter baie mense wat probeer om waarde te heg aan elke droom en om hulle uit te lê. Hulle probeer om die toekoms te voorspel met jou drome, of om openbarings van God te sien in elke droom. Soms gebeur dit selfs dat mense hulle drome uitleef in seksuele losbandigheid, soos Judas beskryf in vers 8.

Die ander gevaar is dat mense arrogant optree teenoor die geesteswêreld. In Judas se tyd is die geeste selfs aanbid. Daar is offers gebring en verskeie towerspreuke gebruik wat die magte van die onderwêreld tot hulle eie voordeel sou laat werk. Harry Potter se streke is ‘n goeie voorbeeld van die manipulasie van die bonatuurlike. Dit is natuurlik ook vandag algemene praktyk in die Afrika-kultuur, waar Sangomas, voorvadergees-aanbidding en die tokkolossie en sy trawante almal 'n groot rol speel.

Ons moet besef dat die bonatuurlike ‘n werklikheid is. Natúúrlik is daar engele in diens van God en hulle is magtige wesens wat deur God geskep is. Daar is egter ook engele wat aan God ongehoorsaam geraak het en uit die hemel gedryf is. Hulle het bose geeste geword, en hulle probeer vandag nog om ons van God te skei. Hulle staan in diens van ‘n baie magtige engel met die naam Satan.

Engele-verering is ‘n onding! Kolossense 2:18-19 sê dat jy daarvan moet wegbly, want hierdeur gee jy nie die eer aan God nie. Die engele wil self ook nie vereer word nie (Op. 19:9-10). Bly weg van die okkulte, dis gevaarlike praktyk!

Engele staan uitsluitlik in God se diens. Deur te gefassineer te raak deur hulle, neem dalk jou aandag van God af. Lê jou liewer daarop toe om meer en meer van God te leer en om nader en nader aan Hom te leef. Dit is goed om te weet van die bonatuurlike, maar bepaal jou by wat in die Bybel daaroor geskryf is, want dit is vir ons genoeg.

Gebed: Dankie dat ek die wete kan hê dat ek al my vertroue op U alleen kan plaas, Here, God Almagtig!



 

Lees meer oor die boek: Die Testament van Moses

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026