“Ek gaan Sterf!”

27 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie “Ek gaan Sterf!”

Lukas 18:31-34

 

VIDEO OUDIO

Toe ek in Oom Ted se slaapkamer instap, weet ek sommer - dinge lyk glad nie goed nie. Oom Ted D’Alton was mede-redakteur van ons gemeente nuusbrief - ‘n dierbare gelowige. Op een stadium begin hy elke maand ‘n artikel skryf oor sy lewensondervindinge. Ek kan nie wág dat dit maandeinde se kant toe staan om die volgende episode te lees nie. Dis opwindend en baie interessant. En toe kom die verdoemende nuus: Oom Ted het lewerkanker en bitter vinnig gaan sy gesondheid drasties agteruit. 

Wanneer ek hom besoek waar hy met goudgeel gelaatstrekke op sy bed lê, is dit ‘n diep gelowige mens wat met my gesels. Hy is gereed om Jesus te ontmoet, en die pyn wat hy nou verduur, versterk die verlange na sy finale reis net nog meer. Ek probeer hom opbeur, en sê dat hy tog mos nou nie kan vertrek voordat sy storie klaar geskryf is nie. Ons almal sit in spanning en wag vir die volgende episode. Hy lag die opmerking net weg, want nou is daar baie belangriker en baie groter dinge in sy lewe om na uit te sien. Enkele dae later is hy weg na ‘n plek waar die pyn van die kanker nie meer aan hom knaag nie.

Jesus neem die twaalf uitgesoekte manne eenkant toe en voer met hulle ‘n baie ernstige gesprek. Hierdie is die manne wat vir die afgelope drie jaar elke dag aan Sy sy was en elke wonderwerk, swaarkry, uitjou en preek saam met Hom deurgemaak het. Hulle was daar met Sy héél eerste wonderwerk toe Hy by die bruilof in Kana ‘n klomp klipkanne met water in die heerlikste wyn laat verander het. Hulle was almal by toe die verskriklike storm hulle skuitjie getref het en Jesus dit met ‘n enkele woordjie stilgemaak het. Hulle ken Jesus deur en deur! Of ken hulle Hom óóit werklik? Jesus het hulle drie jaar lank ‘n baie intensiewe opleiding gegee, want op hulle skouers sou die groot verantwoordelikheid van die leierskap van die kerk binnekort rus. Hulle was die manne wat die boodskap wat Jesus begin verkondig het sou moes gaan voortsit.

Jesus kyk die manne in die oë en dan deel Hy hulle mee wat vir Hom voorlê. Dis nou al die derde keer wat Hy hierdie skokkende nuus vir hulle gee! Hierdie slag praat Hy egter nie in raaisels nie. Hy draai g’n doekies om nie, maar spel dit uit dat Hy aan die heidene uitgelewer gaan word. In detail beskryf Jesus vir die manne presies wat gaan gebeur. Hy gaan bespot en beledig word en die mense gaan op Hom spoeg. Die manne se harte klop in hulle kele as Jesus vir hulle beskryf hoedat die soldate Hom gaan gésel en dan na al die marteling gaan hulle Hom doodmaak!

Ek dink die manne wou hulle ore toedruk sodat hulle nie verder hoef te luister na hierdie gru-verhaal nie. Hoe kan mense so verskriklik wreed wees teenoor Iemand wat nooit enige mens kwaad aangedoen het nie? Hoe kan hulle Hom wou gésel as Hy dan nooit enige sonde gedoen het nie? Wat het Hy dan verkeerd gedoen? Jesus verduidelik dat dit alles geskrywe staan in die boeke van die profete. Alles is reeds baie lank terug in fyn detail beskryf deur die boodskappers van God. Nou gaan al die profesieë wat in die Woord opgeteken is, woord-vir-woord bewaarheid word.

Maar Jesus vertel hulle nie alleen van Sy dood nie. Hy gee ook die wonderlike nuus dat Hy ‘n skamele drie dae na al hierdie dinge weer uit die dood sal opstaan. Ek dink nie die manne het eers hierdie sinnetjie gehoor nie! Hulle gemoedere was só vertroebel deur die ontstellende gedagtes van hulle Meester se lyding en dood, dat die vooruitsig van Sy opstanding gladnie eers hulle ore bereik het nie.

Hoe tragies dat na tweeduisend jaar, die nuus van Jesus se opstanding nog steeds nie sommige gelowiges se ore bereik het nie! ‘n Paar jaar gelede het dit weereens weergalm in die gange van die teoloë waar hulle gestry het oor Jesus se opstanding. “Hy het nie liggaamlik opgestaan nie!” wou ‘n paar geleerde manne beweer. “Hy het slegs geestelik opgestaan, en die dissipels het dit in ‘n geestelike manier in hulle harte ondervind!”

Dit is nie wat my Bybel leer nie! My Bybel sê dit baie helder en duidelik dat Jesus ‘n fisiese liggaam gehad het, een waar Thomas sy vingers in die spykergate in Jesus se hande kon steek. Hy het selfs saam met die dissipels op die strand vis gebraai en geëet.

Ons staar ons dikwels so blind teen die “finaliteit” van die dood, dat ons nie die werklikheid daarvan wil of kan raaksien nie. Die dood is slegs finaal as die persoon se naam nie in die boek van die lewe geskryf is nie. Jesus het egter vir elke gelowige die deur oopgemaak na die ewige lewe. Die dood is nou slegs die deurgang na die heerlikheid van ‘n lewe - ‘n perfekte lewe saam met Jesus! Oom Ted het met groot verwagting en opgewondenheid uitgesien na daardie wonderlike dag!

Ongelukkig is dit baie swaar vir diegene wat agterbly en nog moet wag. Ja, ons mag maar bedroef wees en ons mag maar huil wanneer ‘n geliefde daardie paadjie afstap. Die eensaamheid en verlange na jou maat van baie jare maak jou bedroef. Maar die wonderlike wete dat julle wél eendag sal ontmoet, kan nie anders as om ‘n wonderlike verwagting en vreugde vir jou te gee nie.

Gebed:

Here Jesus, dankie dat U ons voorgegaan het en plek berei het vir ons wonderlike lewe na die dood.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026