Titus 3:1-7
Paulus se brief is spesifiek gerig aan Titus. Dit raak egter ook die gemeente in Kreta, en dit is steeds ewe relevant vandag vir ons in Suid-Afrika of waar jy jou ookal mag bevind! In hierdie brief raak hy verskeie punte aan oor die Christelike lewe. In hierdie gedeelte raak hy ‘n baie belangrike punt aan, naamlik jou gedrag in die samelewing.
Elke gelowige moet baie deeglik onthou dat ons nie afgesonderd lewe nie maar dat ons deel is van ‘n samelewing waar ek en jy ‘n instrument in God se hand kan wees om diegene rondom ons tot geloof te lei. Blykbaar het sommige gelowiges op Kreta hulle egter totaal uit die samelewing onttrek!
Gelowiges se grootste kopseer, is die liewe owerheid wat oor ons aangestel is. Dink jy net daaraan, dan raak jy klaar warm onder die kraag! Ja, daar sit wel ‘n handjievol gelowiges in ons parlement, maar die res is uitgesproke ongelowiges. Daar word soms selfs Sangomas gebruik om die parlement te "reinig"!
Die vraag is, wat ek moet doen omtrent daardie gesag? Moet ek dit maar gelate aanvaar? “Inderdaad!” sê Paulus. Hy beklemtoon dit in vers 1 nadruklik vir Titus en die gelowiges: “Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees!” Boonop moet hulle aan hierdie gesag gehoorsaam wees. Dis harde woorde! Veral as ons besef dat Kreta se regering dalk nog meer korrup was as ons eie! Die feit is dat onderdanigheid aan God ook onderdanigheid aan die owerhede insluit. Verlede week het ons gesien dat Paulus in Romeine 13:1-7 skryf dat daar geen gesag is wat nie van God kom nie! Dit is om hierdie rede dat ons ons nie alleen moet onderwerp aan die gesag nie, maar selfs ons positiewe samewerking moet gee om alles te doen wat goed is (Titus 3:1). Dit beteken natuurlik nie dat ons kan meedoen aan die onheilighede nie, maar dat ons só sal lewe en optree dat selfs ‘n nie-Christelike owerheid sou wens dat al sy onderdane Christene was!
Wat egter vir die regering geld, geld ook vir ander mense. In vers twee sê Paulus dat ons vriendelikheid en ware sagmoedigheid moet betoon aan alle mense. Wie is hierdie “almal?” In Titus se geval is dit die berugte Kretensers, dieselfde “leuenaars, slegte ondiere en lui vrate” waarvan hy in hoofstuk 1 skryf.
Raak dit nie dalk nou ‘n bietjie dik vir ‘n daalder nie? Hoe kan daar van my verwag word om nog steeds met ‘n soet glimlaggie op my gesig op te tree teenoor ‘n spul skurke? ‘n Mens se natuurlike reaksie is om sulke mense ten alle koste te vermy en niks met hulle te doene te hê nie. Onthou: Jesus het die voorbeeld kom stel toe hy saam met ‘n spul skurke gaan partytjie hou het! Ter wille van die verkondiging van God se Evangelie van genade, moet ons júís moeite doen om teenoor hierdie hopeloos-verlore mense op te tree soos God van ons vra.
Maklik is dit baie beslis nie! Christenskap is definitief nie vir sissies nie! Dit beteken immers dat as hulle van jou kwaadpraat, dat jy nie sal terugkap nie maar jou kleinserigheid in jou sak sal steek. Dit beteken ook dat jy ‘n situasie wat op ‘n rusie kan uitloop sal probeer ontlont. Van jou eie belang en eer moet jy liewers maar vergeet, nes Jesus gedoen het. Ons moet onvoorwaardelik bereid wees om ander mense se belange voorop te stel. Op hierdie manier vertoon jy die beeld van Christus in ‘n verrotte samelewing. So kan jy help om God se genade op ‘n geloofwaardige manier sigbaar te maak vir mense wat dit baie dringend nodig het. Inderdaad kan jy op hierdie wyse meehelp om die siek samelewing te genees.
Ek en jy moet deeglik besef dat ons nie durf hoogmoedig wees teenoor die vrot samelewing nie, en ons durf ons nie daaraan onttrek nie, want ons was ook eenmaal daar! Paulus skryf in vers 3: “Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Dis slegs God se groot genade wat ons hieruit gered het! Die feit is dat dit nie ons eie goeie werke of eie toedoen is dat ons die saligheid gekry het nie, maar dat dit slegs God se groot genade is wat ons hieruit kon red!
Nou kom ons by die kernboodskap van die Titusbrief, naamlik dat die goedheid en liefde van God aan mense moet verskyn (vers 4). As ons wil help met die geestelike opbou van Suid-Afrika, moet ons as gelowiges nie net heeltyd kritiseer en die foute uitwys nie, maar ons hooftaak is om mense te konfronteer met God se goedheid, liefde en genade. God het ons geroep om met sy Woord en met ons lewens, ongelowiges te oortuig van God se goedheid.
Drie dinge moet ons gedurigdeur motiveer vir so ‘n lewe: ‘n opregte jammerte in jou hart vir die lot van die gemeenskap wat verslaaf is aan hulle eie begeertes, en terselfdertyd die besef van die absolute onverdiende genade van jou eie verlossing, asook die besef dat hierdie selfde genade die enigste redding is vir die verlorenes van ons samelewing!
Gebed:
Here, leer my asseblief om U genade elke dag op so ‘n wyse uit te leef teenoor ander mense dat hulle Jesus se wonderbare liefde in my kan sien!