Ek en my Samelewing

12 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ek en my Samelewing

Titus 3:1-7

Video

Audio

Titus is ‘n jong predikant op die eiland Kreta, waar daar vir hom vele uitdagings is, want die owerheid en samelewing is uiters korrup. Paulus besef baie goed hoe moeilik dit vir Titus moet wees om in sulke omstandighede ‘n gemeente te moet hanteer, dus gee hy die jong man raad oor verskeie aspekte van die Christelike lewe. In hoofstuk 3 van sy brief raak hy ‘n baie belangrike saak aan, ‘n gelowige se gedrag in so ‘n korrupte samelewing. Elke gelowige moet deeglik besef dat ons nie afgesonderd lewe nie maar dat ons deel is van ‘n samelewing waar ons instrumente in God se hand kan wees om diegene rondom ons tot geloof te lei. Sommige gelowiges op Kreta het hulle egter totaal uit die samelewing onttrek!

Vandag is gelowiges se een groot kopseer die owerheid wat oor ons aangestel is. Dink jy net daaraan, dan raak jy klaar warm onder die boordjie! Ja, daar sit wel ‘n handjievol gelowiges in ons parlement, maar die res is uitgesproke ongelowiges. Daar word soms selfs Sangomas gebruik om die parlement te "reinig"!

Die vraag is, wat moet ek doen omtrent daardie gesag? Moet ek dit maar gelate aanvaar? “Inderdaad!” sê Paulus. Hy beklemtoon dit dat Titus die gelowiges “nadruklik” daaraan moet herinner dat hulle hulleself aan die owerheid en gesag moet onderwerp. Boonop moet hulle daaraan gehoorsaam wees! Dit is harde woorde hierdie, veral as ons besef dat Kreta se regering dalk nog meer korrup was as ons eie! Die feit is dat onderdanigheid aan God ook onderdanigheid aan die owerhede insluit. In Romeine 13 skryf Paulus dat alle gesag van God kom! Daarom moet ek my nie alleen aan die gesag onderwerp nie, maar ek moet selfs my positiewe samewerking gee deur alles te doen wat goed is (Titus 3:1). Dit beteken natuurlik nie dat ek kan meedoen aan die onheilighede nie, maar ek moet so lewe en optree dat selfs ‘n heidense owerheid sou wens dat al sy onderdane Christen-gelowiges is.

Maar Paulus gaan verder as net die regering, ons moet inskiklik en altyd bedagsaam wees teenoor ALMAL. Wie is hierdie “almal?” In Titus se geval is dit die berugte Kretense, ‘n spul leuenaars, dronkaards, geweldenaars en selfsugtige luiaards! Paulus skryf vroeër in die Titus brief van hulle.

Nou wonder jy seker hoe daar van jou verwag kan word om nog steeds met ‘n soet glimlaggie op jou gesig op te tree teenoor ‘n spul skurke? Om steeds lief te wees vir hulle? Ons natuurlike reaksie is om sulke mense ten alle koste te vermy en niks met hulle te doene te hê nie. Jesus het vir ons kom wys hoe liefde werk, toe hy saam met ‘n spul skurke gaan partytjie hou het. Die Here vra van ons om juis Jesus se liefde te vertoon deur moeite te doen om liefdevol op te tree teenoor hierdie hopeloos-verlore mense. Dit is wat liefde beteken!

Maklik is dit baie beslis nie! Dit beteken immers dat as hulle van jou kwaadpraat, dat jy nie sal terugkap nie, maar jou kleinserigheid in jou sak sal steek. Dit beteken ook dat jy ‘n situasie wat op rusie kan uitloop sal probeer ontlont of vermy. Van jou eie belang en eer moet jy liewers maar vergeet, nes Jesus gedoen het. Ons moet onvoorwaardelik bereid wees om in liefde ander mense se belange voorop te stel. Op hierdie manier vertoon jy die beeld van Christus in ‘n verrotte samelewing. So kan jy help om God se liefde en genade op ‘n geloofwaardige manier sigbaar te maak vir mense wat dit dringend nodig het. Inderdaad kan jy op hierdie wyse jou liefde uitleef deur mee te help om die siek samelewing te genees.

Ons moet deeglik besef dat ons nie durf hoogmoedig wees teenoor die vrot samelewing nie, en ons durf ons nie daaraan onttrek nie, want as ek terugdink aan my eie lewe, dan besef ek dat ek dalk ook eenmaal daar was, en dat God uit Sy groot genade vir my daaruit kom red het. Ek was eenmaal net so haatlik soos die mense op wie ek nou wil neersien. Die feit is dat ek nie die saligheid gekry het deur my eie toedoen nie, maar dat dit slegs God is wat my hieruit kon red.

Nou kom die kernboodskap van die Titusbrief in vers 4, dat die goedheid en liefde van God aan mense moet verskyn. As ons wil help met die geestelike opbou van Suid-Afrika, moet ons gelowiges nie net heeltyd kritiseer en die foute uitwys nie, maar ons hooftaak is om mense te konfronteer met God se goedheid en liefde. God het ons geroep om met sy Woord en met óns lewens ongelowiges te oortuig van God se goedheid.

Twee dinge moet my gedurigdeur motiveer vir so ‘n lewe, ‘n opregte jammerte in my hart vir die lot van die gemeenskap wat verslaaf is aan hulle eie begeertes, en terselfdertyd die besef van die absolute onverdiende genade van my eie verlossing, en die besef dat hierdie genade die enigste redding is vir die verlorenes van ons samelewing.

Gebed:

Here, leer my asseblief om U genade elke dag uit te leef teenoor ander mense op so ‘n wyse dat hulle Jesus se wonderbare liefde in my kan sien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026