Eindtye

16 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eindtye

Lukas 21:7-19

VIDEO OUDIO

Die jaar 2000 was vir baie mense ‘n skrikwekkende jaar. Terwyl die skares die nuwe jaar met asemrowende vuurwerke, sjampanje en groot gejuig tegemoet gegaan het, was daar ander wat in vrees en bewing gesit en wag het op die einde van die wêreld. Profete – eintlik is hulle eerder doemprofete en vals profete - het aangekondig dat die laaste dae aangebreek het, en dat die einde in sig was. Nuwe jaar 2000 het gekom en nuwe jaar 2000 het gegaan, en so die ganse jaar, en steeds het die wêreld vrolik (effens mank) voortgehuppel!

Hierdie was nie die eerste keer dat mense sit en wag het vir die einde om aan te breek nie. As ons maar net dink aan die talle geloofsgroepe wat oor die afgelope klompie jare soos paddastoele opgeskiet het, waar die groeplede in totale afsondering gesit en gewag het vir die einde. Ja, in sommige gevalle het dit tragies geëindig met ‘n massa selfmoord, as hulle profeet of leier begin besef het dat sy berekeninge so ‘n effens skeef was.

Jesus waarsku sy volgelinge oor hierdie soort van ding. Hy verduidelik dat daar allerhande soorte tekens gaan wees, en dat mense gaan dink dat dit aandui dat die einde op hande is. Hy waarsku ook dat daar vals profete gaan wees wat allerhande uitsprake maak oor die einde. Maar wanneer hulle oorloë, hongersnood, epidemies en aardbewings sien en dit lyk of die einde aangebreek het, moet hulle nie beangs raak nie. Inderdaad sal die einde van die wêreld voorafgegaan word deur sulke dinge! Dit is egter alles slegs aanduidings van God se plan vir die laaste dae, maar dit sê nog nie dat die einde direk op hande is nie!

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: sou dit vir jou soveel anders wees om die einde van die wêreld te beleef as om byvoorbeeld in ‘n motorongeluk of met ‘n hartaanval om te kom? Op die ou end kom dit amper op dieselfde neer. Die feit is dat wanneer dit gebeur, dan het jy ‘n ontmoeting met Jesus. Eintlik oorvereenvoudig ek dit natuurlik baie, want Jesus se wederkoms sal soveel groter wees, en die wonder van daardie dag sal nuwejaar van 2000 na ‘n kinderpartytjie laat lyk. Maar dit sal natuurlik ook soveel skrikwekkender wees vir diegene wat nie gereed is nie!

Die feit is dat ons moet lewe asof die wederkoms vandag enige oomblik gaan plaasvind, maar beplan asof dit nog ‘n duisend jaar ver is. Die vraag is of jy gereed is om Jesus te ontmoet as dit sou gebeur dat die hemele vandag sou oopskeur en Hy vandag op die wolke verskyn?

Dan verander Jesus die onderwerp, en Hy sê vir sy volgelinge dat voordat hierdie dinge gebeur, daar eers ‘n groot vervolging sou wees. Hulle sou gearresteer word en opgesluit word in tronke. Hulle sou voor konings en goewerneurs verskyn bloot omdat hulle volgelinge van Jesus is. Maar dan sê Jesus dat Hy hulle persoonlik sal bystaan en hulle die wysheid gee sodat so ‘n verleentheid in ‘n geleentheid omskep kan word. Dit sal hulle die geleentheid gee om te kan getuig teenoor mense wat andersins totaal onbereikbaar sou wees vir die Evangelie.

As ons so ‘n bietjie aanblaai in die geskiedenisbladsye van die Bybel, dan sien ons vir Petrus wat in die hof staan en voor die Joodse Raad sy getuienis lewer. Nee, hulle wou dit nie hoor nie, maar omdat hulle hom voor die hof gedaag het, was hulle genoodsaak om maar te luister. Ons sien vir Paulus waar hy telkemale getuig het, dikwels voor die hoogste gesag terwyl hy ‘n gevangene was. Soms is hy selfs teruggeroep sodat die heerser meer kon hoor. Paulus het sy jare van gevangenskap uitgebuit en elke geleentheid met albei hande aangegryp. Die briewe wat hy geskryf het uit die tronk was van onskatbare waarde, en selfs vandag, tweeduisend jaar later, lees miljoene mense daagliks uit sy wonderlike briewe vir vertroosting, lering en stigting.

Vervolging van Christene het nie opgehou met Paulus en Petrus nie. Dit gaan vandag steeds voort. Ons is in ‘n baie bevoorregte posisie om vandag in Suid-Afrika te kan bly waar ons nog vryelik ons geloof kan uitleef. In die meeste Moslem lande is dit ‘n totaal ander storie en dikwels sypel die gru-verhale uit van die wrede vervolging van Christene. Steeds hoor ons van gelowiges wat daar doen wat Jesus van sy volgelinge gevra het en hulle maak gebruik van hierdie geleenthede om te getuig van Jesus. Die organisasie Geopende Deure, wat baie nou betrokke is by gelowiges wat vervolg word, vertel aangrypende verhale van hoe Christene tydens die mees afgryslike vervolging steeds staande bly en vryelik getuig van Jesus. Waar kry hulle die krag vandaan om dit te kan doen? Die antwoord is eenvoudig: Jesus het in Mat. 28 beloof dat Hy tot aan die einde van die dae met ons sal wees. Maar dan is daar ook die Heilige Gees - die Een wat ons wysheid en krag gee wanneer ons dit die nodigste het. Vetrou op Hom!

Gebed:

Dankie Here, dat ek kan weet waar my krag vandaan kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026