Jesaja 19
“Die Here ry op 'n vinnige wolk, Hy gaan na Egipte toe. Egipte se gode is bang vir Hom, die Egiptenaars se harte verstyf van angs.”
Met hierdie aangrypende gedig begin Jesaja hoofstuk 19. En soos jy sékerlik agtergekom het, handel hierdie hoofstuk oor God se oordeel oor die magtige Egipte.
Daar was drie groot magte in Jesaja se tyd wat die wêreldpolitiek oorheers het, Assirië, Babilonië en Egipte. Van die eerste twee het ons nou al baie gehoor, maar daar is nog min gesê oor hierdie magtige volk, Egipte met hulle ontsagwekkende gode, piramiedes en asemrowende bouwerke.
Egipte het 'n roemryke geskiedenis wat ver in die verlede terugdateer. Volgens Wikipedia is die oudste mensgemaakte struktuur wat in Egipte gevind is sowat 100’000 jaar oud. Ek kou maar moeilik aan daardie een! Maar hulle beskawing dateer terug tot sowat 3150vC. Verskeie Bybelfigure het met hulle te doene gekry, Abraham, Jakob, Josef, Moses. Selfs Jesus het as baba vir 'n tyd lank in Egipte gebly toe Josef en Maria gevlug het vir Herodus die Grote.
Die Egiptenare dink dat hulle onaantasbaar sterk is. Dit was eintlik nog ál die jare so! Maar God het vir hulle 'n verrassing: “Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van 'n harde regeerder, 'n streng koning sal oor hulle heers, sê die Here die Almagtige, die Koning.” (v. 4). Dit sal ook niks eers help as hulle daardie formidabele gode van hulle raadpleeg nie. Die Here gaan hulle aan 'n harde regeerder oorgee!
Die lewensaar van Egipte is natuurlik daardie magtige rivier, die Nyl. Hulle hele ekonomie en lewensbestaan was, en is steeds vandag afhanklik van die Nylrivier. Vir hulle is die Nyl 'n god! Nou sê die Here vir hulle dat daardie lewensbron van hulle gaan wegdroog. Dit sou beteken dat lewe in Egipte totaal onmoontlik gaan word.
Jesaja spel dit vir hulle uit: Die kanale sal stink, riete en waterplante verdroog, landerye verdwyn, die visbedryf sal tot niet gaan, en die weefbedryf sal vernietig wees sonder flas. Loonarbeiders gaan sonder werk sit. Dus gaan die hele samelewing in duie stort!
Egipte was nog altyd beroemd vir sy baie slim raadgewers. Hulle gaan egter met die hande in die hare sit, want hulle wysheid klink na dwaasheid. Met al hulle slim praatjies lei hulle almal net op 'n dwaalspoor. Hulle is stomgeslaan, sonder raad! Spottend vra Jesaja vir hulle: “Egipte, waar is jou wyse manne nou? Laat hulle jou tog vertel sodat jy kan weet wat die Here die Almagtige teen Egipte besluit het.” (v. 12).
Ja, die magtige Egipte sal bewe soos 'n riet wanneer hulle te doen kry met 'n God wat baie magtiger is as hulle gode. “Egipte sal bewe van angs wanneer hulle sien dat die Here die Almagtige sy hand teen hulle optel om hulle te straf. Juda sal vir Egipte 'n verskrikking wees.” (v. 16,17)
Eintlik is dit lagwekkend! Daardie piepklein landjie, Juda – en die magtige Egipte is vir hom bang? Ja, die hulpelose staatjie van Juda word meteens vir die Egiptenare 'n verskrikking!
Op die dag wanneer die Here ingryp in die wêreldgeskiedenis, sal daar 'n totale ommekeer wees in Egipte. Die hele doel waarmee die Here ingryp, gaan nie alleen maar om Egipte te straf nie, maar dit gaan terselfdertyd ook oor genesing of verlossing vir dié van hulle wat hulle tot God bekeer. Ons moet baie goed onthou: die Here is nie net God vir Israel nie, Hy is God vir die ganse wêreld. Selfs ook vir Egipte! Én Assirië!
Hoe kan ons dan óóit hierdie twee volke in een asem noem? Hulle was dan aartsvyande! Maar God se ingrype loop uit op 'n universele redding. Selfs hierdie twee sal hulle vyandigheid teen mekaar staak. Daar sal letterlik “'n grootpad van Egipte af tot by Assirië loop.” (v. 23). Hulle sal dus saam die Here dien. Maar dis nog nie al nie: óók Israel sal toetree tot hierdie wêreldgemeenskap, en saam sal hierdie drie volke “vir die aarde tot 'n seën wees.” (v. 24). 'n Asemrowende visie!
Ons moet hierdie uitsprake van Jesaja sien as 'n wonderlike visie van die wêreld wat tot geloof kom in die Here. 'n Geloofsgemeenskap het 'n reuse oortuigingsvermoë, en ons durf dit nie vergeet nie.
As ons luister na hierdie ongelooflike uitspraak van Jesaja, dan sien ons iets daarvan wat “gelooflik” geword het, baie jare later toe die bekering van die Egiptenare en Noord Afrika tot die Christendom in die eerste eeu na Christus dalk 'n vervulling was van Jesaja se uitspraak.
Selfs vandag nog is daar in Egipte 'n sterk Christelike kerk, selfs te midde van die oorheersende Moslem gemeenskap en regering. Daar gebeur wonderlike dinge in Egipte!
Gebed:
Here, U is groot en almagtig! U laat die absoluut onmoontlike gebeur. Ek loof en prys U daarvoor!