Egipte, Hier Kom Ons!

12 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Egipte, Hier Kom Ons!

Genesis 46

Jakob (oftewel Israel) is so opgewonde soos ‘n klein seuntjie op pad Margate toe. “Josef leef!” Hy kan net nie ophou dans en sing nie. “My seun leef sowaar. Juda, jy sê dat Josef oor die hele Egipte heers?” Jakob kan dit nog nie mooi kleinkry nie. “Hoe is dit op dees aarde moontlik?”

Dan moet Juda maar weer verduidelik van Josef en sy drome, en hoe hy die Farao se droom uitgelê het. “En vertel my weer ’n slag van daardie lelike poets wat Josef julle gebak het.” En Juda moet vertel van hoe hulle laag voor Josef moes buig, en van sy strak gesig wat absoluut niks verraai het nie. En dan kraai die ou man van die lag, en die trane loop oor sy wange van pure lekkerkry. “Hy het julle darem lekker gevang né?” En dan onthou Jakob van die drome wat Josef gehad het voor hy verdwyn het: eers die een waar die gerwe voor syne gebuig het, en die ander een wat hulle almal so kwaad gemaak het, toe die son en maan en sterre voor hom moes buig. “Nou maak alles sin!” dink die ou man. “God het twintig jaar gelede al vir Josef laat verstaan dat almal, selfs sy eie familie voor hom sou buig! Nou word alles duidelik!”

Op Jakob se werf is daar ‘n baie groot gewerskaf. Almal hol rond soos ‘n klomp mal hoenders, want hierdie is nie sommer maar net ‘n trek nie, hierdie is dié Groot Trek! Alles wat hulle deur die jare bymekaar gemaak het, moet saam, want vir die volgende vyf jaar gaan hulle in Egipte bly. (Het hulle maar geweet dat daardie vyf jaar uiteindelik ‘n volle vierhonderd jaar sou word!)

Kyk, om Jakob en sy gesinnetjie te laat trek, is nou nie juis ‘n geringe takie nie. Vroeër jare was dit nog redelik maklik, maar toé was hulle nog net ‘n handjievol. Maar nou het Abraham se nasate al aangegroei tot ‘n volle sewentig (waarvan drie alreeds in Egipte is). En dan is daar nog nie eers begin tel aan sy kinders en kleinkinders se vrouens nie, en wat nog van al die slawe. As almal bymekaar getel word, is daar ‘n paar honderd van hulle. Maar dit is nie waar die logistieke probleme ophou nie. Hulle veekuddes loop die hele Kanaän vol. Daar is letterlik derduisende skape, bokke en beeste, nou wel almal uitgeteer van die droogte, maar hulle is steeds daar.

Dan, een nag gebeur die wonderlike weer met Jakob: In ‘n visioen kom die Here na hom: “Ek is die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou na Egipte toe.” Nou weet Jakob dat hy die Here se wil doen, en nou kan hy met ‘n geruste hart vertrek. Min het Jakob geweet hoe geweldig waar die Here se woord daardie nag aan hom was. Die Here het belowe om Jakob ‘n groot nasie te maak in Egipte. Jakob se sewentig nasate sou aangroei tot meer as drie miljoen mense teen die tyd dat hulle weer Egipte sou verlaat.

Jakob was sy hele lewe lank gewoond om te voet te gaan waar hy wou kom. Maar hierdie slag ry hulle in styl. Josef het spesiaal gereël dat daar waens gestuur is om die vrouens en kinders te vervoer. Juda word vooruit gestuur om vir Josef te laat weet dat die groot trek begin het. Jakob is op pad! Wanneer Josef hierdie boodskap kry, besluit hy dat sy pa darem ‘n bietjie beter behandel moet word as om op ‘n gewone ou wa te ry. “Span my persoonlike wa in!” Nou word daar nie in die Bybel vir ons vertel hoe sy wa gelyk het nie, maar ek kan myself voorstel dat die tweede in bevel in Egipte darem ‘n baie grênd wa moes gehad het. Dit moes ten minste ‘n Rolls Royce gewees het, met lugreëling en sagte sitplekke en al die luukshede wat ‘n koninklike sou betaam!

As Josef se blink wa voor Jakob se tentdeur stop, kan Jakob dit eers nie glo nie. Almal vergaap hulle aan al die blink en goud en luukse. Dan tree Josef te voorskyn. Die klomp snak na hulle asems: ’n Egiptiese prins! Hy hardloop na sy pa toe en omhels hom. En die trane loop, want die blydskap was baie, baie groot. Vir twintig jaar was sy liefling-seun dood, en hier staan hy nou in lewende lywe voor hom. “Nou is ek tevrede,” snik Jakob dit uit. “Nou kan ek maar sterf, my seun is terug.”

En so vertrek Jakob en sy gevolg na Egipte. Jakob ry saam met Josef in sy luukse wa, en vir die eerste keer in sy lang, lang lewe sak hy weg in die donsige kussings van ‘n koninklike wa. “God is goed,” sing dit in hom. “God is groot, en Hy is almagtig!”

Alles het nou ‘n volle sirkel gekom - wel byna! Abraham se nasaat was ‘n groot en magtige heerser. Sy nageslag was besig om met astronomiese getalle te groei. Sy kleinseun was skatryk. Daar was nog net een ding wat moes gebeur: Sy nageslag moes die land Kanaän in besit neem. Maar daarvoor sou hulle nog vierhonderd jaar moes wag.

Ons verhaal is nou so byna op sy einde. Maar hierdie einde is eintlik maar net die begin, want hier in Egipte word die volk gevorm en dy hulle uit. En hier kry hulle uiteindelik die leier, Moses wat hulle sal lei om die beloofde land in besit te neem namens God.

Gebed:

Here, hierdie wonderlike geskiedenis van Abraham, Isak en Jakob het my net weereens verryk. Dankie dat U Woord elke keer so vars en nuut is wanneer ek dit lees, en elke keer tot my hart spreek, selfs deur die ou geskiedenis.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026