Eenmaal ‘n Christen, altyd ‘n Christen?

28 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Eenmaal ‘n Christen, altyd ‘n Christen?

Hebreërs  10:26-31

Kyk die Video

Daar heers ‘n angswekkende spanning in die kamp van die vryheidsvegters. Hoe het die regering uitgevind waar hulle wegkruip? Gisteraand is hulle uitmekaar geskiet, en hulle moes vlug vir hulle lewens. Vir ure al is die leiers besig met ‘n beraad om die misterie uit te pluis. Stadigaan begin dinge egter duidelik word. “Fernando!” bulder die leier. Fernando krimp ineen. Hy spring op en probeer weghardloop, want hy wéét dat hy skuldig is. Maar dis reeds te laat. Daar was lankal iets baie snaaks omtrent hierdie man: kort-kort het hy net verdwyn. Nou weet almal: Fernando is 'n verraaier! Hy word hardhandig gegryp. Sy angsgille weerklink as hulle hom skop en slaan - hy is immers verantwoordelik vir die dood van etlike van hulle makkers tydens die vorige aand se skermutseling! Die vuurpeleton is nou sy voorland!

Verskriklike storie! Verskriklike einde vir ‘n arme mens! Maar hierdie man het presies geweet wat hy doen toe hy sy maats, sy sielsgenote verraai het. Die ideologie waarin hy geglo het, het vir hom waardeloos geword, en hy het dit weggegooi om homself met die vyand te vereenselwig.

Vir die vroeë kerk was dit in baie gevalle ‘n oorlewingstryd. Christene is deur die wrede Nero uitgeroei. Hulle moes ‘n ondergrondse bestaan voer om te probeer verhoed dat iemand uitvind dat hulle Christene is. Geheime tekens, soos die vis is gebruik om mekaar te herken as mede-gelowiges. Wanneer iemand uit die heidendom tot bekering kom, plaas hy eintlik sy eie lewe op die spel. Waarom het mense soveel gevare en onderdrukking getrotseer om die Christelike geloof aan te neem? O, die voordele was natuurlik oneindig groot! Om ‘n kind van God te wees beteken dat jy verlos is van die mag van sonde. Dit beteken die ewige lewe en dat jy vir Jesus ken. Dit beteken …….. genade!

Wanneer ‘n gelowige egter die dag besluit dat hy nie meer kan aangaan met hierdie geloof-storie nie, dan is dit ‘n verskriklike besluit om te maak. Skielik word hy nou ‘n gevaar vir al die gelowiges wat hy leer ken het, want as hy terugkeer na die heidendom, dan kan hy nie anders as om sy lojaliteit aan die heidense regering te bewys nie. Nou het hy ‘n verraaier geword wat enige gelowige se marteling of dood kan beteken. Teen hierdie agtergrond moet ons Hebreërs 10 lees. 

Die gemeente was van mekaar afhanklik vir oorlewing, en enige afvalligheid was ‘n saak van lewe en dood. As ons dan lees dat afvalligheid so verskriklik swaar gestraf sal word, moet ons besef dat afvalligheid ‘n baie ernstige saak is.

Maar wat sê Hebreërs vandag hier vir my en jou? Hy stel dit baie duidelik dat ‘n persoon wat afvallig geword het baie swaar gestraf sal word deur God. “Maar dit rym nie!” wil jy uitroep, “God is dan genadig! God is liefde! Wat het daarvan geword?”

Wat beteken dit om afvallig te raak? Sannie was ‘n verlore siel, vasgevang in die wêreld se sondes. Op ‘n dag kom sy kragdadig tot bekering. Haar lewe is brandend vir Jesus, en sy neem deel aan al die gemeente aktiwiteite. Op ‘n dag kry sy ‘n teleurstelling wanneer dinge nie gebeur soos sy dit graag wou hê nie. Sy is kwaad, en bly weg van kerk af. Weldra kom sy al minder en minder by die gemeente uit, en uiteindelik verval sy weer in ‘n lewe van sonde. As iemand met haar praat oor haar geloof, kry die persoon ‘n afjak. Haar vertroue in Jesus het sy totaal verloor. Sy word ‘n verraaier wat weer by die vyand aangesluit het. Onmoontlik? Nee, beslis nie! Ek het dit al dikwels sien gebeur.

Die vraag is: wat gebeur met so ‘n persoon? Ek het dan gedink dat as jy eenmaal ‘n Christen is, dat jy altyd ‘n Christen is! Wat nou? Wees gewaarsku: jy kán jou geloof verloor as jy nie volhard nie. Die Bybel leer ons in baie duidelike taal dat God wél oneindig genadig is en red, maar dat die straf vir ongeloof verskriklik is. “Die loon wat die sonde gee is die dood,” lees ons in Rom. 6:23. Matt. 25:41 beskryf die straf as ‘n ewige vuur. “Daar sal hulle huil en op hulle tande kners,” sê Jesus in vers 30. Hierdie verskriklike oordeel en straf is nie alleen bedoel vir heidene en totale ongelowiges nie, maar ook vir ‘n gelowige wat weggedryf het van God af - wat verval het in sonde en sy geloof verloor en verloën het, soos met Judas Iskariot gebeur het.

As dit dalk jy is van wie jy vandag hier lees, kan ek jou vandag ook goeie nuus gee: daar is steeds genadetyd! “Al was julle sondes skarlakenrooi,” lees ons in Jes. 1:18, sal God steeds red en vergewe. God se genade is duisendmaal groter as Sy straf. Selfs Dawid en Paulus, altwee moordenaars, is totaal vergewe. Selfs al het jy totaal afgedwaal en Jesus verloën, staan Hy steeds daar en pleit by jou om terug te kom en weer God se kind te word. Wil jy nie vandag vir Hom “Ja” sê nie?

Gebed:

Here, ek kan so maklik in sonde verval en U verloor. Gee my asseblief volharding om staande te bly en krampagtig U hand vas te hou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026