Één met God

9 December, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Één met God

2 Petrus 1:4

VIDEO * OUDIO

‘n Klompie jare gelede besluit ‘n groepie van ons om deel te neem aan ‘n wildernis staptog deur die Umfolozi wildtuin. En só kom dit dat ons sestal vriende daardie oggend met dagbreek saam met twee wildbewaarders op die wal van die Wit Umfolozi staan. “Trek uit julle skoene,” word ons aangesê, want voordat ons die wildernis kan ingaan moet ons eers hierdie breë rivier deur, en die stof van die beskawing van ons voete afwas. Almal is opgewonde! Wat gaan ons daar anderkant aantref? Dit klets en gesels en babbel. Maar weldra raak dit stil as ons dieper die bos instap, en begin deel word van hierdie onbeskryflike verlatenheid. Dit is wildernisgebied, onaangeraak en verlate van enige ander mense en van die beskawing, maar tóg propvol van die natuur en sy wondere. Eers loop ons maar blindelings agter die wildbewaarder aan, maar soos die dag vorder leer ons om deel te word van die natuur. Die geur van bossies; die gevoel van grasse en blare teen jou vel; die briesie wat deur jou hare roer; die musikale klanke van voëls; die varsheid; die onbeskryflike mooi wat jou omring. So begin ons en die natuur saamsmelt tot een wese.

As ons later die oggend tromp-op teen ‘n nors renoster vasloop, en skaars durf asemhaal in sy reuse, grimmige teenwoordigheid, maak ons onsself klein agter ‘n dun boompie sodat hy ons nie kan sien nie. Dan besef jy dat jy nou wáárlik deel van die natuur geword het. Jy smelt so weg in die bos dat selfs die diere jou nie meer as mens herken nie.

Kennis van God is nie maar net inligting oor God nie, net soos kennis van die veld beslis nie alleen boekekennis is nie, maar ‘n praktiese belewenis daarvan, en ’n een-word daarmee. God deel ook nie net sekere feite oor Homself aan jou mee nie, maar Hy deel Homself met jou. Jy kry, met ander woorde deel van Sy natuur. Nee, natuurlik beteken dit nie dat jy God word, soos sommige mense wél glo nie. God behou Sy Goddelike persoon, maar Hy wil hê dat jy só deel van Sy natuur sal word dat jy in werklikheid soos Hy begin word.

Wat ’n geweldige gedagte! Dinge wat onmiddellik in jou gedagtes opkom is God se krag, deug, wysheid, heerlikheid, ewigheid en regverdigheid. Dan is daar verder Sy almag, liefde en goedheid. Jy kan in al hierdie wonderlike dinge deel! Deur God te ken, het jy alreeds begin om te deel in hierdie wonderlike gawes.

O, natuurlik is daar baie struikelblokke op hierdie pad na jou einddoel van volmaaktheid. Tydens ons stap in Umfolozi is ons tot stilstand geruk deur die geweerskote van wildstropers. Skielik het ons prentjie van ’n absoluut ongerepte natuur verander na een waar die bose sy wrede tande kom inslaan het. Ons moes maar net besef dat alles nie volmaak is nie, en dat daar bose magte is wat die balans in die natuur kom bederf!

Net soos die verderf in die wildernis ingesluip het, so is daar ook die liederlike verderf wat in die geestelike wêreld werksaam is. Dood, verganklikheid, tydelikheid, ontaarding en verrotting het deur die sonde deel van die lewe geword. Hierdie dinge is beslis nie ‘n beeld van die Vlekkelose God nie. Dit is veral begeertes wat alles kom bederf. Seker die belangrikste gebod wat God vir Moses gegee het, is dat jy nie mag begeer nie. Sondige begeertes is die grootste gif in die mens se gestel, want dit lei tot allerhande onheilighede. In die wildtuin is dit die begeerte na renosterhoring in Sjina saam met mense se begeerte na rykdom wat die manjifieke renoster laat sneuwel. In die geestelike lewe is dit ’n magdom van verkeerde begeertes wat daagliks ons lewe bedreig: rykdom, mag, die vleeslike, pornografie, dwelms, populariteit en nog baie meer. Al hierdie dinge staan tussen ons en die volmaakte lewe waar ons soos God kan wees. En die sidderende gedagte is dat hierdie dinge kan lei tot die uiteindelike geestelike dood!

Hoe kom ek daarvan weg? Deur heeldag my gedagtes daarop te fokus, en te dink aan maniere om dit te ontsnap? Nee, dit maak jou eerder ‘n slagoffer van die verkeerde dinge. In Umfolozi was die wildstropers wel vir ‘n kort rukkie ‘n besprekingspunt, maar toe konsentreer ons weer op die belangrike deel, om die ongerepte natuur in te drink en elke druppeltjie daarvan deel van ons te maak. Nét so is die antwoord om te ontvlug van jou verkeerde begeertes, om te fokus op jou kennis van Jesus Christus en om jou verhouding met Hom ten volle uit te leef. Drink die wonderlike gawes in wat Hy vir jou gegee het. Spits jou lewe toe op die mooi en positiewe dinge. Lees gerus weer hoe Paulus in Filippense 4:8 beklemtoon dat jy jou gedagtes op die positiewe moet rig. Hoe meer jy leef vir God, en hoe meer jy streef daarna om slegs die goeie dinge te doen, hoe minder sal daar plek wees vir die slegte begeertes in jou hart. God het jou ‘n roeping gegee: om te word soos Hy. Streef dit na met elke greintjie van jou krag.

Gebed:

Here, maak my al meer soos Uself. Heilige Gees, vul my hele lewe met U heiligheid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026