Dwang teenoor Vrye Wil

12 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dwang teenoor Vrye Wil

Filemon 8-14

VIDEO * OUDIO

Om ‘n steeks donkie te dwing om te doen wat jy wil hê hy moet doen, is ‘n bykans onbegonne taak. Anders as wat meeste mense dink, is ‘n donkie baie beslis nie ‘n dom dier nie, hy is seker die slimste van al die plaasdiere!

Pa het in sy kleintyd op so ’n slim donkie skooltoe gery. Daardie jare was daar nog nie skoolbusse nie, en hulle was maar brandarm. Soggens, wanneer dit tyd geword het om te vertrek skool toe, was die donkie net weg, soos in skoonveld-weg! En dan moes Pa eers loop soek vir die simpele dier. Hy het eenmaal die donkie uitgevang waar hy plat gelê het langs die doringdraad, besig om op sy sy onder die draad deur te seil om weg te kom! Dit het gewoonlik baie mooipraat gekos om hom weer in rat te kry om skooltoe te loop wanneer hy uiteindelik die donkie opgespoor het! Om hom te slaan of uit te skel oor sy verfoeilike daad, het net mooi niks gehelp nie, want dan was hy só steeks dat jy met hom absoluut niks kon uitgerig kry nie. Mooipraat was die geheime woordjie om hom te laat loop waar hy moes loop.

Maar Pa vertel dat hierdie “dom” dier presies geweet het watter dag van die week dit was, want elke Saterdagoggend nog voor dagbreek was hy daar by die huis, en dan het hy ongedurig gebalk vir ‘n happie lusern! Hy het natuurlik geweet dat daar Saterdae nie gewerk word nie! Pa se donkie was nie menssku nie, maar werksku. Die harde pad skooltoe elke oggend was nie lekker nie, want hy was gedwing om dit te doen.

Paulus het ‘n sekere aspek van hoe ‘n mens se brein werk, baie goed verstaan. Jy wil nie gedwing word om ‘n ding te doen nie, want dan raak jy nes Pa se steeks donkie, en jy bly weghol van jou verpligtinge af. Paulus het baie goed geweet dat as jy oorreed kan word om iets te doen uit jou eie vrye wil, dan word dit vir jou ‘n plesier of selfs ‘n passie, en dan is jy soos daardie donkie wat op Saterdae nie weghol nie maar knaend om die huis kuier.

‘n Predikant wat byvoorbeeld preek oor sonde en jou dreig met die hel en al wat ‘n straf is, boesem net vrees by mense in. Enkele mense sal na hom luister en uit blote vrees tot ander insigte kom. As die predikant egter ‘n inspirerende preek lewer oor dieselfde onderwerp, en die groot offer wat Jesus gebring het, en hoe duur Hy vir jou betaal het, dan raak hy jou hart aan. Sou hy jou dan uitdaag om uit eie vrye wil, uit dankbaarheid vir Jesus se werk van die sonde afstand te doen, dan raak dit ‘n plesier en selfs ‘n groot passie vir jou om weg te kom van die sonde af!

En dit is presies wat Paulus hier doen. Paulus het met baie groot gesag gepraat, en almal het geluister na wat hy gesê het. As Paulus dus vir Filemon sou beveel het om Onesimus terug te neem en hom mooi te behandel, sou Filemon dit heel waarskynlik gedoen het, maar slegs uit dwang omdat die groot sendeling, Paulus hom so beveel het. Daar sou nooit sprake kon wees van ‘n goeie verhouding tussen Filemon en Onesimus nie, want die stigma van slaaf wat gedros het sou maar altyd aan hom bly kleef het.

Paulus pleit egter eerder by Filemon om met nuwe oë na Onesimus te kyk. Hy word nie gedwing nie, maar Paulus vra hom of hy nie asseblieftog maar sal oorweeg om Onesimus terug te neem nie. Dan verduidelik Paulus dat Onesimus eens op ‘n tyd maar net ‘n slaaf was - nie eers ‘n baie goeie slaaf nie, want hy het gedros en hy was dus nutteloos. Maar nou is hy bereid om uit eie vrye wil terug te gaan na sy eertydse baas, hierdie keer as ‘n nuttige slaaf en boonop ‘n medegelowige!

As jy op jou gesagsposisie staatmaak om iemand anders te oorreed of selfs te dwing om iets te doen, misluk dit gewoonlik, al lyk die saak vir jou ook hóé reg. Dit mag dalk op die korttermyn werk, maar oor die langtermyn gaan dit misluk. Dwang maak mense skelm, want hulle kyk waar hulle agteraf jou wet kan omseil. Aan die ander kant help dit ook net so min om op iemand se “skuldige gewete” te speel om hom tot ander insigte te probeer beweeg. Om jou skuldig te laat voel oor ‘n saak, sal ook maar net vir ‘n kort tydjie werk, totdat jy geleer het om jou gewete te sus.

As jy egter die ander persoon kan oorreed dat jou standpunt klop met wat die Here vir ons wil hê, en hom motiveer om dit uit eie vrye wil te doen, dan gaan dit werk, want dan is dit nie meer jóú dwang nie maar sý eie passie wat hom die regte ding laat doen. Die geheim is dat jy die persoon só moet motiveer, dat hy sal uitsien daarna om dit te doen, en dat dit vir hom lekker sal wees. ‘n Voorbeeld is hierdie dagstukkies wat ek skryf: vir my is dit nie ‘n taak of werk nie, maar ‘n passie! Ek sien uit daarna om dit te doen, en dit is vir my lekker. Hier leef ek my geloof uit - uit eie vrye wil!

My pleidooi by jou, liewe leser, is dat jy ook ‘n passie sal ontwikkel om op jou eie terrein vir Jesus te werk - uit eie vrye wil, en nie omdat jy daartoe gedwing is nie. Bid oor die saak, en vra die Here om jou te wys wat jy vir Hom kan doen. En as jy die dag die antwoord het - doen dit met groot entoesiasme!

Gebed:

Here, maak asseblief ‘n passie in my wakker om vir U te werk, en wys my asseblief die regte pad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026