Dóén die Wet!

15 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dóén die Wet!

Romeine 2:12-29

VIDEO | OUDIO

Die afgelope twee dagstukkies het ‘n baie donker prentjie geskilder oor die gruwelike sondes wat dikwels in mense se lewens skuil en die ergste, dat dit alles tot die ewige verdoemenis lei. Vanoggend gaan Paulus voort en hy sleep ‘n ander aspek van die lewe nader, naamlik die wet. Inderdaad is hy steeds besig om die deure in die donker gang van jou sondige lewe toe te maak. In ’n huis waar ons ’n paar jaar gelede gewoon het, was daar ‘n kort gangetjie sonder ‘n enkele venster in. As jy al die deure in die gang toemaak, is dit pik-nag-swart-donker! Skrikwekkend! Nêrens kom daar ‘n sweempie van 'n ou ligkolletjie deur nie! Daar is absoluut géén uitkoms nie! As jy egter die ligskakelaar druk, dan is die gangetjie helder verlig. Paulus stuur af op die enigste uitweg uit die pikdonker katakombes van die ewige verderf - Jesus Christus se redding. Hy is die enigste Weg en die enigste Bron van Lig!

Vir die Jode is die wet die belangrikste en waarskynlik enigste manier waarop jy vir God aanvaarbaar kan wees. Daarom is dit vir 'n Jood sy heiligste besitting. Dit speel ‘n geweldige groot rol in sy lewe. Met elke Sabbat word die wet in die sinagoges gelees en die kinders moet groot gedeeltes daarvan uit hulle koppe uit leer ken. Volgens Paulus is die wet vir die Jood die samevatting van kennis en waarheid (vers 20). Enigiemand wat nie die wet het nie, is vir die Jood ‘n blinde mens! Alleen Jode met die wet kan sien! Die blote feit dat hulle die wet besit is alreeds vir die Jode ‘n waarborg van die regte verhouding met God.

Jy vra waarskynlik: “Haai foeitog! Hoe kan hulle dan so blind wees?

Maar nou gaan ek die bom laat bars! Presies dieselfde dwaalleer wat onder die Jode voorgekom het, kom vandag onder baie Christene voor. Baie mense is onder die wanindruk dat hulle katkisasie en belydenisaflegging hulle waarborg is van vryspraak. Nou is jy mos ‘n volwaardige kerklidmaat en jou lewe is klopdisselboom! Ander dink weer dat Bybelstudie jou in die hemel sal bring, of om moontlik elke Sondag kerk toe te gaan. Hierdie is almal baie mooi dinge en verséker is dit noodsaaklik vir ‘n sinvolle verhouding met God, maar dit is nie genoeg nie! “Kennis,” reken sommige mense. “Ek moet net genoeg kennis van die Woord opdoen, dan sal dit my ‘n plekkie in die hemel waarborg.

Paulus gee in vers 13 die absoluut onmoontlike en ondoenbare antwoord: “As jy doen wat die wet sê, sal jy vrygespreek word!” Met ander woorde, om net die wet te besit of deel van die "uitverkore volk van God" te wees, is nie genoeg nie. God vra dat jy die wet moet dóén! Nou hoor ek al hoe jy mor dat dit hééltemal te veel gevra is. Dis totaal onmoontlik!

Maar Paulus gaan nog ‘n stappie verder. Hy praat oor iets anders wat die Jode baie naby aan die hart lê, naamlik die besnydenis. Vir die Jode was die feit dat hulle besny was die teken dat hulle vir God gemerk is. ‘n Veeboer brandmerk sy beeste. Met ‘n rooiwarm yster wat gesmee is in die vorm van sy voorletters, brand hy ‘n merk in die bees se vel in sodat almal sal weet dat die bees aan hom behoort. Daardie merk gaan nooit weg nie. Net so is die besnydenis ‘n permanente merk wat vir jou sê dat daardie persoon ‘n Jood is en dus deel van God se volk. As jy die merk dra, kan jy nie verlore gaan nie!

Maar Paulus neem selfs dáárdie uiterlike sekerheid weg. Die lidmate van die gemeente in Rome moet gereed gemaak word om die ware boodskap van verlossing deur Jesus Christus alléén te ontvang. Daarom moet hy dóódseker maak dat hulle móói verstaan dat géén uiterlike handeling vir jou die saligheid kan gee nie. In vandag se terme kan ons sê dat al die mooi dinge soos kerktradisies, velkleur, kleredrag, afstamming ensovoorts absoluut niks beteken vir jou redding nie! Dit is vir baie mense slegs ‘n uiterlike bron van geloofsekerheid. Vir sommige mense kan hierdie mooi dinge selfs afgodery wees. Verskriklik!

Wat wél waarde het, volgens Paulus, is "besnydenis van die hart." Hierdie uitdrukking beteken dat jy moet breek met die natuurlike neiging tot selfsug en sonde en dat jy God moet dien in volledige toewyding. Slegs die Heilige Gees kan jou hierdie soort “besnydenis” gee.

Die vraag is nou oor die doop (wat in die plek van die besnydenis gekom het). Beteken dit dat, as jy gedoop is dan is jy gered? En wat van iemand wat nooit gedoop is nie en nogtans Godvresend lewe? Staan so ’n persoon ooit die kans om gered te word? Of is hy nie dalk beter daaraan toe as die persoon wat wél gedoop is en onverskillig lewe nie? Nou krap ek verseker waar dit nie jeuk nie! En dalk is ek besig om met hierdie klip-in-die-bos vraag vir myself ‘n byenes oop te krap. Maar kom ons laat liewer hierdie netelige vrae oorstaan vir moreoggend!

Gebed:

Here, al die dinge wat ek gedoen het om in U guns te kom, is tevergeefs en ‘n gejaag na wind. Ek besef dat U offer aan die kruis alléén my kan red. Dankie daarvoor, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026