Jakobus 2:1-13
Die deursnee besoeker aan die Kruger Wildtuin het net een ding in gedagte: “Ons wil leeus sien!” Daai skrikwekkende katte is immers reusagtig-groot en sterk en boonop die koning van die diere. En as hy brul ….. sjoe! Sy ontsagwekkende stem maak jou bene jellie. Hy is die jagter by uitstek, en niks en niemand staan in sy pad nie. Dus, as jy ry, is jou verwagting om daardie formidabele jagter van alle jagters teë te kom.
Dis vroegoggend in Oom Paul se Wille Krugertuin. Die yskoue sonnetjie steek sy kop so skaam-skaam tussen die doringbome deur. In die motor borrel ons van opgewondenheid: gaan ons vandag vir Vuilbaard te siene kry? Ons draai af in ‘n grondpaadjie, want daar het ons dalk ‘n groter kans om die ou grote te kry. Skielik merk ons ‘n beweging in die vaal gras. Opgewonde soek ons die oorsprong daarvan. En dan die teleurstelling: dis maar net ‘n ou vaal, motgevrete hiëna met ‘n askies-lat-ek-hier-is gevreet en ‘n paar agterbene wat lyk of hulle ‘n ander rigting wil loop as die spier-tier voorlyf. Die ou “wolf-met-die-mank-been” het die oumense hom genoem. Jy kan sommer sien hoe stink die ou ding! Hy móét mos stink, want hy leef mos van vrot vleis en ou bene! Sommer skoon vies vir hierdie gedrog, ry ons verder.
Wat is die ware feite? Die hiëna is nie noodwendig ‘n aasdier nie, maar hy is ‘n uitstekende jagter. Dikwels is dit nie hý wat die leeus se vangs aas nie maar juis eerder die leeus wat ‘n hiëna se vangs aas! As ’n wildkenner leeus wil lok, speel hulle opnames van die geluid wat hiënas by ’n vangs maak. Dit maak mos nou van die leeu die verfoeilike aasdier! Of hoe? In sommige dele van Afrika is hiënas hoofsaaklik jagters, en slegs by uitsondering aasdiere. Hulle is ongelooflik sterk, en hulle kakebene het baie groter krag as dié van ‘n leeu. “En wat van die brul?” sou jy vra. Ek het een aand die voorreg gehad om sowat vyf meter van ‘n hiëna af te sit wat brul. Ja, jy het reg gehoor, hy het gebrul! Dit was ‘n oorverdowende brul wat my met groot ontsag gevul het en by enige leeubrul kon kersvashou!
Diskriminasie gebeur wanneer ons mense se waarde meet aan hulle voorkoms. In Jakobus 2:1 staan daar baie duidelik: “Julle moenie iemand na die uiterlike beoordeel nie.” Daar is baie vorme van diskriminasie, en glo my, dit word daagliks op die een of ander wyse toegepas. Dikwels word daar teen vrouens gediskrimineer, veral wanneer dit kom by bevordering in die werksituasie. Die sterk man kry gewoonlik voorkeur, al is die vrou beter gekwalifiseer vir die pos. Kinders voel dikwels dat daar teen hulle gediskrimineer word, want daar word ‘n minderwaardige posisie aan hulle toegeken. Deesdae word daar teen onderwysers gediskrimineer, want leerlinge kan maak net wat hulle wil, terwyl die arme onderwyser nie ‘n vinger mag verroer nie. As hy net durf ‘n bietjie streng praat met ‘n leerling, is hy in die sop! Rassediskriminasie is aan die orde van die dag na alle kante toe.
Vir Jakobus het dit veral gegaan oor sosiale diskriminasie. En nou hoor ek al hoe jy sê: “Beslis nie ekke nie!” Ja, so het Jakobus se eerste lesers seker ook gesê. Dan noem Jakobus ‘n voorbeeld: twee mense loop die kerk binne. Die eerste is stinkryk, met goue ringe aan sy vingers. Die gemeentelede sien al sommer hoe die geld in die offergawekis gaan val. Nes ons vandag, sukkel hulle ook maar met finansies, en hierdie is ‘n gulde geleentheid om die gemeentekoffers weer propvol te maak! Die tweede ou wat instap lyk eerder of hy geld kom bedel as wat hy geld het om in die kis te gooi. Natuurlik maak hulle ‘n ophef van die ryke, en gee hom die beste sitplek in die kerk, en die arm ou moet maar op die vloer gaan sit, want daar is nie plek vir hom nie.
Jesus het self die wet opgesom in Mat. 22:39 toe Hy gesê het dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Om jou naaste lief te hê, beteken dan ook dat jy nie mag diskrimineer teen iemand nie, want deur te diskrimineer ontneem jy daardie persoon van sy lewensgeleenthede. Dit is byna soos om moord te pleeg! Jakobus maak dit baie duidelik dat as jy in een enkele opsig ‘n wet oortree, dan maak jy jou skuldig aan die verbreking van die hele wet van God! God vra van jou en my om te praat en op te tree in die lig van die wet wat vry maak, die wet van naasteliefde. (Jak 2:12)
Inderdaad is die teendeel ook waar. As jy barmhartigheid betoon, triomfeer dit oor die oordeel wat jou eintlik op die oordeelsdag behoort te tref (Jak 2:13). Barmhartigheid is die teenvoeter vir diskriminasie. Jesus het dit uitgeleef tydens Sy tyd op aarde, tot walging van die kerkleiers toe Hy saam met die skuim, die sondaars en gehate tollenaars gaan eet het en selfs saam met Samaritane en heidene gekuier het.
Gebed:
Here, gee asseblief vir my ‘n hart van liefde - liefde teenoor my naaste, en vergewe my asseblief waar ek nog so dikwels teenoor ander mense diskrimineer.