Romeine 15:22-33
Dink gróót! Dit was al dikwels die begin van ‘n reuse aksie wat die wêreld geskud het. Die prekende plaasboer, Angus Buchan het baie groot gedink. Baie mense het hom uitgelag, maar hy het reuse drome gedroom. En by drome het dit beslis nie gebly nie. Die reuse skares van manne wat by sy Mighty Men konferensies opgedaag het, en die miljoen by Bloemfontein het jou asem weg-geslaan. Hy het baie duisende mense op hierdie manier bereik met die Evangelie, want hy het geluister na wat God vir hom sê, en hy was gehoorsaam om dit uit te voer al het dit ook hoé onmoontlik geklink.
Van Paulus kan ons presies dieselfde sê. Hy was absoluut gehoorsaam aan die stem van God. Hy het sy eie Joodse vooroordele prysgegee om die evangelie na die heidennasies toe te neem. Maar Paulus se sendingveld het nie maar gebly by een enkele streek nie. Nee, sodra hy mense in ‘n stad of gebied oortuig het van die evangelie, het hy verder gegaan na waar die evangelie nog nooit voorheen verkondig is nie. Al wyer en wyer het sy sending gebied uitgekring, en al verder en verder het Paulus gedink en beplan. Die grense wat hy aan homself gestel het was die verste uiteindes van die bekende wêreld, naamlik Spanje. Of hy ooit by Spanje uitgekom het, is nie seker nie, maar daar word beweer dat hy wél daarheen gereis het nadat hy die eerste keer uit die tronk in Rome vrygelaat is.
Daar word beraam dat Paulus sowat 26’000 kilometer te voet afgelê het tydens die drie sendingreise wat in die Bybel vir ons beskryf word. Totaal onbevrees het hy voortgestoom. Waar sy mede-Christene hom dikwels probeer keer het wanneer die gevaar te groot lyk, het hy hulle bloot geïgnoreer en onverskrokke verder gegaan.
Hy skryf byvoorbeeld hier aan die gemeente in Rome van sy plan om na Jerusalem te gaan. Almal het hom probeer keer, maar in Handelinge lees ons hoedat hy nogtans in die kake van die leeu ingeloop het, en so byna-byna met sy lewe geboet het. Maar God het hom selfs deur hierdie krisis gedra en in Rome gebring, waar hy wou wees.
Vanoggend is die vraag wat die Here vir jou en my vra: Hoe groot is ek en jy bereid om te dink in terme van die Evangelie? Natuurlik is hier ‘n groot aantal leunstoel-Christene wat hierdie oordenking lees, mense wat absoluut niks doen om die evangelie verder te neem nie, maar net die byvoordele wil geniet. Dit het tyd geword dat jy uit daardie gemakstoel opstaan en iets daadwerklik doen! Gelukkig is daar ook baie van ons lesers wat wél bereid is om die moue op te rol. Die probleem is egter dat ons totaal te klein dink en beplan. As ek een persoon besoek het, is ek tevrede! Ek was byvoorbeeld heeltemal tevrede om hierdie dagstukkies vir slegs 40 mense aan te stuur. Toe die Here my oë oopmaak en ek groter begin dink, gaan die deure skielik wawyd oop, en vandag is daar duisende mense wat dit ontvang.
Ek wil vandag begin om groot te dink: My droom is om die adreslys vir hierdie oordenkinge oor die volgende week of twee baie uit te brei. Maar daarvoor het ek jou hulp nodig: stuur asseblief vir my die adresse van ‘n paar van jou vriende of kennisse sodat ek die dagstukkies ook aan hulle kan stuur. Hulle moet egter Afrikaans wees. Die alternatief is Whatsapp. Ek stuur baie dagstukkies uit op Whatsapp. Op hierdie wyse kan jy dalk die evangelie besorg aan iemand wat nog nooit ‘n ontmoeting met Jesus gehad het nie.
Daar is ook ander maniere om groot te dink. Het jy al ooit oorweeg om op ‘n uitreik te gaan na een van die lande waar die Evangelie haas nie bestaan nie? Daar is talle sulke geleenthede, soos die Masedonië Projek. Hier plaaslik werk ons gemeente saam met 'n arm Indiëgemeente in Shakas Kraal aan uitreike na Djabula in Mosambiek waar die nood baie groot is. Daar word nou juis weer so 'n uitreik beplan vir einde September.
Wanneer ons vanoggend se Skrifgedeelte lees, sien ons dat Paulus ook ‘n ander, baie dringende versoek rig aan sy lesers: “Stry saam met my deur vir my te bid.” Inderdaad het Paulus baie voorbidding nodig gehad, juis omdat hy so groot gedink het, want sy beplanning het hom dikwels in groot gevaarsituasies laat beland.
Vandag het enige evangeliebedienaar ook baie voorbidding nodig. Inderdaad is die gevare vandag totaal anders, maar hulle is steeds daar. Die persoon wat bereid is om die Woord uit te dra, verduur gedurig aanvalle van die bose, soms om hom moedeloos te maak en hom te laat tou opgooi. Vanoggend wil ek jou vra om ernstig te bid vir diegene in jou lewe wat bemoeid is met die uitdra van die evangelie, jou predikant/pastoor, sendeling ens. Maar ek vra ook dat jy vir my sal bid. Ek het dit baie nodig om die Woord suiwer die wêreld in te stuur en ywerig die dagstukkies te skryf.
Gebed:
Here, ek dank U vanoggend vir elkeen wat bereid is om die evangelie uit te dra.