Matteus 20:17-28
Ons verhaal gaan vandag oor twee broers, Jakobus en Johannes. Hulle dierbare Mammie het met ‘n baie ernstige versoek na Jesus gekom, dat haar twee seuntjies asseblieftog die ereposisie by Sy troon sou kry wanneer Hy eendag regeer. Dit klink nie na ‘n vreeslike onbillike versoek nie, want uiteraard was hulle mos deel van ‘n klein groepie van Jesus se intieme vriende van die afgelope drie jaar. Sy het egter nie die vaagste benul gehad waaroor alles werklik gegaan het nie. ‘n Mens sou ook verwag dat hulle sommer dadelik vir haar sou sê: “Ag Ma, los tog maar, want ons weet mos dat dit oor baie meer gaan as net ‘n ereplekkie langs die troon!” Maar nee! Hulle het saamgespeel en jy kom agter dat selfs ná al die dinge wat Jesus hulle geleer het, hulle steeds gladnie besef het WIE Jesus was nie.
Die ander manne was bitter ontsteld oor hierdie twee en natuurlik ook hulle ma se versoek. Dan dink jy dat hulle darem ten minste iets sou gesnap het? As jy egter ‘n bietjie dieper kyk, kom jy agter dat hulle ontsteltenis gegaan het oor die feit dat Jakobus en Johannes hulle voorgespring het. Hulle wou dan eintlik sélf mik vir daardie ereposisie!
Wat die hele situasie nog meer absurd gemaak het, is die feit dat hierdie petalje afgespeel het pas nadat Jesus juis vir hulle vertel het dat die kerkleiers Hom in Jerusalem sou gevange neem. Hulle was op daardie stadium juis op pad na Jerusalem, dus was hierdie nagmerrie net om die draai. Hy het ook vertel dat Hy ter dood veroordeel sou word. In detail het Hy vertel hoedat die heidene Hom sou spot, gésel en kruisig. Maar op die derde dag sou Hy opstaan uit die dood. Het hierdie dinge nie by hulle ingesink nie? Was hulle so behep met hulle eie posisie eendag in die Koninkryk dat hulle nie eers gehoor het wat Jesus gesê het nie?
Ek dink dat Jesus seker baie moedeloos met hierdie klomp moes gewees het. Vir drie jaar lank het Hy hulle intensiewe opleiding gegee en vir hulle verduidelik presies waaroor alles gegaan het. Daar was wél pragtige oomblikke wanneer dit gelyk het of hulle besef het wie Jesus was en selfs bely het dat Hy die Seun van God is.
En dan, DIT.......!
Miskien het hierdie pelgrimsreis van hulle na Jerusalem, gedagtes by hulle losgemaak, dat Jesus dalk 'n staatsgreep sou uitvoer en Israel van die Romeine verlos. Het Jesus nie al by verskeie geleenthede vir hulle uitgespel wat in Jerusalem sou gebeur nie? Het hulle nooit gehoor toe Hy vir hulle vertel het van die lyding en die dood wat daar op Hom gewag het nie? As Jesus dan vir hulle vra of hulle bereid sou wees om die lydensbeker saam met Hom te drink, antwoord hulle onomwonde "JA!" Hulle praat sonder om te dink, sonder om te besef wat hulle sê.
Jesus het die twaalf eenkant toe geroep en vir hulle ‘n prent geskilder, ‘n prent waarin Hy die verskil tussen ‘n wêreldse Koninkryk en ‘n Goddelike Koninkryk verduidelik het. In vandag se terme sou Jesus waarskynlik sê dat die president en sy regering hulle magte totaal misbruik. In plaas van om die land te dien, wil hulle gedien word, in lang, swart motors ry, in paleise woon en onbeperkte mag hê. Hulle wil stringe veiligheidswagte hê om hulle te beskerm!
In God se Koninkryk werk dit baie anders: daar word jy nie gedien nie, maar jou hoogste taak is eintlik om diensbaar te wees. Jesus het hierin telkemale die voorbeeld gestel waar Hy die minste was om selfs sy leerlinge se vuil voete te was, iets wat slegs ‘n slaaf sou doen. Hy het weggeskram van alle eerbetoon en telkemale as Hy iemand gesond gemaak het, het Hy die persoon beveel om stil te bly daaroor. Jesus se dag van glorie, die dag toe Hy die vyand finaal verslaan het, was nie ‘n reuse jubelfees nie maar uit ‘n wêreldse oogpunt ‘n uiters tragiese dag. Daardie dag het Hy, die Koning, die Oorwinnaar immers aan ‘n vloekhout gehang en is Hy bespot en geslaan. Jesus verwag nie van enigeen van ons om óóit so ver te gaan nie. Sy boodskap is egter dat die hoogste eer wat jou kan tref is dat jy die geleentheid kan kry om te dien en dat jy dit met albei hande sal aangryp!
Ek het dit al dikwels beleef dat mense wat die hoogste posisies beklee in die kerk, juis die mense is wat bereid is om die skottelgoed te was en die laagste werkies te doen!
Gelowiges se strewe moet wees om diensbaar te wees, nie alleen teenoor God nie maar ook teenoor elkeen wat ons paadjie kruis. Saam met diensbaarheid kom natuurlik ook nederigheid en die bereidheid om die minste te wees. Dit is baie beslis nie maklik nie! Dit verg baie moed om van daardie troontjie af te klim! En nog meer só, as jy moet toesien dat die persoon wat jou plek inneem beslis nie waardig is om daar te sit nie. My gebed vanoggend vir jou is dan ook dat hierdie ‘n kenmerk van jou lewe sal wees.
Gebed:
Here, help my om diensbaar te wees in U Koninkryk maar ook nederig. Stuur vandag asseblief geleenthede oor my pad waar ek kan dien, en maak my gewillig om die minste te wees!