Die Werk van die Heilige Gees

3 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Werk van die Heilige Gees

Johannes 16:5-15

VIDEO * OUDIO

Dit wil lyk asof die dissipels nog gladnie Jesus se weggaan begryp het nie. Maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra, want dalk sou hulle net ‘n antwoord kry wat hulle dalk nie wou hê nie. Ja, hulle het besef dat die skrif aan die muur was, en dat Jesus beslis tereggestel sou word. As hulle maar geweet het hoedanig hierdie teregstelling sou wees - die verskrikking daarvan, dan sou hulle dalk die hasepad gekies het! Maar die blote gedagte dat Jesus hulle sou verlaat, het alreeds ‘n beklemming om hulle harte geplaas. Dit was die hele onsekerheid rondom dit alles.

Jesus troos hulle deur te verduidelik dat Sy weggaan juis vir hulle tot voordeel sou wees. Natuurlik het hulle dit gladnie verstaan nie en Jesus het ook nie eers probeer verduidelik nie, want op daardie stadium sou dit nie vir hulle sin gemaak het nie. Eers later sou die lig vir hulle opgaan en sou hulle die hele prentjie begin sien. Maar eers moes daar iets anders met hulle gebeur. Jesus moes vir hulle die Parakletos, die Voorspraak gee voor hulle waarlik sou verstaan.

Wat sou die Voorspraak doen? Jesus noem hier drie baie belangrike sake. Eerstens moes die Voorspraak die sonde van die wêreld gaan blootlê. Wat is sonde? Dit is om nie die wil van God te doen nie. Ons kan dalk sondelysies wil opstel: dans, rook, suip, dobbel ens. Maar nee, dis nie waaroor dit gaan nie. Wat is die grootste sonde van almal - die sonde wat jou beslis uit die hemel sal hou? Om nie in Jesus te glo nie! Hierdie is die kern van alle sonde, want sonder geloof in Jesus is jy in die mag van die duiwel en dan is die gruwelikste dade moontlik. Geloof in Jesus bring ‘n totale nuwe perspektief in ‘n mens se lewe. Die vraag is, hoe gaan die Voorspraak die sonde van die wêreld blootlê en watter metodes gaan Hy gebruik? Die antwoord is heel eenvoudig, deur die getuienis en verkondiging van gelowiges! God gebruik mense (gelowiges) om Sy Woord te verkondig en aan die wêreld uit te basuin dat Jesus die enigste Weg is en dat jy sonder Hom in sonde voor God staan.

Tweedens sê Jesus dat die Voorspraak sal bewys dat die reg aan Jesus se kant is. Ná Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart, kon alles maar net eenvoudig in die vergetelheid verdwyn het, as nóg ‘n Martelaar wat droewig aan Sy einde gekom het. Dit het egter nie gebeur nie, want die Heilige Gees het mense soos Petrus en Johannes gebruik om dit aan die wêreld uit te basuin wie Jesus werklik is. Hy is nie maar ‘n martelaar nie, maar waarlik God! Die taak van die Heilige Gees was om dit duidelik te stel dat al die dinge wat gebeur het maar net op een enkele manier verklaar kon word, dat niks hiervan kon gebeur sonder God se heilige ingryping nie. Alles omtrent Jesus is eg en waar.

Die derde groot taak van die Heilige Gees is om die wêreld te oortuig van die oordeel wat kom. Hoe oortuig jy ‘n ongelowige van die oordeel en dat hy onder die oordeel staan? Ek dink die meeste ongelowiges leef alreeds in vrees en bewing vir dit wat wag! Almal weet wat die hel beteken, en al sê iemand vir jou dat hy nie aan die hel glo nie, dra hy heimelik die vrees in sy hart: Sê nou maar net.....

Ja, die oordeel het alreeds begin met Jesus se koms. Die owerste van die wêreld (die duiwel) is reeds veroordeel! Hy het sy magsposisie klaar verloor en die finale straf is alreeds sy voorland. Enige ongelowige is besig om presies dieselfde paadjie te loop. Vir die duiwel is daar geen hoop meer nie, maar vir die ongelowige is daar steeds hoop. As hy maar net die Voorspraak wil toelaat om Hom na Jesus te lei.

Maar die werk van die Voorspraak is nie net op die wêreld toegespits nie. Die Heilige Gees sal ook baie aktief betrokke wees in die lewe van elke gelowige. Dit is Hy wat die gelowige in die waarheid sal lei. Dit beteken dat Hy vir my en jou lei om te leef volgens die wil van God. Ons moet onthou dat toe Johannes hierdie Evangelie geskryf het, was daar nog nie ‘n Bybel soos wat ons vandag het nie. Toe was dit van uiterste belang dat die gemeente sou luister na die influistering van die Heilige Gees. Vandag is ons so wonderlik bevoorreg om die Bybel te hê as riglyn. Maar steeds is dit die Gees wat deur die Bybel met ons praat en ons lewe rig.

Wat verkondig die Gees aan ons? Hy verkondig Jesus! Die hoofdoel van die Heilige Gees is nie om oor Homself te getuig nie, maar oor Jesus. Hy verheerlik Jesus in ons lewens. Hy verkondig aan ons die almag, die glorie en die grootheid van Jesus. Ek dink dat jy met my sal saamstem dat Hy dit wonderlik reggekry het uit alles wat ons tot dusver alleen uit hierdie Evangelie van Johannes behandel het. Onthou jy nog die heel eerste hoofstukke wat gehandel het oor Jesus as Skepper van die heelal, en al die glorie wat daarmee gepaard gegaan het? Dit was die werk van die Heilige Gees om Johannes te lei om hierdie wondere aan ons oor te dra. Hoe heerlik word Jesus nie hierdeur verheerlik nie!

Gebed:

Dankie Jesus, dat U aan my die Heilige Gees gegee het, en dat ek elke dag van Hom kan leer oor U!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026