Die Vrou en die Draak (deel 1)

11 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Vrou en die Draak (deel 1)

Openbaring 12

In die volgende gedeelte van Openbaring word die agtergrond geteken van die stryd tussen die bose en die kerk deur die geskiedenis. Die bose trio, dit is die draak, die dier uit die see en die dier uit die land, vervolg die kerk. Hierdie Sataniese drie-heid staan teenoor die Goddelike Drie-eenheid. In die visioene wat volg word die verlede, hede en toekoms onthul. Hier word beskryf hoe die bose veroordeel word en hoe die gelowiges die nuwe hemel en aarde tegemoet gaan.

Openbaring 12 vertel van die vrou, die draak en die kind wat gebore word. Die vrou waarvan hier geskryf word is die Messiaanse moeder, oftewel die hemelse Israel. In verstaanbare taal beteken dit bloot dat dit die gelowiges is, oftewel die kerk. Die kerk se oorsprong is natuurlik by God in die hemel.

Johannes beskryf die vrou as ‘n stralende persoon. Sy het die son as haar kleed, wat haar stralende, verhewe en onaantasbare posisie beklemtoon. Die maan onder haar voete sê dat sy heers. Sy dra ‘n kroon van twaalf sterre, wat haar mag beklemtoon. Dit is, met ander woorde haar oorwinnaarskroon. In Openbaring 17 lees ons óók van ‘n vrou, maar dán is dit die onsedelike vrou van Babilon. Die vrou waarvan ons lees in Openbaring 12 staan in skerp kontras met haar.

Johannes vertel dat die vrou egter swanger is, en op die punt om geboorte te skenk. Sy skree wanneer haar geboortepyne begin. Dit is tóg interessant dat Israel dikwels in die Ou Testament beskryf word as ‘n vrou met geboortepyne. Lees byvoorbeeld Jesaja 26:17 en Miga 4:10.

Wanneer die vrou se geboortepyne op hulle ergste is, verskyn ‘n ander figuur op die toneel. Uit die hemel tree ‘n groot vuurrooi draak na vore. Hy het sewe koppe en tien horings, en op elkeen van sy koppe pryk daar ‘n heerserskroon. Hierdie draak is niemand anders nie as die slang van ouds wat destyds vir Eva verlei het, die einste Satan. Hy is ‘n bose, moorddadige, oorlogsugtige heerser met groot krag.

Die Bose word dikwels in die Ou Testament beskryf as ‘n draak. In Psalm 74:14 is hy die Leviatan en in Psalm 89:11 die monster Rahab. Die Babiloniërs het die draak (die bose) geskilder met sewe koppe.

Wanneer Johannes hierdie draak beskryf, is daar ‘n groot klomp simboliek betrokke. Sy kleur is vuurrooi, en dit vertel van sy oorlogsugtige moorddadigheid. Die sewe koppe sê dat hy baie slim was, en goed om bose planne te beraam. Die tien horings vertel van sy mag en dat hy uiters sterk was. Die sewe heerserskrone beskryf sy groot gesag en heerskappy. Met sy stert sleep hy ‘n derde van die sterre saam met hom. Dit kan moontlik die beskrywing wees van hoe Satan ‘n klomp afvallige engele met hom saamgesleep het in sy opstand teen God. Inderdaad is hy nie alleen nie, en het hy vir hom ‘n groot, bose mag opgebou.

Hierdie drama word tot ‘n hoogtepunt gevoer, wanneer die vrou geboorte skenk. Die draak gaan staan aggressief voor haar, gereed om die kind te verslind. Die Kind wat gebore word is Jesus Christus, die Messias. Die woedende aggressie van die duiwel teenoor Jesus is opgeteken in die Evangelies, waar Jesus telkemale deur hom aangeval is. Dit begin reeds tydens Jesus se geboorte, waar Herodus Hom wou uitroei. Hy word egter weggeruk deur Sy lyding en kruisdood, waar Hy sit aan die troon van God na Sy hemelvaart.

Dan vertel Johannes dat die vrou woestyn toe gevlug het. Dit beskryf die verdrukking wat die kerk moet deurgaan. Nogtans sien ons dat God daar vir haar sorg. Inderdaad sorg God vir Sy kerk ten spyte van die onsimpatieke onherbergsaamheid van die bose, vyandige wêreld waarin die kerk staan, nét soos jy in die woestyn kry.

In die hemel is daar egter oorlog, maar hierdie oorlog is reeds gewen. Gelowiges kan hieruit troos en moed kry. Ten spyte van die vervolging wat ons op aarde nou nog verduur, waar ons in ‘n hewige stryd met die bose gewikkel is, kan ons wéét dat die oorlog alreeds in die hemel gewen is! Die draak is uit die hemel uitgegooi, en dáár is nou nie meer ‘n spoor van hom nie. Nou probeer hy die kerk op aarde vernietig, maar hy het net ‘n beperkte mag. Die invloed van die duiwel ís ‘n aardse werklikheid! Sy grondpersoneel (by wyse van spreke) is stééds op en wakker, maar hulle kan slegs so ver gaan as wat God hulle toelaat.

Nadat Johannes hierdie stryd beskryf het, volg daar ‘n loflied ter ere van die Lam, maar daaroor sal ons DV môre gesels.

Gebed:

Here, ons loof en prys U groot Naam, want U het die draak oorwin. Dankie dat ons die wete met ons kan saamdra, dat die vervolging wat die kinders van God vandag moet verduur, slegs tydelik is, en dat die duiwel se mag beperk is, sodat hy my nie kan verslind nie, solank ek aan U bly vashou. Gee my asseblief die krag om staande te bly, en om triomferend saam met U die oorwinning te behaal.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026