Die Vrou by die Put

23 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Vrou by die Put

Johannes 4:1-18

VIDEO OUDIO

Ek sien eendag ‘n beriggie in die koerant, dat Liz Taylor op trou gestaan het. “Wonderlike nuus!” sou jy dalk kon sê. Nee, stokou nuus! Dit was toe al die negende keer! Sy was toe al stokoud en in ‘n rolstoel, maar steeds het sy gehunker na jong blaartjies, net om hulle weer te los wanneer sy moeg was vir hulle. Nou wat het hierdie brokkie nuus dan met ‘n dagstukkie te doen? Alles! Die vrou in vandag se verhaal het ‘n reputasie gehad byna net so lank soos Liz s’n!

Om net eers die prentjie in perspektief te stel: Jesus en sy dissipels het van Galilea af na Jerusalem gereis om die Paasfees te vier, ‘n reis van sowat 150km. Daar het Sy gesprek met Nikodemus plaasgevind.

Dit was ‘n baie suksesvolle besoek, want mense het in groot getalle om hulle saamgedrom. Hiervan het die Fariseërs, wat groot invloed gehad het in die Jerusalem omgewing, niks gehou nie.

Nou was hulle egter weer op pad terug na Galilea - dalk wou Hy konfrontasie met die Fariseërs op daardie stadium vermy. Hulle reis het hulle deur die Samaritaanse gebied geneem. Dit was die kortste roete maar nie ‘n gewilde een nie, want die Jode het liefs die Samaritane totaal vermy.

Dit was twaalfuur die middag, en die manne was moeg en honger. Naby die dorpie Sigar het hulle by ‘n put gestop, een wat nog uit Jakob se tyd gedateer het. Jesus besluit om daar te bly wag terwyl die ander vir hulle gaan middagete koop het in die dorp.

En dan gebeur ‘n eienaardige ding. In die hitte van die dag, het ‘n Samaritaanse vrou aangestap gekom met ‘n kruik op haar skouer. G’n ordentlike vrou sou water loop haal het in hierdie warm uur nie, en veral nie alleen nie! Om te gaan water haal, was ‘n sosiale geleentheid vir die vrouens om te klets en al die skindernuus op te vang. Waarom was hierdie een alleen? Het sy dalk iets gehad om weg te steek?

Dan gebeur daar iets wat beslis die wenkbroue sou lig. Jesus het vir die vrou ‘n bietjie drinkwater gevra. Sy kon haar ore nie glo nie - ‘n Jood wat vir haar, ‘n Samaritaan, water vra? Die Jode het die Samaritane soos die pes vermy. Jy het beslis nie saam met hulle geëet of gedrink nie, want dan sou jy onrein word! Dit was só erg, dat sommige Jode selfs geglo het dat hulle besmet kon raak, selfs as ‘n Samaritaan se skaduwee op hulle sou val!

Die vrou se verbasing was dus gladnie ongegrond nie. Maar dinge het nóg erger geraak toe Jesus ‘n gesprek met haar aanknoop. Nie alleen was sy ‘n Samaritaan nie, maar boonop ‘n vrou. Dus was sy op die heel onderste trappie van die sosiale rangorde - net nog ‘n stukkie eiendom van iemand. In skrille teenstelling hiermee het ons so pas gelees van Jesus se gesprek met Nikodemus, wat op die hoogste sport van die sosiale leer was. Baie gou kom ons uit die gesprek agter dat sy boonop ‘n gure reputasie gehad het!

En dan moet ons maar net besef dat Jesus verby al ons menslike beperkinge kyk. Status maak nie by Hom saak nie. Of dit nou die hooggeplaaste Nikodemus is of die straatvrou - Jesus is daar vir almal, regoor die sosiale spektrum.

Die gesprek is baie interessant. Dit begin met Jesus wat vir water vra. Die vrou antwoord Hom met ‘n vraag wat fokus op die verskriklike kontras tussen Jode en Samaritane - “Julle Jode dink mos dat julle beter is as ons Samaritane” - so lees jy tussen die lyne deur in haar vraag. Jesus sien regdeur haar vraag, en Sy antwoord sê vir haar dat Hy baie meer is as net ‘n gewone Jood en dat Hy eintlik God se gawe aan hierdie wêreld is. Dan bied Hy haar “lewende water” aan om haar dors te les. Nie alleen sou hierdie water haar onmiddellike behoeftes bevredig nie, maar dit sou haar vir ewig laat lewe.

Daardie water is dieselfde wat ook vandag elke mens se dors na God en redding kan bevredig. Eers verstaan hierdie vrou gladnie waaroor dit alles gaan nie. Maar dan gaan haar oë uiteindelik oop, en sy word Jesus se héél eerste sendeling, as sy vir almal in die dorp van Jesus gaan vertel, soos ons weldra in die volgende perikoop sal sien.

Die gesprek neem nou ‘n wending, wat die vinger reg op die groot probleem in haar lewe druk: haar huwelik. Sy was al vyf keer getroud. Of sy geskei was en of haar mans almal dood is, weet ons nie. Ons weet egter dat sy in ‘n uiters magtelose posisie was, omdat sy nie vir haarself kon sorg nie. Nou het sy uit radeloosheid sommer by ‘n man gebly - iets wat totaal onaanvaarbaar was. Haar lewe is deur sonde verdor. Sleepvoet het sy deur die lewe moes gaan en ander vroue vermy, want hulle kwetsende aanmerkings het bitter seer gemaak. Die lewe het haar baie stief behandel. Sy het aan die einde van haar paadjie gekom!

Sou Jesus waarlik vir haar ‘n uitkoms kon gee? Sou hierdie lewende water waarvan sy so pas gehoor het, dalk ‘n antwoord kon wees? In ons volgende dagstukkie kyk ons DV. hoe hierdie gesprek verder uitdraai. Inderdaad wag daar goeie nuus - ook vir jou en my.

Gebed:

Here, soms voel dit vir my asof berge van sonde op my skouers lê. Dankie dat ek vandag kan weet dat U alles alreeds vergewe het, en nie meer daaraan dink nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026