Joël 3:1-17
Dag-vir-dag krimp ons harte ineen wanneer ons hoor van die verskriklike dinge wat nasies doen teen die gelowiges. Ekstremiste in die Moslemlande kan die Christengelowiges nie onder hulle oë duld nie. Ons sien dit gebeur in Afrikalande, waar talle Christengelowiges afgemaai word vir hulle geloof en ons sien dit nog erger in sommige Arabiese lande. Nou moet ek vinnig byvoeg dat nie alle Moslems haatdraend is teenoor Christene nie, die meerderheid is verdraagsaam. Daar is egter ekstremiste, so ook onder Christene en hulle kry al die aandag en gee beide gelowe, ‘n slegte naam!
Sulke dinge gebeur darem nie in ons eie land nie...... Werklik?
‘n Jong vrou met die mooi Moslemnaam van Fatima vertel eendag vir my haar verhaal. Sy het grootgeword in ‘n Moslem gemeenskap in Johannesburg - haar familie was almal Moslems. Toe, op ‘n dag hoor sy die Evangelie van Jesus se verlossing. Sy kom diep onder die indruk dat hierdie die enigste waarheid is en sy gee haar hart aan Jesus. Dit was wonderlik om uiteindelik bevry te kon wees van sonde en die ewige lewe te kon hê!
Maar dit was nie so eenvoudig nie, want met hierdie stap het sy haar Moslemgeloof verloën. Haar familie het haar gedreig om haar “dwaasheid” te laat vaar en daardie “vals” geloof prys te gee, maar sy wou nie - sy KON nie! Vir die eerste keer in haar lewe het sy iets ervaar wat waarlik kosbaar was.
Haar familie kon hierdie “walglike” ding wat sy gedoen het, nie verduur nie en sy is uit die huis gesmyt en aan haar eie lot oorgelaat. Maar steeds het hulle haar nie haar gang laat gaan nie. Talle dreigemente is vir Fatima gegee, nie alleen deur haar familie, wie se naam sy in die skande gebring het nie, maar ook deur al haar vriende en die hele Moslemgemeenskap. Toe sy steeds nie wou bes gee nie, is sy voëlvry verklaar. Enigeen kon haar summier vermoor!
Sy vlug uit Johannesburg na Durban waar sy uiteindelik by ‘n sendingstasie beland waar sy haar geloof en roeping kon uitleef. Maar steeds ontvang sy talle doodsdreigemente en haar lewe was nooit veilig nie. En dít in ‘n “Christen” land!
Dikwels hoor ons die vraag: “Maar sien die Here dan nie die onreg raak nie?” Soms wil dit vir ons lyk asof dit goed gaan met hierdie mense wat die gelowiges so onderdruk en vervolg. Steur die Here Hom ooit aan hulle gruweldade?
Joël antwoord hierdie kwelvrae in 3:1-17, wanneer hy praat oor die “vreeslike dag van die Here”, die wederkoms van Jesus. Op daardie dag sal al hierdie nasies geoordeel word. Hy sal al die nasies bymekaarmaak in die Josafatlaagte. Hierdie naam het groot betekenis - Josafat beteken “Die Here oordeel”, dus is die Josafatslaagte “die plek waar die Here oordeel”.
Dit gaan die vorm aanneem van ‘n hofsaak, waar die beskuldigings ingebring word teen alle ongelowiges. Die misdade van hierdie nasies was teen God se volk en dit was dus eintlik teen God self. Dit was in werklikheid ‘n skending van God se eiendom want Israel behoort aan die Here. Maar dit gaan baie verder as net Israel want elkeen wat ‘n gelowige is behoort aan die Here, dus gaan elke nasie wat Christengelowiges vervolg onder God se oordeel kom.
Die beskuldigings wat teen die nasies ingebring word is, volgens Joël, dat hulle Israel verstrooi het. Boonop het hulle die land gevat. Die land behoort nie aan Israel nie maar aan God, dus beroof hulle God! God se volk is so minderwaardig geag dat hulle bloot slawe gemaak is. Hulle het God dus probeer verneder!
Uiteindelik sê die Here half spottenderwys vir hierdie magtige nasies om hulleself gereed te maak en teen Hom te kom oorlog maak. Al die “dapper” manne moet optrek teen Hom. Hulle kan maar met ál hulle wapens kom en hulle beter maar hulle ploegskare vat en swaarde daarvan maak sodat daar genoeg wapens sal wees en van hulle snoeimesse moet hulle steekspiese maak, want hulle gaan dit alles nodig kry!
Wie kan staande bly teen die Here, die Almagtige? Dink hierdie magtige nasies werklik dat hulle die Here kan oorwin? Niemand van hulle neem die Here ernstig op nie en niemand hou rekening met die “vreeslike dag van die Here” nie, wanneer God hulle almal gaan verdelg en in die verdoemenis werp.
En die gelowiges? “Die Here is ‘n toevlugsoord vir Sy volk, ‘n skuilplek vir Israel.” (Joël 3:16). Vandag weet ons dat hierdie voorspelling vir die Israeliete net so van toepassing is op my en jou, die gelowige kinders van God, want ons is Sy Israel! “Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is!” sê die Here. (v. 17)
Ek en jy kan vandag rustig wees oor al hierdie onheilige dinge wat in die wêreld aangaan. Die Here is ten volle bewus daarvan en Hy sal ingryp op presies die regte tyd. Niks van al die ongeregtigheid sal ooit ongestraf verbygaan nie.
Maar die grootste nuus van alles is, dat ek en jy veilig is in die Here en dat die bose magte ons nie kan beroof van die wonderlike gawe van die ewige lewe nie! God het ons dit immers so belowe!
Gebed:
Dankie Here, dat U ook vir my die ewige lewe gegee het uit U groot genade!