​​​​​​​Die Visitekaartjie

5 June, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ​​​​​​​Die Visitekaartjie

Romeine 1:1

Met 'n breë, warm glimlag hou die man sy besigheidskaartjie na my toe uit. My mond val skaamteloos oop: dit is asof die letters op die kaartjie glinster soos suiwer goud! Wie is hierdie man dan? Hy dwing beslis groot respek af!

Ek bekyk die glinsterende kaartjie van naby. Die eerste ding wat my opval, is dat hierdie man baie suksesvol moet wees, waarskynlik met 'n groot geleerdheid. Dalk baie ryk? Maar eintlik is dit sy persoonlikheid wat my interesseer. Sy warm glimlag sê dat hy beslis vriendelik is. Het hy 'n innemende geaardheid? Joviaal?

Skielik sien ek 'n woordjie op sy indrukwekkende kaartjie wat my tussen die oë slaan: "SLAAF" staan daar gedruk in groot, vet letters! Maar dit kan mos nie waar wees nie? Slawe dra nie sulke indrukwekkende goue kaartjies nie!

Die vraag is: WIE se slaaf is hy? Wie is hierdie indrukwekkende man se eienaar? Daardie eienaar moet beslis 'n magtige man wees! Die vraag is nou, of hierdie eienaar van sy gesag aan die slaaf oorgedra het? Kan hy namens hom praat en uitsprake maak? Hy moet sy eienaar seker baie goed ken. Maar ken hy hom goed genoeg dat hy namens die eienaar uitsprake kan maak en dat sy eienaar dit sou goedkeur?

In die Romeine-brief hou Paulus sy visitekaartjie uit na die lesers. Die eerste indruk wat hy skep is dat ons hier te doen het met iemand van groot statuur. Maar dan staan daar in die heel eerste sinnetjie dat hy inderdaad slegs ‘n slaaf is. Nou weet ons mos al dat slawe in die Romeinse Ryk nou nie juis die bopunt van die sosiale lewe gehaal het nie. Hulle was as’t ware niks. As ‘n slaaf egter die eiendom was van ‘n baie hooggeplaasde amptenaar, was dit moontlik dat hy status kon hê in die samelewing, as sy baas hom daardie mag sou gee. As hy die keiser se slaaf was, dan het mense geluister na wat hy sê, al was hy ook maar net ‘n slaaf, want hy het gepraat met die outoriteit wat die keiser hom gee. Paulus stel homself voor as die slaaf van niemand anders nie as Christus Jesus. Wanneer Jesus se Name in hierdie volgorde gebruik word, beklemtoon dit die feit dat Hy die oorwinnaar is oor lewe en dood. En dit is van hierdie oorwinnende Christus wat Paulus die slaaf is!

Vir Paulus is daar geen groter status as om die slaaf van Jesus te wees nie. In Filippense 3:8 skryf hy: “Om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde.” Al beweeg jy ook in die heel hoogste sosiale kringe, bly die héél belangrikste steeds jou Christenskap. Niks anders is belangriker nie!

Christenskap beteken egter veel meer as net ‘n titel. Dit is 'n roeping! Paulus sê duidelik dat Christus hom geroep en afgesonder het vir ‘n baie belangrike taak, om die Evangelie van God te verkondig. Hy noem homself ook ‘n “apostel”. Dit is ‘n Griekse woord wat beteken om “gestuur” te wees. Hy is dus die gevolmagtigde gestuurde van Christus Jesus. Indrukwekkend!

Uit ander Skrifgedeeltes weet ons dat Paulus nie maar net gesag van Jesus gekry het, en toe begin preek het nie. Paulus het ‘n leeftyd van studie van die Skrif deurgeloop. Een van sy leermeesters, Gamaliël, was ‘n hoogs gerespekteerde “professor”. Paulus het dus ook die nodige Skrifkennis gehad om die Evangelie te verkondig.

Inderdaad kry ek en jy ook daardie indrukwekkende besigheidskaartjie wat Paulus gedra het. Ons kan met presies dieselfde gesag as Paulus praat. Dit vra egter van ons ook ‘n paar dinge, net soos in Paulus se geval. In die eerste plek moet ons besef dat om slaaf van Jesus te wees, beteken dat jy in Sy diens staan, en dat daar dus werk is om te doen. Hoe die werk gedoen word, en wat presies jou plig is, verskil van persoon tot persoon. Die feit is egter dat jy nie ‘n werk behoorlik kan doen sonder die nodige opleiding nie. Net so het elke mens wat in diens van Christus staan opleiding nodig. Sommige van Sy “dienaars” kry opleiding op universiteit om herders of leraars in ‘n gemeente te word. Jy kan egter uitstekende diens lewer met “in-diens-opleiding” deur gedurigdeur te soek na kennis in die Woord. Nuttige kursusse soos EE III en Getroue Getuies is baie handig vir enigiemand wat evangelisasiewerk wil doen. Sulke kursusse gee jou nie alleen die nodige kennis en vaardigheid nie, maar die inspirasie wat jy daar kry maak jou brandend om aktief in die Meester se diens te staan. Persoonlike Bybelstudie met behulp van ‘n goeie Bybelkommentaar is van groot waarde, maar dan moet jy ook besef dat dit uiters belangrik is om saam met ander gelowiges rondom die Skrif te sit en gedagtes uit te ruil.

Van uiterste belang is natuurlik dat jou gemoed en hart deurentyd oop sal wees vir die influistering van die Heilige Gees, want dit is Hy wat jou al die nodige inspirasie gee en ook die harte voorberei van mense teenoor wie jy van Jesus getuig.

Gebed:

Dankie vir die wonderlike “besigheidskaartjie” wat U vir my gegee het, Here. Gee my asseblief die vrymoedigheid om dit oral waar ek gaan te gebruik met trots.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026