Die Visitekaartjie

2 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Visitekaartjie

Romeine 1:1

VIDEO | OUDIO

Met 'n breë, warm glimlag hou die man sy visitekaartjie na my toe uit. My mond val skaamteloos oop: dit is asof die letters op die kaartjie glinster soos suiwer goud! Wie is hierdie man dan? Hy dwing beslis groot respek af!

Ek bekyk die glinsterende kaartjie van naby. Die eerste ding wat my opval is dat hierdie man baie suksesvol moet wees, waarskynlik met 'n groot geleerdheid. Dalk baie ryk? Nie noodwendig nie, maar beslis met groot invloed! Maar eintlik is dit sy persoonlikheid wat my dadelik opval. Sy warm glimlag sê dat hy beslis vriendelik is met 'n innemende geaardheid!

Skielik sien ek 'n woordjie op sy indrukwekkende kaartjie wat my tussen die oë slaan: "SLAAF" staan daar gedruk in groot, vet letters! Maar dit kan mos nie waar wees nie? Slawe dra mos nie sulke indrukwekkende goue kaartjies nie!

Die vraag is egter: WIE se slaaf is hy? Wie is hierdie indrukwekkende man se eienaar? Daardie eienaar moet beslis 'n magtige man wees en hy het verseker van sy gesag aan die slaaf oorgedra! Kan die slaaf dus namens sy eienaar praat en uitsprake maak? Indien dit die geval is, moet hy sy eienaar sekerlik baie goed ken, só goed dat hy namens die eienaar uitsprake kan maak met sy goedkeuring!

In die Romeine-brief hou Paulus sy visitekaartjie uit na die lesers. Die eerste indruk wat hy skep is dat ons hier te doen het met iemand van groot statuur. Maar dan staan daar in die heel eerste sinnetjie dat hy inderdaad slegs ‘n slaaf is. Nou weet ons mos al dat slawe in die Romeinse Ryk nou nie juis die bopunt van die sosiale lewe gehaal het nie. Hulle was as’t ware niks! As ‘n slaaf egter die eiendom was van ‘n baie hooggeplaasde amptenaar, was dit wél moontlik dat sy eienaar hom status in die samelewing kon gee. As hy die keiser se slaaf was, dan het mense geluister na wat hy sê, al was hy ook maar net ‘n slaaf want hy het gepraat met die outoriteit wat die keiser hom gegee het. Paulus stel homself voor as die slaaf van niemand anders nie as Christus Jesus. Wanneer Jesus se Naam in hierdie volgorde gebruik word, beklemtoon dit die feit dat Hy die oorwinnaar is oor lewe en dood. En dit is van hierdie oorwinnende Christus wat Paulus die slaaf is!

Vir Paulus is daar géén groter status as om die slaaf van Jesus te wees. In Filippense 3:8 skryf hy dat om Christus Jesus sy Here te ken, alles in waarde oortref. Al beweeg jy ook in die heel hoogste sosiale kringe, bly die héél belangrikste steeds jou Christenskap. Niks anders is belangriker nie!

Christenskap beteken egter veel meer as net ‘n titel. Dit is 'n roeping! Paulus sê duidelik dat Christus hom geroep en afgesonder het vir ‘n baie belangrike taak, om die Evangelie van God te verkondig. Hy noem homself ook ‘n “apostel”. Dit is ‘n Griekse woord wat beteken om “gestuur” te wees. Hy is dus die gevolmagtigde gestuurde van Christus Jesus. Indrukwekkend inderdaad!

Uit ander Skrifgedeeltes weet ons dat Paulus nie maar net gesag van Jesus gekry het en toe begin preek het nie. Paulus het ‘n leeftyd van studie van die Skrif deurgeloop. Een van sy leermeesters, Gamaliël, was ‘n hoogs gerespekteerde “professor”. Paulus het dus beslis die nodige Skrifkennis gehad om die Evangelie te verkondig.

Inderdaad kry ek en jy ook daardie indrukwekkende besigheidskaartjie wat Paulus gedra het. Ons kan met presies dieselfde gesag as Paulus praat. Dit vra egter van ons ook ‘n paar dinge, net soos in Paulus se geval.

In die eerste plek moet ons besef dat om slaaf van Jesus te wees, beteken dat jy in Sy diens staan en dat daar dus werk is om te doen. Hoe die werk gedoen word en wat presies jou plig is, verskil van persoon tot persoon.

Die feit is egter dat jy nie ‘n werk behoorlik kan doen sonder die nodige opleiding nie. Nét so het elke mens wat in diens van Christus staan opleiding nodig. Sommige van Sy “dienaars” kry opleiding op universiteit om herders of leraars in ‘n gemeente te word. Jy kan egter uitstekende diens lewer met “in-diens-opleiding” deur gedurigdeur te soek na kennis in die Woord. Nuttige kursusse soos EE III en Getroue Getuies is baie handig vir enigiemand wat evangelisasiewerk wil doen. Sulke kursusse gee jou nie alleen die nodige kennis en vaardigheid nie, maar die inspirasie wat jy daar kry maak jou brandend om aktief in die Meester se diens te staan. Persoonlike Bybelstudie met behulp van ‘n goeie Bybelkommentaar is van groot waarde, maar dan moet jy ook besef dat dit uiters belangrik is om saam met ander gelowiges rondom die Skrif te sit en gedagtes uit te ruil.

Van uiterste belang is natuurlik dat jou gemoed en hart deurentyd oop sal wees vir die influistering van die Heilige Gees, want dit is Hy wat jou al die nodige inspirasie gee en ook die harte voorberei van mense teenoor wie jy van Jesus getuig.

Gebed:

Dankie vir die wonderlike “besigheidskaartjie” wat U vir my gegee het, Here. Gee my asseblief die vrymoedigheid om dit oral waar ek gaan te gebruik met trots!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026