Die Verlamde van Kapernaum

4 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Verlamde van Kapernaum

Markus 2:1-12

VIDEO * OUDIO

Dit druis deur Kapernaum: “Daardie Wonderwerker, Jesus is terug! Ek het gehoor Hy bly in Simon, die visserman se huis.” So versprei die nuus ál met die druiwerankie langs, sodat die ganse stad die boodskap in ‘n ommesientjie kry, en die mense in groot getalle na Petrus se huisie stroom. Die Skrifgeleerdes het al hoeka hulle koppe bymekaargesit, en tot die slotsom gekom dat hierdie Man vir hulle nét moeilikheid inhou! Hy sê dinge wat hulle beslis ongemaklik laat voel, want hoe kan ‘n doodgewone timmerman, ‘n ongeleerde leek nou wil kom staan en preek? Dis mos ongehoord! Hulle het jare en jare se intense studie van die Skrifte agter die rug, en dit maak hulle gekwalifiseerd om te mag preek. Maar hierdie Man........

As die Skrifgeleerdes hoor waar Jesus tuis is, spring hulle gou om die voorste gestoeltes te kry in Petrus se huisie sodat hulle hierdie Man behóórlik kan uitluister. Moontlik kan hulle Hom ‘n paar strikvrae vra om te sien of Hy rêrag so goed is as wat die mense beweer. Skaars het hulle dan ook hulle sit gekry, of die huisie oorstroom van mense, sodat hulle naderhand by die vensters en deure uitpeul. Almal wil hierdie Wonderwerker sien, want vandag gaan Hy beslis weer die een of ander asemrowende wonderwerk doen!

Wanneer Jesus na die skare mense kyk wat steeds in groot getalle aanstroom deur die nou straatjies, brand dit in Hom om dit uit te basuin dat Hy die Seun van God is wat gekom het om die sondes van die wêreld te kom wegneem. Maar Hy durf dit nie uitlap nie, want dan gaan dit alles bederf. As hulle maar net geweet het....... Maar nou verkeer hulle onder die wanindruk dat Hy maar net ‘n doodgewone Wonderwerker is. Vir Hom is dit nou baie belangrik dat hulle die boodskap van die Koninkryk van God kry. As hulle dit eers begryp, is die weg gebaan na die finale boodskap.

Elders in Kapernaum is ‘n ander drama besig om homself af te speel. Op ‘n bed lê ‘n uitgeteerde man, kom ons noem hom maar Joram. Jare gelede het ‘n verskriklike siekte vir Joram getref. Eers het hy net begin mank loop, maar dit het vinnig vererger, totdat hy uiteindelik totaal verlam was. “Dis jou sondes!” het die mense vir hom gesê, “God straf jou oor al jou sondes!”

Toe Joram hoor van hierdie nuwe Wonderwerker-profeet wat mense links en regs gesond maak, het daar vir hom ‘n sprankie hoop opgegaan. Miskien, net miskien...... Maar toe is die Man weg voordat hy Hom nog kon sien.

Maar nou is daardie Jesus glo weer terug. “Ek moet net eenvoudig daar kom!” dring hy aan by sy vrou.

“Ek sal jou vriende laat roep, die ou paartjies wat jy nog oor het. Miskien kan hulle jou help.”

En so daag daar vier manne op met ‘n draagbaar wat hulle iewers te lene gekry het: “Toemaar ou Joram, moenie bekommerd wees nie, ons sal jou by die Profeet kry!”

En so draf die vier manne met hulle kosbare, protesterende vrag deur die kronkelstraatjies van Kapernaum na die huisie van Petrus. Joram voel bitter ongemaklik, maar daar is ‘n lied in sy hart. Maar o wee! As hulle naby Petrus se huis kom, sien hulle die moeder van alle verkeersknope! Petrus se straatjie is só gepak van mense dat jy nie eers naby die deur kan kom nie, nie eers gepraat van binne nie! Joram bars in trane uit. Hy het sy hart daarop gesit om Jesus te sien, en nou dit!

“Ek het ‘n plan,” sê Josafat. Die manne sit koppe bymekaar. Joram kan nie mooi hoor wat hulle konkel nie, maar hulle kyk kort-kort in sy rigting, en hy sien sommer hier kom gróót moeilikheid vir hom. “Kom,” sê Josafat, “Ons gaan in!”

“Maar hoe?” wil Joram nog vra, maar dan word hy al klaar deur die agterplaas van een van die bure gedra, oor ‘n heining gelig en tussen rommel deur. Intussen het een van die kêrels ‘n paar toue iewers gaan leen. Joram protesteer as hy sien hoe toue aan sy draagbaar vasgebind word. “Waarheen vat julle my?” Hy gee ‘n gil van angs as sy pêlle hom ophys na die plat dak van Petrus se huis. “Julle gaan my laat val!”

Liefde is...... vriende wat bereid is om selfs op dakke rond te klouter vir jou! Hoe ver is jy bereid om te gaan vir jóú vriende? Of vir ander mense? Dalk selfs wildvreemdes? Jesus het vir ons gewys wat ware liefde is, dat Hy bereid was om selfs vir ongewensde mense uit Sy pad te gaan. Daar was ‘n Samaritaanse vrou wat in sonde geleef het, ‘n gehate tollenaar, ‘n melaatse - noem maar op!

In die volgepakte vertrek is die belangrike Skrifgeleerdes bitter omgekrap. Hulle probeer luister na wat Jesus sê, maar nou is hier ‘n lawaai op die dak. “Sê tog vir die mense daar bo om stil te bly!” gee een ‘n bevel na buite. Maar dan kyk almal verskrik op as daar skielik ‘n gat in die dak verskyn en die helder sonlig na binne stroom. “Wat probeer hulle maak?” wil een van die hoogsgeleerde manne vererg weet. Jesus hou op praat. Tot hulle ontsteltenis sien hulle hoe die dak stukkie-vir-stukkie bokant hulle koppe oopgebreek word.

Word vervolg........

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware omgee-liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026