Lukas 5:17-26
Die nuus van die sukses van Jesus se bediening het soos ‘n veldbrand versprei. Nie alleen het Hy daagliks dosyne siekes gesond gemaak nie, maar dan het Hy ook gepreek. Dit was onvermydelik dat hierdie nuus ook die kerkleiers se ore sou bereik, en hulle het gewonder oor hierdie onbekende Leermeester. Vir baie jare sit ‘n man en studeer, en hy moet die wette oor en oor hoor van sy leermeester. Die Skrifte word bestudeer tot in die fynste besonderhede, en dan uiteindelik word hy ook een van die elite fariseërs. Die naam Fariseër beteken “Afgesonderde”, en hierdie beweging het sy ontstaan tydens die ballingskap. Natuurlik kan dit ook nie anders, dat hierdie geleerde manne juis hulleself opwerk om die kerkleiers te word.
Die klomp geleerdes moes sékerlik onder mekaar gesels het oor hierdie nuwe onbekende “Profeet” wat skielik soveel opslae maak. Hy was op g’n Bybelskool nie. Waar sou Hy sy kennis vandaan kry? “Hierdie Man kan vir ons edele beweging ‘n baie groot bedreiging word as Hy nie gou gestop word nie!” het dit sékerlik in die wandelgange van die tempel weerklink, “Ons sal onsself móét gaan vergewis van wat Hy alles kwytraak, voordat Hy dalk die volk op ‘n groot dwaalspoor lei.”
En so gebeur dit dan een mooi dag terwyl die skares, soos gewoonlik, om Jesus begin saamdrom waar Hy besig was in ‘n huis. Juis op daardie dag besluit 'n groep fariseërs en rabbi’s om te kom sien waaroor al die bohaai nou eintlik gaan. Omdat hulle baie belangrik is, neem hulle die voorste gestoeltes in om mooi te kan sien wat hier gebeur. Die mense verdruk mekaar buite die huis om tog net naby hierdie wonderlike Prediker te kan kom.
Intussen ontvou ‘n totaal ander drama elders in die dorp. “Ek hoor daardie Jesus is in die dorp”, vertel ‘n man opgewonde. “Vandag moet julle my asseblief help om by Hom uit te kom. Asseblief, dit is my enigste kans!” Hy is verlam, en die lewe het vir hom ondraaglik geword. Die arme man is totaal afhanklik van ander se gunste.
“Toemaar, ons sal sorg dat jy daar kom”, verseker hulle hom. Op ‘n draagbaar word hy die stofstrate afgedra na die plek waar almal saamdrom. Maar dit is ‘n hopelose situasie, want die mense koek om die huis soos ‘n swerm bye. Hulle soebat en pleit dat die mense tóg vir hulle plek maak om deur te gaan, maar dis puur verniet!
“Moenie wôrrie nie, ek het ‘n plan!” Hulle sit hom neer en hulle koukus: “Kyk, as ons hom net op 'n manier op die dak kan kry, dan laat sak ons hom van bo af in.”
“Kry julle hom solank bo, ek gaan kry toue!”
Jesus word wreed onderbreek in die middel van Sy preek, deur ‘n rumoer op die dak. Almal kyk gesteurd op as iemand die dakteëls begin oopbreek. “Wat gaan aan daarbo?” skree ‘n fariseër vererg. Almal hou asems op as iemand wankelrig op ‘n draagbaar aan vier toue deur die opening afsak. Mense staar in ongeloof na die man op die draagbaar. Almal herken hom as die arme verlamde van die onderdorp. Wanneer Jesus opkyk, sien hy vier beangste gesigte deur die gat loer, en Hy bewonder hulle geloof en vindingrykheid. “Mens, jou sondes is jou vergewe”, sê Hy vir die man op die draagbaar.
Die arme fariseërs val byna van hulle stoele af oor hierdie “Godslasterlike” uitspraak. Hulle het geweet dat daar iewers ‘n swak plek in sy mondering moet wees. “G’n mens durf homself die reg tot sondevergifnis toeëien nie! Alleen God kan mos sondes vergewe!” Hulle is woedend!
Jesus het egter reg van die begin af dwarsdeur hierdie skynheilige klomp gesien, en Hy het geweet dat hulle Hom as ‘n bedreiging vir hulle eie reputasie beskou. Hierdie sou maar net die eerste van baie konfrontasies met hulle wees, en dit sou uiteindelik lei tot Sy teregstelling.
Slegs ‘n paar woorde van Jesus genees die man voor almal se oë, en die verlamde staan op asof hy sy lewe lank nooit iets makeer het nie. Al singende en jubelende huppel hy daar uit, draagbaar in die hand terwyl die skares hulle koppe skud in ongeloof. Maar nie almal is beïndruk nie. Die fariseërs het die eerste rondte slég tweede gekom!
Die genesing van die verlamde is ‘n wonderlike verhaal waar ons nie alleen die geloof en begeerte van die man sien om by Jesus uit te kom nie, maar ook sy vriende se geloof. Hulle het dit nie maar net by geloof gelos nie, maar daadwerklik uit hulle pad gegaan om hom by Jesus te kry. Dit is ‘n verhaal van naasteliefde sonder grense, ‘n voorbeeld vir elkeen van ons. Die verlamde man is beloon met iets baie groter as wat hy voor gevra het, nie alleen het hy genesing gekry nie, maar vergifnis. Jesus herstel die totale mens en bring hom so in harmonie met God. Het jy al God se vergifnis ontvang?
Gebed:
Here, ek loof en prys U wonderlike Naam, want U is groot en goed en almagtig. Dankie dat U my ook vergifnis geskenk het sonder dat ek dit enigsins verdien het.