Romeine 9:6-18
Vanoggend se onderwerp het menige mense al erg laat kleitrap, gelowiges sowel as ongelowiges. Dus, as hierdie “omstrede” onderwerp - die uitverkiesing - vir jou al slapelose nagte gegee het, dan kan jy beslis weet dat jy nie alleen is nie! Jy deel dit met miljoene ander mense. Die vraag is of daar wél so iets soos die uitverkiesing is, en hierop antwoord Paulus aan die einde van vanoggend se Skriflesing, as hy die gedeelte soos volg opsom: “Dit is inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.” (Rom. 9:18)
Voordat jy hierdie dagstukkie summier uitvee, en sê: “Ag ek is seker maar nie uitverkies nie! Waarvoor lees ek nog verder!” wil ek vir jou sê dat daar vanoggend vir jou wonderlike nuus is. Ja, inderdaad kan die hele ding oor die uitverkiesing ‘n wrede ontnugtering wees, en dít so pas nadat Paulus ‘n ellelange stuk geskryf het waarin hy jou wil oorreed om te glo in Jesus Christus. Alleen hierdeur kan jy gered word, so leer Paulus ons. Wil Paulus jou nou deurmekaar maak en jou borreltjie bars met hierdie nuus dat jou geloof dalk absoluut niks daarmee te doen het nie? Dat jou redding slegs bepaal word deur God se uitverkiesing? Jy wil daarteen baklei, want jou logika sê dat hierdie twee dinge net eenvoudig nie saam by dieselfde punt kan uitkom nie. “Ek verstaan dit nie!”
Op Waterval Boven, waar ek grootgeword het, was treinspoorlyne deel van die alledaagse lewe. Male sonder tal het ek oor die spoorlyne geloop, en dan was die een vraag wat altyd by my opgekom het: “Waar kom hierdie twee treinspore bymekaar?” Kyk jy langs die treinspore af, dan sien jy hierdie twee parallelle spore wat klaarblyklik tot in die oneindigheid in presies dieselfde rigting loop, maar hulle ontmoet nêrens. So lyk dit ten minste. As jy egter in die verte in staar, dan raak die prentjie so klein dat jy nie meer die twee spore van mekaar kan onderskei nie. Nou lyk dit asof dit slegs een enkele spoor is.
Daar is twee waarhede wat Paulus ons leer, waarhede wat nes twee treinspore parallel met mekaar loop. Die een spoor se naam is “God se Uitverkiesing” en die ander spoor: “My eie verantwoordelikheid.” Vanoggend kom ons by die vraag: Watter een van hierdie twee is die ware spoor? Anders gestel: Watter waarheid is die wáre waarheid?
Dalk moet ek dit verduidelik aan die hand van nóg ‘n voorbeeld: Waar ek vanoggend hierdie dagstukkie skryf, glo ek met my hele hart en siel dat dít wat ek skryf die woorde is wat die Heilige Gees in my gedagtes lê. Ek het immers gebid dat Hy dit moet doen. Aan die ander kant gebruik ek die vaardighede wat ek oor jare aangeleer het, en kennis wat ek opgedoen het om hierdie boodskap oor te dra. Albei hierdie eienskappe is terloops gawes wat God my gegee het. Wie het dus hier geskryf, ek of die Heilige Gees? Besluit maar sélf!
Die uitverkiesing mag totaal verwarrend wees, want ons probeer daarna kyk uit ‘n tyd-like (is daar so ‘n woord?) oogpunt. God kyk egter daarna uit ‘n tyd-lose oogpunt, vanuit die ewigheid. Daardie twee treinspore van uitverkiesing en self-verantwoordelikheid lyk vir ons vanuit ons tyd-like oogpunt asof hulle nooit, óóit bymekaar kan uitkom nie. Maar vir God kom hulle wél bymekaar, omdat Hy in die verskiet in kyk. Alhoewel dit dalk vir ons voel asof hierdie twee aspekte nie tegelyk waar kan wees nie, is dit bloot ‘n menslike gevoel, en die waarheid is dat hulle tóg gelyk waar is, want só sê God in Sy heilige Woord vir ons. (Moet tog asseblief nóóit slegs op jou gevoel staatmaak nie!)
Die vraag wat onmiddellik in jou gedagtes opkom oor die uitverkiesing, is of God dan nie onregverdig is as Hy slegs sekere mense uitverkies, en ander laat verlore gaan nie?
Kom ek probeer verduidelik: Ek ry een aand na ‘n verlate winkelsentrum. As ek uit my motor klim, skarrel ‘n klomp motgevrete, vuil, honger katjies onder my voete uit. So verwaarloos, aggressief en mistroostig het ek nog nooit gesien nie. As ek na een uitreik, blaas hy vir my. Ek druk deur en gryp enetjie. Hy byt en krap, maar later kom hy tóg tot bedaring. Ek neem hom huistoe en versorg hom met groot liefde, totdat hy uiteindelik ten volle deel van ons gesin word - ‘n gelukkige en tevrede katjie.
Ek was genadig teenoor die katjie, en ek het hom gered van ‘n gewisse dood. Was ek nou wreed om nie al die ander katjies óók te vat en te versorg nie? Sekerlik nie!
Ons was almal soos vuil, aggressiewe katjies teenoor God. Ons kan net dankie sê dat Hy genadig was teenoor ons, en terselfdertyd bitter jammer voel vir al die ander wat nog nie God se genade gesmaak het nie. Vanoggend loof en prys en dank ek die Here dat Hy my nie in my verlorenheid gelos het nie - ‘n verlorenheid waarin ek deur my eie toedoen was. Dat Hy genadig was teenoor my terwyl ek Sy vyand was, en ten spyte daarvan my gered het van ‘n gewisse dood.
Gebed:
Dankie Here, dankie dat ek vanoggend kan getuig dat U my uitverkies en gered het.