Die Twaalf word Aangewys

15 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Twaalf word Aangewys

Markus 3:7-19

VIDEO * OUDIO

Ek word eendag uitgenooi deur ds. Simon Kwaseba van die VGK gemeente in Shakaville om vir hulle ‘n boodskap te lewer. Dis in ‘n baie arm dorpsgebied naby Kwa Dukuza (Stanger). Vir my was dit ‘n reuse voorreg! Dis ‘n tipiese klein plattelandse kerkie, waar tyd nie ‘n faktor is nie, die diens was al verby, toe kom daar steeds mense ingedrentel!

Dis warm, stomend warm, en die klein venstertjies laat maar die minimum lug in. Sweet stroom my af, waar ek staan en wurg in my das (die prediker móét ‘n das dra!) Ek kyk oor die gemeente en ‘n see van klein kindergesiggies wat die voorste rye volpak groet my afwagtend. Gaan hulle ooit verstaan? Ek preek in Engels terwyl ‘n tolk in Zoeloe vertaal. Dis steurend en moeilik om ritme te hou. ‘n Baba skreeu oorverdowend, en sy maatjie begin saam “sing” in die koor. Ek kan myself skaars hoor praat! Hoeveel van hierdie preek gaan ooit inslag vind?

By die voordeur verkondig ‘n rooi hoenderhaan sy heerskappy terwyl sy harem kekkel en kloek dat die biesies bewe. “Hier sal ek vanoggend ál die groot kanonne moet uithaal,” besef ek, terwyl die sweet in riviertjies deur my oë loop. “Hoe het Jesus dit reggekry om die skare se aandag te hou?” wonder ek. “Hy moes beslis baie praktiese dinge gedoen het!”

My boodskap gaan oor die vermeerdering van brode, van die vyf broodjies en twee vissies. Ek het vyf langwerpige brode saamgebring, wat hulle staan gekry het op ’n tafeltjie voor die kansel. Ek klim van my hoë kansel-troon af, en begin die brode in stukkies breek. Eers kry die kleintjies hier voor elkeen ’n stuk brood, en die gemeente rek hulle nekke om te sien wat gebeur. ‘n Gedruis gaan deur die gemeente, want hier is aksie! Ek loop deur die banke en deel stukke brood uit. Almal is opgewonde, en die oë skitter, want só ‘n diens het hulle nog nooit belewe nie! Die boodskap is eenvoudig: jy vat ‘n stuk brood, breek vir jouself ‘n stukkie af en gee die res vir jou buurman. Hierdie handeling sê dat ons as gelowiges ook die Brood van die Lewe (Jesus) wat ons gekry het met ander moet deel.

Hulle verstaan! Selfs die heel kleintjies hier voor verstaan.

En ek sê: “Dankie, dankie Jesus!” terwyl hemelse koorklanke spontaan met die wonderlikste harmonieë, sonder ‘n orrel of klavier of orkes die kerkgeboutjie vul en opstyg na die hemel.

Wanneer ek uitloop, wil elkeen in die kerkie met my hand-skud. En dan wonder ek: waarom moet ons eredienste dan so gekompliseerd, formeel en hoogdrawend wees?

Markus vertel dat Jesus en Sy volgelinge afgegaan het na die See van Galilea. Mense het in groot getalle na Hom toe gestroom, hulle móés Hom net eenvoudig sien! Daar was mense van Tirus en Sidon, Jerusalem, Idumea en van oorkant die Jordaan af. Van heinde en verre het hulle gestroom om Jesus te sien. Só groot het die skares naderhand aangegroei, dat Jesus in ’n skuit moes klim, en daarvandaan preek sodat almal Hom kon sien.

Waarom het Jesus sulke reuse skares getrek? Die een groot rede was dat Sy preke nie maar net ’n klomp teologiese redenasies was, soos dié van die Skrifgeleerdes wat dwarsoor die gewone mense se koppe gepraat het nie. Jesus se preke was eenvoudige stories wat baie diep waarhede geïllustreer het. Hy maak mildelik gebruik van gelykenisse waarmee elkeen van hierdie mense kon assosieer, dinge uit die alledaagse lewe. Maar Jesus se preke het verder ook behels dat Hy dinge prakties gedoen het. Dit het nie maar net by woorde gebly nie, maar Hy het dit prakties toegepas. Hy het talle mense genees van allerhande soorte kwale. En dan was daar ook die uitdryf van onrein geeste of demone.

Wanneer ’n ding só grafies vertel word, en boonop prakties geïllustreer word, onthou die gehoor die preek, en hulle maak dit deel van hulle lewens. Boonop geniet die mense dit, en dit maak dat daar nie maar net ’n handjievol opdaag nie, maar dat die nuus versprei, en mense daarheen stroom in groot getalle om Sy preke te beleef.

Op ‘n dag gaan sit Jesus tussen ‘n klompie van Sy gereelde volgelinge. Hy kyk vir Simon reguit in die oë en dan wink Hy die rowwe visserman nader. Boetie Andreas moet ook maar naderstaan, en só ook die twee broers met die hoogs-vlambare humeure, Johannes en Jakobus. Wanneer Hy vir Judas Iskariot nader wink, is daar ‘n droewige trek in Jesus se oë. Die manne kyk vraend na mekaar: Wat wil Jesus met hulle doen? Nóg manne word nader geroep totdat daar uiteindelik ‘n groep van twaalf manne staan. Dan verduidelik Jesus: hulle is Sy kerngroepie “apostels,” Sy uitgestuurdes. Op hulle skouers sou daar eendag ’n reuse verantwoordelikheid rus. Maar nou wag daar eers drie jaar se intense opleiding op hulle.

Hierdie manne sou nie alleen die twaalf stamme van Israel verteenwoordig nie, maar met die kragtige vernuwing waarmee Jesus besig was, sou die manne terselfdertyd ook die “nuwe Israel”, die kerk van Christus verteenwoordig en verkondig, en die wonderlike Evangelie aan die hele wêreld uitdra!

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld wat U vir ons gestel het. Dankie dat U ons ook geleer het om die Evangelie eenvoudig uit te dra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026