Die Tronk van Sonde

26 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tronk van Sonde

Romeine 6:1-23

VIDEO | OUDIO

Ons druk ons ore toe as ons in die moderne tyd van slawe hoor. Dit bestaan mos nie meer nie?! Tóg is dit ‘n werklikheid, ‘n afgryslike werklikheid! Selfs in Suid-Afrika hoor ons dikwels van mense, veral jong meisies wat as slawe aangehou word en gedwing word tot ‘n aaklige lewe van prostitusie!

In Paulus se tyd was slawerny natuurlik ‘n baie algemene ding. Daar word beweer dat daar in Rome meer slawe was as vry mense. Die arme slawe het absoluut geen wetlike regte gehad nie en hulle eienaars kon met hulle maak nét wat hulle wou. Hulle was uitgebuit tot die uiterste, mishandel, gekastreer en die eienaar kon selfs sy slaaf doodmaak as hy vir hom ‘n oorlas raak. En as die slaaf ongehoorsaam was, dan was lyfstraf of selfs die doodstraf sy voorland, of hy kon verkoop word as ’n prostituut, galeislaaf of gladiator.

Tóg was nie alle slawe so onmenslik behandel nie. Daar is gevalle bekend waar Romeine hulle slawe soos eie kinders behandel het en selfs skatryk laat erf het. Soms het welgestelde eienaars hulle slawe met baie hoë posisies in die samelewing toevertrou. Dit was ook moontlik dat ’n slaaf homself kon vrykoop. Dit het ook al gebeur dat ’n eienaar sy slaaf sy vryheid gee, maar dat die slaaf dan vrywillig in die eienaar se diens aanbly!

Paulus gebruik dan hierdie bekende situasie van slawerny om te verduidelik van sonde. Ons kan sonde met reg sien as ’n wrede slawe-eienaar en elke mens is in hierdie genadelose baas se kloue en kettings totdat Jesus jou daaruit bevry. Uit die vorige gedeeltes wat ons behandel het, kan jy baie maklik van die standpunt uitgaan dat God se genade genoegsaam is sodat jy maar kan aanhou met ’n sondige lewe nadat jy vrygespreek is. God vergewe tog mos! Ek is klaar gered, waarom moet ek dan die lekker sonde los?

Kom ons vergelyk sonde met ’n tronk waar jy toegesluit is en waar jou lewe deur die tronkowerhede beheer word met onmoontlike wette. Omdat jy nie die wette kan nakom nie, wag jy op jou teregstelling wat enige oomblik kan kom. Dan stap Jesus in en Hy bied aan om met jou plekke te ruil. Jesus word uiteindelik wreed tereggestel (gekruisig) terwyl jy by die tronkdeure uitstap - ’n vry mens! In die tronkregisters is daar onder jou naam die aantekening: “Tereggestel!” Dood! ‘n Wonderlike gevoel van vrede daal oor jou neer, want jy het nou totale vryheid van hierdie verskriklike tronk. Om dit op ‘n ander manier te stel: jy is dood vir die sonde omdat Christus in jou plek gesterf het.

Die vraag is nou of jy dit ooit sal oorweeg om terug te gaan tronk toe as jy op so ‘n wonderlike manier daaruit vrygelaat is? “Goeie môre meneer die tronkbewaarder, ek kom net aanmeld. Sluit my asseblief weer toe!” Wat ‘n gekke gedagte! Maar dit is presies wat jy doen as jy ná jou redding deur Christus maar net jou skouers optrek oor sonde en weer daarin verval. Dit is soos om die wonderlike vrede wat God jou gee op die ashoop weg te gooi. In die musiekblyspel “My Fair Lady” sing die een ou kêrel dat die Here versoekings gegee het om ‘n mens te toets, maar met ‘n klein bietjie geluk val jy pens en pootjies binne in die versoeking as dit jou kant toe kom. Hoe absurd!

Wanneer jy daardie dag uit die tronk van sonde bevry is, laat jy die sonde en tronklewe agter. Moenie dat die tronkbewaarders (jou begeertes en natuurlike geaardheid) jou steeds bly intimideer nie. Hulle hoort in die tronk! In Rome het daar ‘n verskriklike losbandigheid onder die mense geheers en die uitspattige orgies waar mense vrye teuels gegee het aan enige begeerte, is tot vandag toe berug. Hierdie dekadensie het uiteindelik gelei tot die val van die magtige Romeinse ryk. Dit is hierna wat Paulus verwys in vers 19.

Redding in Jesus beteken ‘n radikale verandering in jou lewe, want jy is nou nie meer ‘n werktuig of wapen van die sonde nie maar in diens van God. Dikwels beteken dit oorlog in jou lewe om die luste wat vir jou voorgeskryf word te beveg. Maar dit is nie ‘n hopelose geveg nie, want al struikel jy in die sonde, hoef jy nie te bly lê nie, want die tronk van sonde het nie meer ‘n sê oor jou lewe nie. Jy staan nie meer onder die wet nie want Christus het die wet namens jou vervul. Nou kan jy opstaan en leef uit Sy genade, ‘n lewe van oorwinning wat reeds deur Jesus behaal is!

As jy kies om die paadjie te loop van terugval in die sonde, dan mag jy dalk nét kwalifiseer vir die "salaris" van die dood! Kies jy egter ‘n “loopbaan” in diens van God, is daar eerstens vrugte wat jou lewe dra - vrugte van dankbaarheid en heiligheid. Maar die belangrike is dat die "salaris" wat jy dán “verdien” die ewige lewe is. Verdien is in aanhalingstekens, want niemand kan die ewige lewe verdien nie, dis 'n geskenk van God! Rom. 6:23 stel dit onomwonde, dat die salaris wat sonde betaal die dood is, maar dat die groot geskenk wat God in Jesus Christus gee die ewige lewe is.

Gebed:

Here Jesus, hou asseblief my hand styf vas sodat ek nie val wanneer ek struikel nie en hou my oog gevestig op U alleen, sodat ek meer soos U sal word en U liefde al meer en meer in my sigbaar sal word!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026