Hebreërs 9:15-22
Ou Oom Herklaas het nooit enige nasate gehad nie. Ja, hy was eenmaal verlief en selfs verloof, en toe loop sy weg met sy beste vriend so kort voor die troue. Dit het bitter seer gemaak, gevolglik het Oom Herklaas toe nooit getrou nie. En eksentriek! Boonop skatrkryk en so oud soos die berge. En toe sit almal net en wag dat hy moet doodgaan, want sy sakebelange beloop miljoene. En wie weet, dalk kan 'n man so 'n ietsie erf as jy mooi is met Oom Herklaas!
Sy testament was veilig by sy prokureur, en niemand, buiten die regsman kon ooit 'n oog daarop lê nie. Maak nie saak hoe die mense by hom vlerksleep nie - sy lippe bly geseël. En niemand durf vir Oom Herklaas vra nie, want almal is vrek bang vir die ou man. Intussen gaan Oom Herklaas sy gewone ou gang, sonder om hom te steur aan al die gefluister agter sy rug. Heimlik lag hy vir die spul skattejagters - dit gee hom groot genot, want hy weet dat slegs sy dood sy testament in werking kon stel, en daar wag ‘n paar baie groot verrassings op die klomp wat hom so doodwens!
Die Griekse woord, Diathê-kê, wat ons met “testament” vertaal kan ook “verbond” beteken. Daar is twee baie belangrike elemente in ‘n testament: Iemand gaan iets erf van die persoon wat die testament opgestel het, maar die opsteller moet ook eers sterf voordat die testament in werking kan tree.
God het ‘n Testament geskryf waarin Hy ‘n asemrowende nalatenskap beloof. Johannes 3:16 vertel onder meer wat hierdie testament behels. Die benoemdes in die testament kry die wonderlikste erfenis óóit: die ewige lewe! Hulle sal nie verlore gaan nie, en hulle spring die ewige verderf vry. Maar beteken dit dan dat God dood is? ‘n Testament tree mos net in werking by ‘n persoon se afsterwe? Inderdaad, nee! Maar Jesus het wel gesterf aan die kruis, en op grond daarvan het hierdie testament in werking getree. Wat dit egter anders as alle ander testamente maak, is die feit dat Jesus weer fisies uit die dood opgestaan het, en aktief help met die uitvoering van die bepalinge in die Testament. Jesus is dus nie alleen die Testateur nie, maar tegelykertyd ook die Eksekuteur sowel as die Waarborg vir die uitvoering van die Testament.
Toe Oom Herklaas uiteindelik die dag die emmer skop, sit die hoopvolles soos vlieë om die prokureur gekoek om te hoor wie sy fortuin sou erf. Die regsgeleerde het die spul lang gesigte oor sy leesbrilletjie sit en deurkyk, en toe kondig hy plegtig aan dat slegs die troue bediendes wat hom so liefdevol versorg het, iets erf. Verder word alles nét so bemaak aan kinderhuise en welsynsorganisasies. Nie ‘n enkele familielid kry ‘n sent nie - wat ‘n reuse teleurstelling! ‘n Paar manne wou net daar en dan prosedeer, maar die testament was finaal, dit kon nie verander word nie. Wat geskryf is, is geskryf!
Jesus se Testament is ook absoluut onveranderlik - wat geskryf is, is geskryf! Nou klink daar ook stemme op van mense wat wil prosedeer, want dis mos nie regverdig dat slegs iemand wat in Jesus glo gered sal word nie. Selfs uit die kerk uit hoor ons vandag hoogsgeleerdes wat wil hê dat Moslems, Hindoes, Harikrishnas en Bhuddiste dieselfde aanspraak op die ewige lewe moet kry. In die praktyk sou dit beteken dat die ganse Bybel herskryf sou moes word! Dit is totaal onmoontlik! God het Sy Testament geskryf, en dit is finaal! Iemand wat nie aan die vereistes van die Testament voldoen nie, mag nie deel hê aan die voordele van die Testament nie.
Maar daar is ‘n kinkel - ‘n skuiwergat. In Oom Herklaas se testament was alles finaal verlore vir die hoopvolles. In Jesus se Testament werk dit ’n bietjie anders, want niemand hoef ooit finaal uitgesluit te wees nie. Anders as enige ander testament, is daar ‘n bepaling in hierdie een, dat enige mens wat nie aan die bepalings voldoen nie - maak nie saak watse geloof jy aanhang nie - nog steeds kan deel in die onmeetlike ryk skat van daardie Testament. Ja, selfs uitgesproke Sataniste het al deel gekry in Jesus se Testament. Die sleutelwoordjie is: Glo in Jesus! Dis al!
Wat beteken dit om in Hom te glo? Is geloof in Sy bestaan genoeg? Nee - selfs die duiwel glo dat Jesus ‘n werklikheid is, en hy is verlore. Geloof beteken om jou volle, onvoorwaardelike vertroue alleen op Hom te plaas, met ander woorde, 'n lewende verhouding met Jesus.
Beteken dit nou dat jy in Jesus kan glo en terselfdertyd ook byvoorbeeld Bhuddisme aanhang? Nee, baie beslis nie. Wanneer jy jou geloof in Jesus plaas, dan is daar geen plek vir enige ander gode nie. Dan beteken dit dat jy afstand moet doen van alle ander idiologieë. In Afrika beteken dit ook dat die verering (aanbidding?) van voorvadergeeste wat dikwels hand-aan-hand loop met geloof in Jesus, nooit kan werk nie. In Eksodus 20 maak God dit baie duidelik dat jy Hom alleen mag aanbid, en geen ander gode nie. Maar daar is slegs een manier om by God uit te kom: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe,” het Jesus in Joh. 14:6 gesê, “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Is jy ‘n begunstigde in Jesus se Testament?
Gebed:
Here, daar is so ‘n magdom mense wat nog nie aan U Testament deel het nie. Ek bid dat elkeen wat hierdie brief lees, en steeds soekend is, U Woord sal aanvaar!