Die Testament

8 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Testament

Galasiërs 3:15-25

VIDEO * OUDIO

Oom RykGert stel met bewende hande sy laaste testament op. Hy was ‘n suksesvolle sakeman, en hy het sy onderneming deur die jare opgebou tot ‘n uiters winsgewende maatskappy. Maar nou het Oom RykGert nog net ‘n kort tydjie oor om te leef. Hy het nooit getrou nie, en daar is dus niemand om sy rykdom te erf nie. Tóg is daar ‘n hele paar hoopvolles wat wag om te aas.

En dan sterf hy. Sy testament lê opgesluit in die prokureur se kluis. Een-vir-een kom lê die hoopvolles by die regsman besoek af om te verneem hoe die testament lees, maar sy lippe is gesluit. Hulle probeer die prokureur oorreed om die testament te verander in hulle guns, maar hy weier. Wat geskryf is, is geskryf. Dis finaal!

Op ‘n dag roep die prokureur al die hoopvolles saam, en baie dramaties maak hy die verseëlde koevert met Oom RykGert se testament oop. Binne is een velletjie papier met die woorde: “Aan my nefie Bennie bemaak ek my hele sakeonderneming.” Dis al! Net daardie enkele sinnetjie!

Bennie is verslae: “Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ek het nog nooit werklik iets vir Oom RykGert gedoen nie, ek ken hom skaars! Ek verstaan dit nie!”

Almal is ontstoke. Hulle het so hard probeer om Oom RykGert te beïndruk, en hulle kry niks. “Ek gaan prosedeer!” skree Hendrik. Sannie, ‘n verlangse niggie, skree met ‘n skril stemmetjie: “Ek gaan dit tot in die hoogste hof beveg!” Ou Karel is woedend: “My hele lewe lank het ek my afgesloof vir simpele ou RykGert. Wat kry ek? Net mooi niks!”

En Bennie? Hy loop oor van dankbaarheid! Dan neem hy ‘n besluit: “Ek gaan my bes probeer om ‘n reuse sukses te maak van die onderneming, en ek gaan die winste terugploeg in die arm gemeenskap.”

Wanneer ons oor die wet en genade gesels, lig ‘n paar mense die wenkbroue, want wat was dan die doel van die wet van Moses as dit vandag nie meer geld vir ons nie? Waarom het God in die eerste plek die Wet gegee? Moet ons nou heeltemal, totaal-en-al van die Wet vergeet?

Paulus het dit baie mooi gestel toe hy dit met ‘n testament vergelyk het. God het Sy testament aan Abraham bekend gemaak. Daarin beloof Hy onder meer vir Abraham dat al die nasies in sy nageslag geseën sal word. Hiermee sê God vir Abraham (as jy tussen die lyne lees) dat Hy Jesus uit Abraham se nageslag sou laat voortkom, en dat Jesus die volkome vryspraak sou gee.

Soos ons reeds gesien het, was Abraham ‘n diep gelowige mens. Ongelukkig kan ons dit nie sê van al sy nakomelinge nie, en dikwels het hulle die Here baie diep bedroef. Om een voorbeeld te noem: tydens God se reddingsoperasie waar Hy hulle uit die kloue van die Egiptenare verlos het, is Moses op die berg Sinaï in heilige oomblikke in God se teenwoordigheid, terwyl die volk aan die voet van die berg in spanning wag. Die wagtyd raak te veel, en hulle begin met afgodsaanbidding terwyl die heilige gesprek tussen God en Moses plaasvind. Hierdie mense het nie ‘n begrip gehad van hóé om met God te verkeer, soos wat hulle voorvader Abraham kon doen nie.

God moes ingryp en vir hulle riglyne neerlê oor wat van ‘n mens verwag word. Hy moes vir hulle uitspel oor hoe ‘n mens aan God eer moes bewys, en hoe jy jou medemens moes behandel. Steeds was dit nie genoeg nie, en later moes Moses allerhande Godsdienstige rituele inbring om die rebelse en hardkoppige klomp Israeliete se gedagtes op God te vestig. Spesiale feeste moes sorg dat die mense onthou dat dit God alleen is wat redding kan gee. Hy het hulle immers uit die slawerny van Egipte gered! Ander rituele moes hulle herinner aan die heiligheid en reinheid van God.

Steeds was hierdie dinge nie genoeg nie, en die arme moedelose Moses moes in fyn detail vir die weerbarstige klomp elke titteltjie en jota kom uitspel, nes jy vir ‘n stout kind reëls en regulasies moet neerlê. Hulle was soos ‘n klomp babas wat elke oomblik van die dag opgepas moes word. Die doel van die wet was dus om as “babawagter” hierdie sondige klomp op te pas. Nooit was die doel van die wet om redding te gee nie. God se genade alleen kon redding gee. As die saak tussen jou en God reg is, dan sal jy mos vir God liefhê en outomaties die regte dinge teenoor Hom doen! Die liefdesuitvloeisel maak dat dit oorloop na jou medemens, en dat jy ook aan hóm dieselfde liefde en respek sal gee.

In God se testament aan Abraham beloof Hy die Messias. Die wet moet dien as ‘n “tussenganger” totdat daardie belofte in vervulling gaan. Die belofte is intussen vervul en die beloofde Messias het gekom. Dit maak dan ook uiteraard die wet “oorbodig”. Beteken dit dat ons gladnie meer die dinge wat in die wet vervat is hoef na te kom nie? Nee, beslis nie om die saligheid te verkry nie! Dit moet egter ‘n natuurlike uitvloeisel wees om hierdie dinge natuurlik te doen uit dankbaarheid, want dit is mos hoe ‘n mens optree teenoor God en jou medemens. Die belangrike punt wat Paulus hier wou tuisbring is dat die wet nooit ‘n verlossingsmiddel is nie, maar dat GELOOF in CHRISTUS die enigste weg na verlossing is!

Gebed:

Here, dankie vir U verlossingswerk, want my beste werke sou my nooit verlossing kon gee nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026