Die Storm

10 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Storm

Markus 4:35-41

Bewend van angs staan die Israeliete saamgedrom op die strand van die Rietsee. Voor hulle lê die uitgestrekte water, en agter hulle kan hulle die leërmag van die Egiptenare in ‘n reuse stofwolk sien aankom. Vandag is die dag dat die ganse volk hier uitgewis gaan word! Wanneer die son sak, sien die Israeliete die rye en rye strydwaens met hulle wrede ruiters op hulle afgestorm kom, en die volk kerm van angs. Maar dan gebeur die eerste natuurwonder: ‘n pikswart wolkbank sak voor die aanstormende Egiptenare in, sodat hulle niks voor hulle kan sien nie. Maar die wonder is nog nie verby nie, want aan die Israeliete se kant is hierdie selfde wolkbank helder verlig, sodat dit vir hulle amper soos daglig is. In Genesis 14:19 lees ons: “Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem.” Wanneer daar van die Engel van God in die Ou testament gepraat word, word verwys na Jesus, die Seun van God.

Maar steeds is dit het einde niet: Op God se bevel strek Moses sy hand uit oor die see, en dan steek daar ‘n sterk oostewind op wat die water van die see oopkloof, sodat daar ‘n wye pad drooggelê word waardeur die Israeliete van die aanstormende gevaar kan ontsnap. Soos een man beweeg die volk, drie miljoen van hulle, reg deur die nag deur die see. Aan weerskante van hulle sien hulle die wal water staan soos ‘n muur van glas.

Wanneer die son die volgende oggend begin opkom, sit die laaste Israeliete voet aan wal aan die anderkant van die see. As hulle terugkyk, sien hulle aan die oorkant van die see-pad die Egiptenare met hulle strydwaens. Hierdie selfde pad wat God so pas vir hulle gemaak het om van die vyand te ontsnap, word nou die pad vir die vyand om hulle te agtervolg. Maar dan gebeur daar iets baie snaaks: die vreesaanjaende Egiptiese strydwaens se wiele begin skielik los kom en afval. ‘n Reuse verwarring heers onder die aanstormende mag. Die finale slag kom as die muur van water weerskante van hulle eweskielik verkrummel, en hulle ingesluk word deur die see.

Baie jare later is daar weer ‘n klompie Israeliete wat in groot nood was, en weereens sou dit net ‘n wonderwerk wees wat hulle kon red, ‘n baie groot wonderwerk!

Alles het begin toe Jesus vir Sy dissipels gesê het dat hulle na die oorkant van die meer moes vaar. Die see van Galilea is eintlik maar net ‘n groot meer met kalm water. Maar dit is bitter bedrieglik, want aan die ander kant van die meer is daar baie strategies-geleë klowe wat soos tregters winde kan kanaliseer oor die meer en skielike, hewige storms kan veroorsaak. Binne minute kan die meer verander van ‘n rustige poeletjie na ‘n kookpot. Terwyl hulle op die meer was, het Jesus op ‘n bank lê en slaap. En dan tref so ‘n skielike storm hulle. Reuse golwe ruk hulle skuitjie heen en weer en slaan oor die kant van die skuit. Vinniger as wat hulle kan uitskep, stroom die water die skuit binne.

Angsbevange skud die manne vir Jesus wakker: “Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

En dan gebeur die wonderwerk as Jesus die storm aanspreek: “Hou op! Bedaar!” En onmiddellik gaan lê die wind, en ‘n groot stilte kom oor hulle.

n Sekere Ds. Cruywagen het eenmaal verklaar dat dit nie help om te bid as jy in die nood is nie. Jy gaan verniet bid vir reën, want dit is slegs die natuurkragte wat reën kan maak!

Hierdie leraar het, soos dit vir my lyk, nog nooit die Bybel waarlik gelees nie. Hy het nie gelees van Moses nie, en van hoe Jesus die storm stilgemaak het toe Sy dissipels in die nood was nie. En hy het ook nie gelees van Elia wat gebid het dat dit moet ophou reën nie. En na die verskriklike droogte het hy weer gebid vir reën, en toe moes almal hardloop want die gróót reën was daar! Weet hy dan nie dat ons ‘n Almagtige God dien vir Wie absoluut niks onmoontlik is nie?

Oor die afgelope jare het ek talle kere die antwoord op gebed ervaar, dinge wat ek nie anders kan as om toe te skryf aan God wat luister na my stem, en my gebed verhoor het nie.

Sou Moses ooit kon droom dat die Here sy gebed op so ‘n wonderbaarlike wyse sou beantwoord? En het die dissipels ooit kon droom dat Jesus die mag het om selfs die natuurkragte te verander?

Ek het “toevallig” die storie in Die Beeld gelees voor ek hierdie dagstukkie geskryf het. Toevallig? Nee! Hierdie storie het gekom as antwoord op my gebed om my die woorde vir hierdie dagstukkie te gee.

Die twee voorbeelde uit die Skrif vanoggend, is enkeles van duisende voorbeelde van Goddelike ingryping op mense se gebed. Jesus word hier deur Markus beskryf as God vir Wie niks onmoontlik is nie. Vandag is Hy nog presies dieselfde as in Moses se tyd en ook Markus se tyd. Hy is ewig! Hy is almagtig! En Hy luister wanneer ons bid!

Gebed:

Here, dankie dat ek met U kan praat en ook my behoeftes na U kan bring. Dankie dat ek verséker kan weet dat U luister na my gebed.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026