Die Storm Der Storms

11 December, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Storm Der Storms

Handelinge 27:13-44

VIDEO | OUDIO

Het jy al ooit ‘n groot taak aangepak sonder om die nodige navorsing te doen of te luister na goeie raad? Wanneer dit klaar te laat is, kom jy gewoonlik eers agter dat dit ‘n reuse fout was! Dit het al menige maal met my gebeur! En dan wil ek myself skop omdat ek nie geluister het toe iemand my gewaarsku het nie. Dan kan ek skreeu omdat ek nie vooraf my huiswerk gedoen het en al die gevolge behoorlik geweeg het nie!

Na hulle nagmerrie-vaart om Kreta, gaan parkeer hulle die skippie in die hawetjie by Mooihawens. Dié oggend word hulle wakker met ‘n ligte suidewindjie in die hare. Paulus kry die gevoel dat alles nie pluis is met die weer nie en hy waarsku die kaptein dat hulle nét daar moes bly, anders sou hulle ‘n ramp tegemoetvaar! Die kaptein lag egter sy waarskuwings af want die briesie was so mooi en wat kon tog verkeerd gaan? Paulus se moed sak in sy leersandale as hy sien hoe die kaptein hom ignoreer en tóg die seile span en langs die kus van Kreta af begin vaar. Hy weet toe kwansuis van ‘n ander, beter hawe aan die westekant van Kreta, ’n plek met die naam Feniks.

Alles het aanvanklik voor die wind gegaan totdat die wind skielik noordoos draai. Dit was ook nie lank nie toe word hulle ergste nagmerrie waar en die gevreesde woedende Noordoos waai hulle skippie soos ‘n kurkproppie diepsee in......

Totaal buite beheer word hulle rondgeslinger totdat hulle genadiglik soos 'n vrot vel agter die eilandjie Kauda ingesmyt word. Hier kon hulle darem vir ‘n kort rukkie asem skep in die beskutting van die eiland en so op 'n manier vir die ergste van die storm voorberei. Agter die skip het hulle 'n reddingsbootjie saamgesleep. Dié was intussen propvol water gespoel deur die golwe. Haastig het hulle die bootjie ingesleep en leeggeskep. Toe die woeste golwe hulle skippie so rondgesmyt het, het dit geklink asof die vaartuig besig was om in stukke te breek. Die kaptein besluit dus terwyl daar so 'n effense stilte was om toue onder om die skip se buik deur te trek om te keer dat hulle skip totaal uitmekaar geruk word. Hulle gooi ‘n dryfanker uit om die verbysterende vaart waarmee die storm hulle voortgedryf het ‘n bietjie te probeer versag. Maar toe is hulle tyd ook weer op!

Die kortstondige beskutting van die eilandjie was verby en hulle gee hulleself maar oor aan die genade van die storm!

Daar was 276 mense aan boord van hierdie vragskip, 276 bitter bang mense! Hulle kon al sien hoe hulle “skuitjie” deur die geweld van die storm uitmekaar geruk word ten spyte van die toue om die buik. Die skeepsvrag word oorboord gegooi om hulle darem so ‘n buitekansie te gee. Later gooi hulle selfs al die oorbodige takelwerk en apparaat ook oorboord.

Dan oorval die nag hulle boonop, ‘n nagmerrie nag sonder sterre en sonder enige manier waarop hulle die nodige navigasie kon doen. Onthou, hulle het nie ‘n GPS gehad nie! Toe die nag uiteindelik verby was en die son die volgende oggend moes opkom, was daar net swaar, swart wolke en nog steeds die angswekkende storm wat voorttuur......

‘n Volle week later was daar steeds géén einde aan die verskrikking nie! Die arme manne het alle hoop verloor om ooit weer gered te word - die einde was in sig! Hulle kos was reeds op en wie kon in elkgeval eet as jy so woes rondgeskommel word! Die week word uiteindelik twee weke. Twee bitter lang weke van nagmerrie op rondgeskommelde nagmerrie!

Een oggend roep Paulus die bedremmelde seevaarders bymekaar. Eers tik hy hulle hard oor die vingers oor hulle nie na sy waarskuwings wou luister nie maar nét daarna bemoedig hy hulle weer. Hy verseker hulle dat nie een van hulle sou omkom in hierdie storm nie! Ja, die skip sou wel vergaan, maar elke siel op die skip sou gered word. Paulus sê dat ‘n engel hom daardie nag ‘n boodskap kom bring het en hom hierdie goeie nuus meegedeel het. Paulus móés nog eers voor die keiser verskyn! Sy aardse taak was beslis nog nie afgehandel nie en dus sou sy lewe gespaar word en so ook almal saam met hom!

In die donkerste uur is dit dikwels die gelowige se taak om ‘n liggie te wees vir die mense rondom hom wat sonder hoop is. Ek en jy kan ‘n verskil maak met ‘n helder, positiewe uitkyk op die lewe in ‘n tyd van krisis. Ons moet aktief soek vir die positiewe in ‘n negatiewe situasie en ons daarin verbly. Sodoende kan ons almal rondom ons positief beïnvloed.

Om vir twee weke lank hulpeloos in ‘n storm rond te dobber op die Adriatiese see, iewers tussen Balkan en Italië, is géén grap nie. Maar uiteindelik is daar land in sig. Die diepte van die see word getoets en inderhaas word ankers uitgegooi om te keer dat die skip op die rotse loop. Paulus het ‘n stuk brood gevat, God daarvoor gedank en dit geëet. Toe moedig hy die ander aan om ook iets te eet want daar sou vir hulle nog ‘n harde tyd voorlê! Die koringvrag wat nog op die skip was word oorboord gegooi om hulle darem ‘n buitekans te gee om die strand te bereik en toe kap hulle die ankertoue af sodat die skip na die eiland toe kon dryf.

Die skip tref egter ‘n sandbank en word uitmekaar geslaan deur die golwe. Die soldate wou al die gevangenes, Paulus inkluis, doodmaak sodat niemand sou ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter van 'n gewisse dood gered uit dankbaarheid vir wat Paulus gedoen het. Desperaat spring almal oorboord en swem vir die land. Party moes aan stukke plank vashou om nie te versuip nie maar uiteindelik kom elke siel wat aan boord was veilig aan land, meer as ‘n duisend kilometer van waar hulle vir die eerste keer deur die storm getref is.

Paulus se voorspelling het waar geword. En weereens het die Here hom gered van ‘n gewisse dood want Paulus se taak was nog lank nie afgehandel nie!

Gebed:

Dankie Here, dat U vir my as gelowige hoop gee, selfs in bitter swaar tye. Help my asseblief om daardie hoop sprankelend oor te dra na almal met wie ek in aanraking kom, om sodoende U wonderbare lig uit te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026