Die Storie agter die Storie

18 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Storie agter die Storie

Handelinge 9:26-31

VIDEO | OUDIO

n Gerug versprei onder die Christene van Jerusalem: “Hy is terug! Die wrede vervolger wat so baie gelowiges in die tronk laat beland het, is na drie jaar wat hy net verdwyn het weer terug! Kruip weg, anders is die kerker jou voorland!”

Maar ek het dan gehoor dat hy tot bekering gekom het, is dit nie so nie?”

Wie, Saulus? Nog nooit! G’n toegewyde Fariseër van sý formaat kan ooit tot bekering kom nie, dis mos totaal onmoontlik! Al manier wat hy tot bekering sou kom is as Jesus Sélf uit die hemel sou ingryp!”

Met angs in hulle harte vir verdere vervolging, kruip die gelowiges van Jerusalem weg vir die fanatiese Saulus van Tarsus wat in Jerusalem aangekom het ná sy “uitreik-aksie” na Damaskus én natuurlik die drie jaar wat hy intussen in Arabië weggekruip het. Intussen probeer die arme Saulus sy bes om maar net kontak te maak met die gelowiges want hy het só baie om met hulle te deel. Hy het só baie om vir hulle te vertel na sy asemrowende ervaring op die Damaskuspad. Hy word egter vermy soos die pes want niemand waag dit om hom te vertrou nie!

Uiteindelik ontferm ‘n man met die naam Barnabas hom oor Saulus. Hy het die gerugte gehoor van die kêrel se kragdadige bekering en dalk moet ‘n mens hom maar vertrou. “Saulus my broer, kom ek vat jou na die sogenaamde ‘aanhangers van die pad.’” Hierdie is, terloops die naam wat die eerste Christene hulleself toegeëien het omdat hulle die “pad van geregtigheid” aangehang het.

Saulus hou sommer dadelik van Barnabas. Met hierdie man kan hy nog ‘n baie lang pad saamloop! Inderdaad sou hierdie twee manne 'n paar jaar later baie ver paaie saamstap op hulle sendingreise. Maar hierdie is ‘n storie vir anderdag!

Ek kan my voorstel, die skok wat ‘n paar van die gelowiges gekry het toe Barnabas die dag met Saulus by een van hulle byeenkomste opdaag! “Wat sou die man besiel om hierdie wrede vervolger hierheen te bring? Nou is ons doppie beslis geklink!”

Baie gou kom hulle egter agter dat Saulus opreg is en dat sy bekering nie maar net ‘n storie is nie. “En kan hierdie man vir jou preek!” fluister hulle vir mekaar. “Waar sou hy so vinnig geleer het om so mooi te preek?” Wat hulle dalk nie geweet het nie was dat Saulus ‘n uitgebreide kennis van die Skrifte gehad het wat skrik vir niks. Vir jare lank het hy by die voete van die beroemde leermeester, Gamaliël gesit as deel van sy opleiding. Daar was nie ‘n wet of voorskrif waarvan hy nie geweet het nie. Die profete het hy almal uit sy kop geken - Jesaja, Daniël, Esegiël, die hele lot! Nou kon hy hierdie asemrowende kennis van hom toepas want hy het die lig gesien, letterlik en figuurlik! En skielik het Saulus besef hoe alles inmekaar pas.

Ek gaan in die Sinagoge preek,” deel Saulus die gemeente na ‘n rukkie mee.

Jy kan nie,” probeer hulle hom keer. “Die Jode gaan jou doodmaak as jy in die openbaar gaan preek!” Maar daar het steeds ietsie van die onstuitbare Saulus in hom agtergebly en niemand kon hom oortuig om van sy voorneme afstand te doen nie. Later in Lukas se verhaal sal ons sien dat Saulus net meër hardkoppig geraak het! As hy dit eers in sy kop gekry het dat hy wou preek, dan het niks en niemand hom gestuit nie! Nie eers 'n pak slae, die dood of selfs steniging nie!

En so kry Saulus sy eerste vuurdoop. Hy lewer die een vurige preek na die ander in al die sinagoges van Jerusalem. As ‘n boorling van Tarsus, praat hy natuurlik ook vlot Grieks en een van sy grootste vreugdes was om lang redenasies met die Griekssprekende Jode aan te knoop. Hy was immers ‘n redenaar van formaat! Maar toe begin dinge skeefloop. Eers was dit net dreigemente dat hy moes ophou om hierdie “snert” van Jesus te verkondig. Later word dit ernstige doodsdreigemente en die uiteinde van die saak was dat Saulus moes vlug vir sy lewe! Al wat ‘n Griekssprekende Jood was, wou hom doodmaak. Vir die tweede keer sedert sy bekering moes sy mede-gelowiges hom help om van ‘n bloeddorstige skare te ontsnap. Eers pas na sy bekering in Damaskus toe sy vriende hom met ‘n mandjie deur ‘n opening in die stadsmuur moes laat afsak, anders was dit dáár al klaarpraat met hom! Saulus vlug na die hawestad Sesarea en vertrek per skip na sy geboortestad, Tarsus. Hy laat die Jerusalem gemeente agter met ‘n swaar hart en mooi herinneringe!

Dit was egter nie alles verlore nie en Lukas vertel vir ons dat die kerk regdeur Judea, Galilea en Samaria ‘n tyd van rus en vrede beleef het. Die Here het dit só beskik dat hulle ‘n blaaskans kon kry om geestelik te groei en gevestig te raak. Verder moes hulle ook die kans kry om die kragtige werking van die Heilige Gees in hulle lewens te kon beleef. O en natúúrlik het die kerk ‘n bloeitydperk beleef en sterk gegroei!

n Wonderlike verhaal, is dit nie? Wonderlik hoedat die Here voorsien. Dieselfde Here voorsien vandag steeds en al lyk dinge soms bitter donker, kan ons steeds weet dat Hy in beheer is en dat daar ‘n wonderlike doel agter alles is!

Gebed:

Here, soms lyk dit vir my ook asof alles verlore is, maar dan kan ek my oog slegs op U hou. Dankie, Here! Help my om ook soos Saulus van ouds die Woord onverskrokke uit te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026