Lukas 16:1-13
Wanneer dit by geldsake kom, kry jy baie slim mense wat elke truuk onder die son uitdink om vinnig stinkryk te word, en in die proses gee hy nie om hoeveel mense langs die pad sneuwel nie. Telkens is daar nuusberigte van die slim manne wat uitgevang is, en elke keer is daar sommer baie miljoene op die spel. Die hartseer is dat dit dikwels pensionarisse is wat hulle pensioengeldjie wou belê, wat die onderspit moet delf en alles verloor. En dit terwyl die swendelaar baiekeer skotvry daarvan afkom, bloot op ‘n tegniese punt in die hofsaak. Ja, en wat van al dié wat nooit eers uitgevang word nie?
Jesus vertel juis ‘n storie van so ‘n kêrel wie se bestuurspraktyke van sy baas se sake baie verdag was. Die baas het snuf in die neus gekry, en toe vra hy die bestuurder om te kom verslag doen. Die kêrel het sommer dadelik gesien dat hier gróót moeilikheid kom, en toe begin hy plannetjies beraam om sy eie bas te red. Hy probeer nie eers verskonings maak by sy baas nie, want hy weet dat hy so skuldig is soos die houtjie van die galg. Wat doen hy? Hy koop die mense om wat vir sy baas geld skuld, hopende dat hy in hulle goeie boekies sal kom en dat hulle hom weer sal help as hy later werkloos is. Hy het al die stewel sien kom!
Toe die baas agterkom van die gekonkel, sê hy dir hom: “Dit was nou baie slim!” Eintlik was dit sarkasties bedoel, want die baas was die een wat gely het onder die kêrel se kullery. Jesus se kommentaar oor hierdie storie is: “Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.” (v.8) Hiermee wil Hy sê dat die wêreldling nie bang is om allerhande slinkse beginsels tot sy eie voordeel toe te pas nie. Gelowiges (mense van die lig) kan eintlik by die wêreldlinge gaan leer! Nie om oneerlike beginsels te gebruik nie, maar om die beginsels van die lig (God se voorskrifte) te gebruik en prakties toe te pas tot hulle eie voordeel en die voordeel van ander mense.
In vers 9 maak Jesus ‘n uitspraak wat dikwels óók verkeerd verstaan word: “Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.” Mammon is ‘n benaming vir ‘n mens se aardse besittings of jou rykdom. Dit kan jou baie maklik van God af weglok en jou ‘n slaaf maak. Dit is vals sekuriteit! Met hierdie uitspraak wil Jesus sê dat jy jou geld moet gebruik op ‘n goeie manier. Jy moet dit letterlik gebruik om vriende te maak. Prakties sou dit beteken dat ‘n gelowige die geld wat God onder jou bestuur geplaas het só moet gebruik dat dit ‘n instrument word in die hand van God. Jy en jou finansies word op hierdie manier ‘n werktuig in God se hand waardeur Hy vir ander mense sorg.
‘n Gelowige moenie lewe soos ‘n dief nie, want ‘n dief sê: “Jou geld is myne! Baie dankie, ek sal dit maar vat!” Aan die ander kant is die vrek se lewe ook verkeerd, want hy sê: “My goed is mý goed, los dit uit!” Die humanis het ‘n baie “edel” uitkyk met: “My goed is joune! Vat gerus daarvan vir jou...”. Nou wat moet die gelowige se lewensuitkyk dan wees? “Alles wat ek besit behoort eintlik aan God, en om daardie rede sal ek dit met jou deel.”
Die vraag wat ons elkeen vanoggend vir onsself moet afvra is, hoe hanteer ek my finansies? Klou ons krampagtig vas aan die goed en geld wat die Here aan my toevertrou het? Ons lewe toenemend in ‘n wêreld waar die verskil tussen ryk en arm al hoe groter en groter word. Aan die een kant is daar die mense wat in peperduur blink motors rondrits en in paleise bly. En aan die ander kant is daar die miljoene wat in haglike omstandighede kop bo water probeer hou, dalk selfs snags op ‘n sypaadjie iewers in die bittere koue moet slaap. Dalk is jy een van die bevoorregtes. Dink jy ooit aan die nood van die brandarmes? Geld het in die toekomstige lewe absoluut geen sekuriteitswaarde nie. Dit gee ‘n baie beter belegging as jy besluit om in menselewens te belê. Ja, ek ken baie welaf gelowiges wat altyd ‘n oop hand en ‘n oop beursie het vir armes. Die een kenmerk van hulle lewens is die vreugde wat uit hulle straal.
Jesus sluit die vertelling af met die woorde dat jy ‘n besluit moet neem. Jy kan nie tegelyk vir God én die geldgod Mammon dien nie. Dit is óf die een óf die ander. Jy moet besef dat alles wat jy het, aan God behoort en dat jy dit dus slegs vir Hom bestuur. Jy moet jouself dus gereeld die vraag afvra: “Bestuur ek God se bates op ‘n doeltreffende manier? Bestuur ek dit op die wyse waarop God wil hê dat ek dit bestuur?” Weereens is die maatstaf wat Jesus gegee het in die liefdesgebod, dat ek nie allen vir God moet liefhê nie, maar terselfdertyd óók my medemens. Dit is van kardinale belang, want as ons waarlik liefde wil uitleef, sal ons bereid wees om God se gawes met minderbevoorregtes te deel.
Gebed:
Here, ek moet vanoggend bieg dat ek nie eers náástenby ‘n goeie bestuurder is van die bates wat U my gegee het nie. Help my asseblief om U goed reg te gebruik.