Die Skrif is aan die Muur

13 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Skrif is aan die Muur

Daniël 5:17-30

VIDEO | LUISTER

Soms neem ons wilde besluite sonder om te dink aan die gevolge wat dit kan inhou. Voordat jy sulke besluite oorweeg, lê dit eers voor God en vra die Heilige Gees om jou te lei daarin.

Belsasar het ook besluite geneem wat hy beslis nie geweeg het nie. Toe die hand verskyn en teen die muur begin skryf, was dit reeds te laat vir hom om om te draai. Hy het die punt verby gesteek waar herstel enigsins moontlik was. Die walglike manier waarmee hy die spot gedryf het met die Heilige God, was die laaste spyker in sy kis.

Daniël luister die arrogante, nou-bewende koning uit, en dan, sodra hy ‘n woordjie inkry, vertel hy vir Belsasar wat hy met al sy geskenke kan doen. Hy wil nie sy talente misbruik om vir homself eer in te oes of te verryk nie!

Daniël begin deur vir Belsasar die agtergrond te skilder van sy voorganger, Nebukadnesar. Die Allerhoogste God het aan daardie koning mag en roem en eer gegee, en hy het groot ontsag ingeboesem by al die volke. Maar hy het gedoen net wat hy wou, en sy roem het na sy kop gegaan - hy het hoogmoedig en verwaand geword. En toe kom God en vat alles van hom af weg – sy roem, sy koningskap én sy eer. Hy is verstoot uit die samelewing en hy het saam met die wilde diere geleef. “Die Allerhoogste God het mag oor al die koninkryke van die aarde, en Hy sal daaroor aanstel wie Hy wil,” sê Daniël.

Daniël vertel nie hierdie verhaal om dowe neute nie: Vir Belsasar was daar ‘n les te leer uit Nebukadnesar se lewe, maar hy het dit geïgnoreer, want hy is selfs nog meer verwaand as sy voorganger. Die laaste strooi was toe hy die heilige dinge uit die tempel van God onteer het, en daardeur vir God ‘n klap in die gesig gegee het. Die skrif is aan die muur (letterlik én figuurlik), júís oor hierdie gebeure!

Na ‘n lang inleiding kom Daniël tot die punt en hy lees die vreemde boodskap teen die muur: “Mene, mene, tekel ufarsin - Getel, getel, geweeg, verdeel” - slegs vier woordjies wat teen die muur staan - vier woorde met reuse gewig en betekenis. Daniël verduidelik: God is die Een wat beskik oor die koning se lewe en die duur van sy koningskap. Hy het sy dae getel en nou gaan Hy ‘n einde daaraan maak. Die tweede “Geweeg”, beteken dat Belsasar baie beslis níé die swaargewig is wat hy gemeen het hy is nie. God het hom geweeg, en gans te lig gevind, want hy tree dwaas op. En dan die derde, verdoemende woord: “Verdeel” - die Babiloniese koninkryk gaan verdeel word en aan die Mediërs en Perse gegee word.

Die verhaal eindig waar die koning tóg besluit om vir Daniël te vereer, al wou hy nie die eer hê nie - koninklike klere, ‘n goue ketting en derde in rang in die koninkryk. Maar dit is ook nie hééltemal die einde van die verhaal nie, want in slegs een kort sinnetjie word vertel dat Belsasar nog daardie selfde nag vermoor is. Uit die volgende hoofstuk kan ons aflei dat Darius die Mediër aan bewind gekom het, en dat die Babiloniese ryk daarmee tot ‘n einde gekom het.

By geleentheid het iemand gesê, dat die les wat ‘n mens uit die geskiedenis leer, is dat niemand óóit ‘n les uit die geskiedenis leer nie! Hoe waar! Mens sou dink dat Belsasar uit Nebukadnesar se geskiedenis sou leer, maar nee!

Drie van die verhale wat ons tot dusvêr gelees het, bevat presies dieselfde tema (met variasies), naamlik dat God bestuur en dat Hy beskik. Die feit dat dieselfde tema oor en oor gebruik word, maak ons oë oop vir ‘n baie belangrike stelling: “God leef en regeer!” Ons moet vandag weet: God is betrokke by gebeure in hierdie wêreld, al is dit nie altyd vir ons duidelik of voorspelbaar nie. As die mens dink dat hy die verloop van die geskiedenis kan bepaal, dan is hy uiters verwaand!

Ek dink dat daar ‘n ander baie belangrike ding is om te leer vir ons Suid Afrikaners: Omdat God regeer, is dit nie nodig vir ons om oorsee te vlug vir ons omstandighede nie. Ja, natúúrlik voel ek die misdaad aan my bas – net ‘n week gelede het ‘n skelm hom verlustig in my bankrekening en seker lekker partytjie gehou met my swaarverdiende geldjies! Dit maak my egter nie minder lief vir my land nie, want God is beslis in beheer. Iemand wat onder die haglikste denkbare omstandighede in Zimbabwe was, het eenmaal vir my gesê dat hulle beslis nie sou trek nie - dit bly steeds die land waarvoor hulle lief is, en waar God hulle geplaas het met ‘n doel!

Gebed:

Here, laat my asseblief nooit vergeet dat U regeer en beskik en in beheer is nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026