Openbaring 8:1-13
Wanneer jy sekere dele van Openbaring lees, dan is daar ‘n gevaar dat jy in ‘n depressie kan verval, want jy sien net dood en verwoesting en oordeel. Daarom moet jy dit altyd in die regte konteks lees. Jy moet met ander woorde die groot boodskap van Openbaring altyd in jou agterkop hou. As kinders van God moet ons dus positief daarna kyk, en verby die verskrikking die genadige God sien wat my en jou kom red het uit die verskriklike oordele. Ons moet ook ‘n genadige God sien wat selfs terwyl die oordeel aan die gang is, die sondaar nóg ‘n kans gee om tot bekering te kom.
Die Lam maak die sewende seël oop, en in die hemel kom daar skielik ‘n doodse stilte. Almal hou asem op vir die verskrikking wat gaan volg. Selfs die engele wat besig is om God te loof bly vir ‘n halfuur lank stil, terwyl die spanning opbou.
Dan verskyn daar sewe engele, elkeen met ‘n trompet. Enige oomblik nou gaan die verskriklike oordele die aarde tref. Maar voor dit kan gebeur moet daar eers nóg ‘n engel kom met ‘n wierookbak. Hy gaan staan by die altaar en gooi kole en wierook saam, sodat die heerlike geur daarvan die vertrek vul.
Het jy al ooit in die veld gesit by ‘n kampvuurtjie, en dan laataand, as die naguiltjies vir jou sing, dan gooi jy ‘n paar droë takkies van ‘n Sekelbos op die gloeiende kole? Of ’n stukkie Mopanie? Die heerlike, asemrowende geur van die Sekelbos vul die bos rondom jou. Dis hemels! Dan lyk die nag nog soveel mooier, en die sterre soveel helderder, en dan kan jy nie anders nie as om die Skepper van dit alles te loof en prys in ‘n jubellied wat jou hart laat galop.
Die geur van die wierook het saam met die gebede van die gelowiges die hele vertrek gevul. Bid ek en jy nie ook maar elke dag dat die verskriklike ongeregtigheid wat die wêreld oorheers, al die geweld en misdaad, moord en oorloë tot ‘n einde moet kom nie? Ons gebede val nie op dowe ore nie! God hoor ons gebed, want dit styg op na Hom soos die geur van daardie wierook (of die Sekelbos).
Die eerste engel tree na vore. Hy lig sy trompet en blaas. Dit is die aankondiging van God se eerste oordeel. Die onbeskryflike verwoesting en verskrikking wat hierop volg omklem jou hart. Maar vir die gelowiges, en veral diegene wat so verskriklik gely het onder die verdrukking, is die geluid van hierdie trompet die mooiste musiek óóit! Hael gemeng met vuur en bloed verwoes ‘n derde van die aarde. Verskriklik! Maar selfs hierin sien ons nog God se groot en liefdevolle genade, want twee derdes van die aarde word nóg ‘n kans gegee om tot besinning te kom.
Wanneer die tweede trompet weergalm, word ‘n derde van die see getref, en dit word bloed. Dit herinner ‘n mens aan die dodelike rooigety wat soms die Weskus tref, waar die see letterlik rooi word van ‘n sekere tipe plankton wat alles vergiftig. Johannes se visioen is iets soos ‘n brandende berg wat in die see gegooi word. Klein-Asië was goed bekend met vulkane, waar die gloeiende lava teen die berghange afrol. Dink maar aan die verwoesting wat so ‘n vulkaan aan die stad Pompeii aangerig het, waar al sy inwoners ‘n gruweldood gesterf het. Hoeveel groter gaan hierdie oordeel van God nie wees nie! Maar weereens is God se genade steeds daar, want twee derdes van die aarde word nog ‘n kans gegun.
As die derde trompet weerklink, val ‘n brandende ster uit die hemel, en ‘n derde van al die varswaterbronne word besmet. Onwillekeurig dink jy aan die groot kommer wat die suurwater veroorsaak wat in die ou myne opstyg en al die waterbronne bedreig. Selfs die fondasies van die groot geboue kan in die slag bly.
Net so terloops, die ster wat hier genoem word se naam is Wildeals, of in Engels Wormwood. Sommige doemprofete het beweer dat ‘n onsigbare planeet genaamd Wormwood Desember 2012 die aarde sou verwoes. Dit het toe nie gebeur nie.
Selfs die hemelruim word nie gespaar nie, en as die vierde trompet weerklink, word die son, maan en sterre getref sodat duisternis soos ‘n swart kombers oor die aarde hang. Maar steeds is daar genadetyd, want weereens is dit net ‘n derde van die dinge wat getref word.
Dan vlieg die arend hoog in die lug en waarsku al die bewoners van die aarde, oftewel die ongelowiges, van die angswekkende dinge wat nog gaan kom. God se oordeel is teen die ongelowiges gerig, en die arend wat hoog vlieg is vir almal sigbaar, sodat niemand kan sê dat hy nie gewaarsku is nie. God se besliste oordeel is opvallend, maar Sy verdraagsaamheid en genade, om steeds die ongelowige te probeer oorreed om tot besinning te kom, is nog soveel groter.
Gebed:
Here, my gebed styg vanoggend saam met dié van miljoene ander gelowiges op tot U soos ‘n heerlike wierook: kom gou, Here Jesus, en maak ‘n einde aan die verskriklike ongeregtigheid op aarde.