Lukas 17:20-37
“Laat U Koninkryk kom, Here”, bid ons die Onse Vader-gebed, sonder om werklik te besef wat ons bid. Waar en wanneer is hierdie “Koninkryk” en wat is dit? Is dit dalk Jesus se wederkoms?
Nee, Jesus verduidelik Sélf wanneer die Fariseërs Hom konfronteer met hierdie tameletjie. “Dit is hier by julle”, sê Jesus. “Sien julle My dan nie!”, kon Jesus dalk vir hulle uitgeskreeu het. God se Koninkryk het gekom met Jesus se koms na die aarde. Die grootste hoogtepunt in die Koninkrykstyd was die dag toe Jesus die groot losprys betaal het vir ons sondes. Vir die manne wat Hom daardie vraag gevra het, was daardie tyd baie naby. Hulle kon dit persoonlik beleef. Wat ‘n ongelooflike voorreg! Maar hulle het verkies om dit te ignoreer.
Met Jesus se laaste kruiswoord is alles volbring. Die volle prys is betaal en die nuwe bedeling het aangebreek, die bedeling waarin ek en jy tans staan. Ons staan midde-in die bloeitydperk van die Koninkryk. Dalk nie hééltemal so nie, want weereens is die tyd besig om baie vinnig uit te loop, en ons kan alreeds die donker wolke sien saampak vir die groot dag van Jesus se wederkoms.
11 September lê nog vars in ons geheue. Mense het hulle gewone gang gegaan. Hulle het gaan werk, besigheidstransaksies gedoen, hulle E-pos gelees. En toe skielik was daar ‘n oorverdowende slag wat die handelsentrum ruk. Paniekerig het mense probeer om uit die gebou te vlug, maar dit was alreeds te laat. Minute later word die tweeling-gebou langsaan ook getref, en voordat die hysbakke nog die eerste mense onder kon aflewer, stort die twee geboue ineen met duisende mense in hulle ingewande. Binne minute was alles verby! In ‘n oogwink!
Aan die anderkant van die wêreld lê mense rond op die spierwit strande van ‘n eksotiese eiland. Die see is soos ‘n spieël, byna nie eers ‘n rimpelinkie nie. Wát ‘n paradys! En dan gebeur ‘n baie snaakse ding, die water begin skielik terugtrek. Mense verwonder oor hierdie verskynsel van ‘n bonatuurlike laagwater. Dan tref die tsunami-golf hulle totaal onverwags. Derduisende mense word in ‘n oogwink van die gesig van die aarde weggevee. Niemand het dit ooit verwag nie. Net soos niemand ooit die ramp van 11 September verwag het nie!
Jesus verduidelik vir Sy dissipels van die ramp in Noag se tyd. Jaco Thom het jare gelede ‘n kostelike reeks boekies geskryf: “Die Bybelkoerant”. Hierin vertel hy van Bybelgebeure in die vorm van koerantberigte. Een beriggie het gelui dat almal gedink het dat die ou man (dis nou Noag) totaal koekoes geraak het, om in die middel van die woestyn ‘n skip te wou bou. En toe hy boonop nog daardie spul wilde diere in sy skip injaag, toe lê hulle van die lag. Ja, en toe kom die reën. Maar selfs toe die water in strome van die berge afrol, spot die mense steeds met Noag. Alles was baie gou verby, en die menseverlies was ‘n katastrofe. Slegs ‘n klein handjievol in die buik van die groot skip het oorleef!
In die twee dorpe, Sodom en Gomorra, het mense in sonde voortgeleef. Toe kom die dag van die groot ramp, van “swael en vuur.” Die enigste oorlewendes was Lot en sy twee dogters. Selfs sy vrou het in die slag gebly toe sy begin terugverlang het na die lekker lewe in Sodom. Vir duisende mense was daar géén ontsnapkans nie. Jare later het dieselfde lot die welvarende stad Pompeii getref. Al wat oorgebly het is die spook-vorms van duisende mense wat gesmag het na nóg ‘n kans terwyl hulle verswelg is deur as en giftige rook.
Die mense van Sodom en Gomorra moes sékerlik die tekens gesien het en die inwoners van Pompeii moes die rammelinge in die berg gehoor het. Noag het die laggende, spottende skare wat om sy skip saamgedrom het gewaarsku, maar hulle het nie ag geslaan daarop nie.
Vandag is ál die tekens reeds daar dat die wederkoms van Jesus gaan plaasvind nét soos dit in die Bybel beskryf is. Die dag en tyd kan niemand voorspel nie. Dit kan dalk nog tien of ‘n honderd jaar wees, maar dit kan dalk ook vandag nog gebeur! Die tsunami in die Ooste was die gevolg van spanning wat opgebou het in die aardkors oor ‘n paar jaar. Niemand kon voorspel presies wanneer die aardbewing so kom nie, maar ál die tekens was daar dat dit wél sou gebeur. Nogtans het mense hulle nie daaraan gesteur nie.
Moenie dat jy onverwags gevang word met Jesus se wederkoms nie. Maak dóódseker dat jy gereed is daarvoor, want as jy nie is nie, is die dood wat wag ‘n verskrikking wat ek niemand toewens nie. Die vlammehel van 11 September is kinderspeletjies teen dit wat wag op onvoorbereides.
Wat dan van diegene wat gereed is? Hulle sal soos Noag en sy gesin veilig in die ark was, ook veilig wees. Daar is egter een baie groot verskil, want Noag was nog aardgebonde. As jy gereed is vir Jesus se wederkoms, is jou veilige hawe die nuwe Jerusalem soos in Openbaring beskryf. Asemrowend!
Gebed:
Here, ek sien met groot verwagting uit na U wederkoms.