Nehemia 13:15-22
Een mooi Sondag ry ek deur Durban na ‘n kerkbyeenkoms. En skielik sien ek iets wat ek nog nooit voorheen gesien het nie: winkels wat oop is en hulle goedere verkoop! Geskok trap ek rem om wéér ‘n slag mooi te kyk. Nee, dit was nie my verbeelding nie! Het ons regering dan nou só laag gedaal dat hulle handel op Sondae toelaat? Ek het my kop geskud en verder gery. Binne enkele maande was daar haas nie ‘n enkele winkel wat nie op Sondae oop was nie, want diegene wat nie hulle deure oopgemaak het nie, sou finansieel nie die paal haal nie! Vandag is Sondag die besigste dag vir meeste winkels!
Nehemia was nét so geskok toe hy in Jerusalem aankom, want wat sien hy? ‘n Boer wat besig was om sy druiwe in ‘n parskuip uit te trap om wyn te maak! ‘n Ent verder kom hy iemand tee wat besig was om sy donkies aan te jaag, en die diere was gelaai met graangerwe. “Maar is dit dan nie vandag die Sabbat nie?” wou hy weet.
Met afgryse moes Nehemia toekyk hoedat rye donkies op pad was na Jerusalem, almal gelaai met produkte soos druiwe, vye en wyn. “Waar gaan julle heen met hierdie goed?” het Nehemia gevra.
“Ons gaan dit verkoop in Jerusalem, meneer!” was die antwoord telkens.
“Hoe kan julle?!” het Nehemia geraas. “Dis vandag die Sabbat! Julle behoort mos te wéét dat mens nie handel dryf op die Sabbat nie!”
“Maar meneer, as ons dit nie doen nie, dan steel die heidenvolke ál ons besigheid!”
In Jerusalem sien Nehemia die stalletjies van die inwoners van Sidon af wat hulle vis verkoop. Toe begin hy besef waar die probleem begin het.
Hy het dadelik die leiers van die stad en al die hoëlui bymekaargeroep. Nehemia was beslis nie ‘n gelukkige man nie. Hy was skaars ‘n jaar of twee weg, en hier was alles besig om uitmekaar te val! “Wat is hierdie bose ding wat julle aanvang? Julle ontheilig die Sabbatdag!” Nehemia het die stadsleiers daarop gewys dat hulle voorouers óók so God se voorskrifte verontagsaam het. En wat was die gevolge? Daar het ‘n groot onheil oor hulle gekom! “Julle gaan die toorn van God oor Israel kry omdat julle die Sabbat ontheilig!”
Onthou, hierdie volk het ‘n heilige onderneming met God gemaak dat hulle Sy voorskrifte sou handhaaf. Skaars was Nehemia weg, of hulle verontagsaam hulle eie onderneming!
Nehemia het sommer dadelik ingespring en die grootste oorsaak van die probleem gestuit. Hy het beveel dat die poorte van Jerusalem op ‘n Vrydagmiddag voor sononder gesluit en gegrendel moes word en nie voor Saterdagmiddag na sononder oopgemaak mag word nie. Dit sou keer dat enige buitelander die stad kon inkom om handel te dryf.
Natuurlik was hierdie handelaars nie gelukkig nie, en baie van hulle het buite die poorte uitgekamp op ‘n Sabbat, seker maar met die hoop dat hulle per geluk sou kon inkom, of dat die streng maatreëls die een of ander tyd sou verslap. Nehemia het hulle egter daar verwilder en gedreig met streng stappe! Hulle was immers die groot oorsaak van die probleem!
Die vraag is, hoe ons vandag hierdie Skrifgedeelte op onsself moet toepas? Eintlik is ek huiwerig om daaroor te gesels, omdat daar verskillende sieninge hieroor is onder Christengelowiges. Daar is gelowiges wat glo dat ons vandag die Sabbat moet onderhou presies soos wat dit daardie tyd gegeld het. Dan sou dit beteken dat die Sabbat nie op Sondae gevier word nie, maar van sononder Vrydagaand tot sononder Saterdagaand. Die Sewendedag Adventiste vier dit vandag nog so, en ek wil vir géén oomblik sê dat hulle verkeerd is nie, want dit is soos hulle die Skrif interpreteer en ek respekteer hulle daarvoor. Ek interpreteer die Skrif egter anders. Paulus het immers gesê dat party mense glo dat die een dag meer besonders is as die ander, en ander weer dat al die dae ewe belangrik is. Ons moet egter mekaar se verskillende sieninge respekteer !
Ek glo persoonlik dat die Sabbat vervang is met Sondag met Jesus se opstanding. Ek wil nie hier in diepte ingaan oor die redes vir my siening, asook die siening van die kerk in die algemeen nie, want dit sal ‘n lang bespreking neem. Ek glo egter ook dat dit anders is as die oorspronklike viering van die Sabbat, en nie slegs ‘n vervanging nie!
In kort sien ek ‘n Sondag as ‘n baie nodige rusdag van jou weeklikse werk. Terselfdertyd is dit ook ‘n dag wat ek aan die Here en Sy werk wy. Dit is dus nie ‘n dag van niksdoen nie, maar juis ‘n dag waarop ek sal kerktoe gaan om saam met ander gelowiges die Here te dien en meer van Hom te leer. Verder is dit ook die tyd om dinge vir die Here en my medemens te doen waarvoor ek deur die week nie tyd het nie. Dit sou dus gladnie verkeerd wees om gesellig saam met vriende te kuier nie.
En as Sondag vir jou ‘n normale werkdag is? Dan is enige ander dag óók goed genoeg (volgens Paulus) om as rusdag aan God te wy.
Gebed:
Dankie Here, dat U uit U groot genade vir ons ‘n rusdag gegee het om weer ons kragte op te bou en terselfdertyd tyd saam met U te spandeer!