Die Ryk Jongman

29 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Ryk Jongman

Markus 10:17-31

VIDEO * OUDIO

Gister het ons gehoor dat jy maar net jou volle afhanklikheid van God moet besef, dan is jy op die regte pad. Maar nou hoor ons vandag die teendeel, dat dit vir iemand wat ryk is, uiters moeilik is om in die hemel te kom. Let wel: nie onmoontlik nie, net MOEILIK!

Na die insident met die kindertjies, maak Jesus klaar om hulle reis te hervat na Jerusalem. Op daardie oomblik kom daar ‘n jong man uitasem aangehardloop. Aan sy klere kan ons sommer sien dat hy baie welaf is – duur ontwerpersklere. Hy kom val voor Jesus neer op sy knieë: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?”

Baie mense het my al daardie selfde vraag gevra! Dit is ‘n wonderlike voorreg as iemand jou só kom vra! Wat ‘n heerlike voorreg om met so ‘n persoon die evangelieboodskap te kan deel!

Ons het nou al gewoond geraak dat wanneer iemand Jesus ‘n vraag kom vra, dan is daar bymotiewe. Hulle wil Hom probeer vasvra of uitlok om iets te sê wat Hom in die moeilikheid sal laat beland. Hierdie man is egter anders as die Skrifgeleerdes en Fariseërs, want hierdie vraag kom diep uit sy hart uit sonder énige bymotiewe. “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God!” Dit wil amper lyk asof hierdie man besef wie Jesus werklik is, dat Hy die Seun van God is en nie soos die meeste mense gedink het dat Hy slegs ‘n profeet is nie.

“Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’” Dit wil amper lyk asof Jesus vir hom wil sê dat jy maar net die gebooie moet onderhou om in die hemel te kan kom. Die jongman reageer heftig. Ja, hy maak dit sy taak om al die gebooie stiptelik na te kom, sommer al van kleintyd af. Ons kry die gevoel dat hy sommer ‘n toegewyde gelowige is wat sy volle gewig ingooi in die kerk. Markus vertel dat Jesus hom baie liefgekry het oor sy toewyding.

Maar dan ruk Jesus die dam skoon onder die eend uit: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.”

Jesus se voorwaarde is nou net eenmaal té groot vir die man. Hy het die ware begeerte om die ewige lewe te kry, maar sy besittings weeg hééltemal te swaar. Dis té veel gevra!

Wanneer Jesus van hom hierdie opoffering vra, sit Hy nie ‘n elfde gebod by die tien nie. Nee, Hy vra van die man ‘n totaal ander soort godsdiens. Sou hy bereid wees om sy sekuriteit op te offer? Sou hy bereid wees om op te hou om staat te maak op sy eie prestasies, en alleen op God te vertrou? Sou hy bereid wees om die eiendom en luukshede waarvoor hy so hard gewerk het sy lewe deur, net eenvoudig weg te gee en in totale afhanklikheid van God alleen te leef?

Dis hééltemal te veel gevra, en hy draai om en stap bedroef weg. Sy besittings het die oorhand gekry oor sy lewe. Wanneer Jesus hom kop onderstebo sien wegstap, sê Hy vir die manne: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die koninkryk van God ingaan!”

Die dissipels is verbysterd: “Wie kan dan óóit gered word?”

Die Jode het rykdom gesien as die beloning vir ‘n goeie lewe. Kyk net byvoorbeeld hoe Job van ouds beloon was nadat die duiwel sy goed weggevat het en hy steeds bly glo het. Die Here het hom dubbel teruggegee wat hy verloor het! Ryk Jode het dan ook baie aalmoese gegee en betaal vir die instandhouding van die sinagoge, met die gevolg dat die gedagte ontstaan het dat sulke voorbeeldige ryk mense ‘n baie beter kans het vir die hemel as gewone arm mense. Daarom is die dissipels so ontsteld, want as die rykes dit nie kan regkry om in die hemel te kom nie, dan sal die gewone man mos nooit óóit ‘n kans hê nie!

Maar dan verduidelik Jesus: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik.” As jy bereid is om alles te laat staan, sal jy uiteindelik baie meer terug kry. Jy word in die eerste plek deel van God se gesin, maar ook in die hiernamaals sal jy ryklik beloon word.

Die vraag is: Moet ons Jesus se uitspraak letterlik opneem? Wat wil Hy vandag vir jou en my sê? Ons leef in ‘n gemeenskap wat absoluut ingestel is op sekuriteit. Ons spandeer groot geld aan polisse en pensioenfondse. Ons belê in duur eiendomme. Uiteindelik voel ons tevrede met onsself as ons kan terugsit en sê dat ons alles het wat nodig is. Ongelukkig is dit gewoonlik juis daardie sekuriteit wat maak dat ek vergeet van my afhanklikheid van die Here. Die vraag is of ryk mense dan verlore is? Kan enigeen hoegenaamd gered word?

Wat vir ons dikwels onmoontlik lyk, is by God moontlik. Hy kan enige mens se hart verander. Hy kan jou laat besef dat jou kosbare besittings slegs leen-geskenke is van Hom, geskenke waaraan jy nie jaloers moet vasklou nie, maar jy moet dit deel met ander wat nie daardie voorreg het nie. Wanneer jy die dag jou hand so begin oopmaak, sal jy geestelik baie meer terugkry as wat jy weggegee het.

Gebed:

Here, leer my asseblief hoe om waarlik met my besittings om te gaan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026