Jesaja 8-12 & Jesaja 40
Die profete van die Ou Testament het Jesus se geboorte voorspel, honderde jare voor dit gebeur het, profete soos Jesaja, Miga, Sagaria, Daniël en Hosea, en selfs die Psalmdigters.
Dikwels het die profeet egter sélf nie werklik verstaan waarom hy iets juis op dáárdie besonderse manier gesê het nie. Ons noem dit profetiese perspektief. Dit is soos om naby 'n berg te staan. Jy sien slegs die berg voor jou, want hy versper totaal jou uitsig. Agter hom is daar egter nóg 'n berg en agter hom nóg een. Profetiese perspektief beteken dat die profeet praat van die berg hier voor hom, maar dat hy eintlik die groot berg daar héél agter beskryf, dikwels sonder dat hy sélf daarvan bewus is.
Meeste van die profesieë oor Jesus was oorspronklik gemaak was oor iets totaal anders. So sê Jesaja byvoorbeeld vir Koning Agas in Jesaja 7:14: “Daarom sal my Heer self vir julle 'n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan 'n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.” Koning Agas was baie benoud toe die Arameërs hulle land binneval. Jesaja het hom egter gerusgestel en gesê dat hy kon ontspan want die Here sou hulle red. Hy sou vir Agas 'n teken gee dat Hy hom wél sal verlos: die jong vrou wat swanger sou word. Sy sou haar baba Immanuel noem, wat beteken: “God is by ons.” Jesaja se uitspraak het egter véél meer beteken, en was eintlik gerig op Jesus.
In Jesaja 8 kondig die profeet die oordeel oor Juda aan. Maar dan kom die wonderlike troos is Jesaja 9:1: “Die volk wat in duisternis ronddwaal, het 'n groot lig gesien; hulle wat in 'n stikdonker land woon – oor hulle het 'n lig geskyn.” Hierdie Lig verwys natuurlik na die Messias wat 700 jaar later sou kom. Maar eers moes die ballingskap plaasvind en Juda swaar ly oor hulle ongehoorsaamheid.
In Jes. 9:5 beskryf Jesaja hierdie Messias, as hy sê: “Want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.” Dan gaan hy aan om te vertel dat Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed sal bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor Sy koninkryk regeer.
150 Jaar later, terwyl die volk swaar sug in ballingskap, skryf 'n ander profeet onder die naam van Jesaja in Jes. 40 dat die uitkoms hier is! Hy skryf oor Johannes die Doper, wat roep: “Maak in die woestyn die pad van die Here gereed!” (v. 3) Die stede van Juda kry die blye nuus: “Hier is julle God!” (v. 9) “Soos 'n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy.” (v. 11)
Jesaja 53:4 vertel van Jesus se lyding. Jesaja 11:1,10 verklaar dat Jesus uit die nageslag kom van Isai, Dawid se pa. Jesaja 42:1-4 beskryf hoedat Jesus met die Gees van God gesalf sal word. In Jesaja 42 beskryf die profeet die Messias as 'n “Dienaar” of “Kneg”. Hy sal God se wil aan die nasies bekend maak. Maar Sy stem sal sag wees. “'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,'n dowwe lamppit sal hy nie uitdoof nie.” (v. 3)
Hierdie is slegs enkele van die talle uitsprake wat Jesaja maak oor Jesus. Hy is egter nie die enigste profeet wat oor Jesus praat nie. Sy tydgenoot, die profeet Miga skryf in Miga 5:1 ook van die Messias wat gebore sou word in Betlehem: “Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om 'n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.”
Hosea voorspel weer dat Jesus as baba na Egipte sou vlug ( Hosea 11:1)
Sagaria 9:9 beskryf Jesus se intog in Jerusalem op die rug van 'n donkie.
Psalm 110:1 beskryf die Koningskap van Jesus.
Daniël 7:13 beskryf Jesus se koms.
Sagaria 11:12 beskryf Judas se verraad vir slegs 30 silwerstukke.
Hierdie is maar enkele van die talle profesieë wat uit die Ou Testament kom om die koms van Jesus, Sy lyding en Sy werk te voorspel. Sommige hiervan is tot so ver terug as 1000vC reeds gemaak. Die kanse dat dit bloot toeval sou wees dat al hierdie voorspellings sou waar word, is absoluut NUL!
Gelowiges het egter nie bewyse nodig om te verklaar dat alles wat in die Bybel oor Jesus geskryf is, waar is nie. Ons geloof in Hom is oorgenoeg. Maar God se genade is só groot dat Hy ons geloof op hierdie wonderlike wyse kom versterk deur te verklaar dat alles absoluut waar is!
Gebed:
Here, dankie vir die profete wat aan U gehoorsaam was duisende jare gelede, om te skryf oor dinge wat hulle sélf dikwels gladnie verstaan het nie. Help my vandag om onvoorwaardelik te glo.