Die Pad na Emmaus

2 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Pad na Emmaus

Lukas 24:13-35

VIDEO | OUDIO

Twee droewige dissipels is op pad. Dit is Sondagmiddag en hulle harte is baie swaar waar hulle loop en gesels oor die verskriklike en uiters onverstaanbare dinge wat die afgelope paar dae gebeur het. Eers was dit Jesus, die Meester wat hulle die afgelope ruk gevolg het, wat deur die Joodse leiers gevang en tereggestel is en toe vanoggend die verskriklike ontstellende nuus dat Sy liggaam nou ook onverklaarbaar verdwyn het! Hulle verstaan hierdie dinge net eenvoudig nie. Dit maak gládnie sin nie! Niks maak meer sin nie!

Kleopas en sy vriend het sulke hoë aspirasies gehad. Hulle het wáárlik gedink dat hierdie Messias die Een sou wees wat hulle sou verlos van die Romeinse oorheersing. Daardie dag toe hulle Jerusalem triomfantlik binnemarsjeer het - was dit nie wonderlik nie! Maar toe begin dinge skeefloop en die kerkleiers het al heftiger teen die Messias begin reageer.

Enkele dae later verkrummel ál hulle drome toe Hy gevange geneem word en soos ‘n misdadiger aan die vloekhout-kruis sterf. En nou, vanoggend se ontstellende gebeure! ‘n Paar vroue het vertel dat hulle engele gesien het wat glo vir hulle sou vertel het dat Jesus opgestaan het. Verbeel jou! Hulle was seker só ontsteld oor die leë graf dat hulle vir hulle dinge begin verbeel het! Petrus en Johannes het óók gaan kyk na die graf en die onverklaarbare ding is dat hulle die doeke gekry het waarin Jesus toegedraai was! Waarom sou enigiemand die liggaam vat sonder die doeke? Hulle kan dit net eenvoudig nie verstaan nie!

Hierdie dinge het die twee dissipels só ontstel dat hulle besluit het om liewer uit Jerusalem pad te gee. Hulle bestemming is die dorpie Emmaus, sowat drie ure se stap van Jerusalem af. Hulle het alle hoop verloor en nou onttrek hulle hulle maar aan die groep gelowiges wat nog hardnekkig vasbyt.

Dan kom Jesus by!

Eers maak die Here die twee dissipels se oë toe sodat hulle nie vir Jesus herken nie. Dan begin Hy hulle uitvra oor die bekommernis op hulle gesigte. Hulle wonder hardop of Hy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem is? Almal weet tog van die afgelope naweek se gebeure! Dit was voorbladnuus in al die koerante!

Weldra kom hulle egter agter dat hierdie “Vreemdeling” baie meer weet as wat Hy wil voorgee want Hy verduidelik vir hulle uit die voorgeskiedenis presies hoe hierdie Messias-ding werk en waar hulle Meester in die prentjie inpas. Hy verduidelik van al die profete se voorspellings en hoe dit heengewys het op Jesus. Hy is wáárlik die Messias, die Christus! Voor hulle hulle oë uitvee, is dit al skemer en is hulle óók al by Emmaus!

Dan toets Jesus hulle en Hy maak asof Hy verder wil gaan. Hulle slaag die toets met onderskeiding en die “Vreemdeling” word uitgenooi om saam te kom eet en sommer daar te oornag ook by hulle. Ons kan vandag maar net wonder oor hulle ware motief om Hom uit te nooi? Was dit maar net gasvryheid? Of dalk eerder omdat hulle nog meer wou hoor van hierdie wonderlike dinge wat hierdie vreemde Man hulle vertel het? Wat ons wél weet is dat hierdie Man hulle harte brandend gemaak het, want skielik het hulle begin verstaan van Jesus!

En dan gebeur nóg ‘n onverstaanbare ding: Jesus is hulle gas vir die aand, maar aan tafel tree Hy op as die Gasheer! Hy is die Een wat die brood breek en uitdeel. En skielik herken hulle Hom! Die skille val letterlik van hulle oë af. En dan eensklaps verdwyn Hy net! Maar Jesus se Goddelike teenwoordigheid by hulle, al kan hulle Hom nie meer sien nie, versterk hulle geloof in só ‘n mate dat hulle net daar en dan opspring en haastig in die donker nag die pad terughardloop na Jerusalem om die nuus te gaan deel met die ander dissipels. Sulke wonderlike nuus mag nie eers bly tot die volgende dag nie. Hulle is só opgewonde!

Terug in Jerusalem word hulle begroet met ‘n ewe-begeesterde dissipelkring: “Die Here het regtig opgestaan!” word hulle opgewonde meegedeel, nog voor hulle eers hulle eie wonderlike verhaal kan vertel. Petrus vertel hulle hoedat Jesus ook aan hom verskyn het!

Dit is alreeds 2000 jaar later en ek is steeds opgewonde oor Jesus se opstanding. Daardie “kraakvars” nuus word steeds entoesiasties oorvertel deur ‘n skare van gelowiges. Dit behoort by elkeen van ons ‘n obsessie te wees om dit oor en oor te vertel aan almal wat oor ons pad kom.

Gebed:

Here, ek is vanoggend saam met die Emmausgangers opgewonde oor U opstanding. Jesus leef waarlik! Ek wil dit uitskreeu vir die ganse wêreld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024