Die Pa wat sy Seuns Byna Verloor het

18 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Pa wat sy Seuns Byna Verloor het

Lukas 15:11-32

Jesus vertel twee kort gelykenisse van ‘n skaap en ‘n muntstuk wat verlore geraak het en dan weer gevind is. Dan vertel Hy die aangrypende storie van ‘n man wat so byna-byna albei sy seuns verloor het.

Die verhaal begin waar die jongste broer sy pa kom vra vir sy erfgoed. Dit was ‘n skokkende ding om te vra, want hiermee wil hy eintlik vir sy pa sê: “Ek wens pa was darem nou al dood sodat ek my geld kan kry!” Die feit is dat daar ‘n spanning ontstaan het tussen pa en seun. Die seun wou vry wees van sy pa se seggenskap en sy eie paadjie loop. Hierdie einste probleem skeur al eeue lank gesinne uitmekaar!

Die pa se reaksie is vreemd-verrassend, want ek sou nou gedink het dat die pa die seun sou verskreeu en vir ses maande hok. Dalk nadat hy eers ‘n afgedankte loesing gekry het. Maar nee, die pa staan maar gelate die versoek toe.

Dan sien ons hoedat die seun eers sy kosbare erfporsie verkoop sodat hy geld kon kry. Daarna verkwis hy al sy erfgeld, en beland in groot moeilikheid. Onder haglike omstandighede gaan bly hy as bywoner by een van die heidense burgers van die land en pas varke op (hoe aaklig vir 'n Jood!) Uiteindelik besef hy hoe dom hy was, en dan kruip hy terug na sy pa toe, hoed in die hand. Hy besef dat hy gesondig het, nie alleen teen sy pa nie, maar ook teen God.

En nét hier neem die verhaal nóg ‘n slag ‘n verrassende wending. Weereens doen die pa presies die teenoorgestelde as wat ons verwag. Ons sien 5 aksies van die pa: Hy sien hom van ver af aankom, hy kry hom innig jammer, hy hardloop hom tegemoet, hy omhels hom, hy soen hom.

Nêrens lees ons dat die pa vir sy seun sê: “Ja, ek het jou mos gesê!” of “Dit sal jou leer!” nie. Hy het hom nie verlekker in sy seun se ellende nie, maar hy doen eerder die ongehoorde en onwaardige ding (vir Oosterse mans) en hardloop hom tegemoet. Hy gee sy eie waardigheid prys omdat hy bly is dat sy seun terug is, en só maak hy daardie verskriklike pynlike laaste treë huistoe vir sy seun makliker. In hierdie pa se optrede lees ons dit helder en duidelik dat hy al láánkal sy seun vergewe het vir die verskriklike onreg wat hy sy pa aangedoen het.

Terwyl die seun op pad was huistoe, het hy geloop en uitwerk presies wat hy vir sy pa sou sê, en hoedat hy sou aanbied om een van sy pa se dagloners te word as sy pa hom maar net wil aanvaar. En hier word hy so oorweldig met liefde dat hy nie eers kans kry om vir Pa te sê dat hy bereid is om te werk vir sy losies nie. Sy pa het klaar bewys dat hy hom onvoorwaardelik vergewe en aanvaar, en net om die stempel daarop te plaas, reël hy ‘n groot fees om hom tuis te verwelkom.

Maar die verhaal het ook ‘n donker sy. In die veld was die oudste broer besig om te werk toe hierdie fees aanmekaargeslaan word. Toe hy by die huis kom, kon hy sy oë nie glo nie: Kleinboet het sowaar die vermetelheid gehad om terug te kom, en wat maak Pa? Nee, hy smyt hom nie in ‘n strafkamp nie, maar hy hou vir hom ‘n partytjie ná alles wat hy sy arme pa aangedoen het! Sommer dadelik is hy dikbek. Hy weier om die partytjie by te woon.

Wat maak sy pa? Met dieselfde geduld en liefde wat hy vir kleinboet verwelkom het, gesels hy nou met sy oudste. Dan verduidelik hy vir die seun dat, anders as sy broer, hy nog ál die tyd by sy pa was en gedeel het in al die seëninge van die huishouding. Boonop was ál sy pa se besittings in elkgeval ook syne. Daar was dus absoluut géén rede waarom hy nog enigsins kon verwyt nie.

Wat was die broer se reaksie? Ons weet nie. Die verhaal het ‘n “oop” einde, een wat ons sélf daar moet inskryf. Dit dwing ons eintlik om die vraag te beantwoord ten opsigte van onsself. Hoe reageer ek persoonlik hierop? Wat is my eie reaksie as iemand wat roekeloos gelewe het tot inkeer kom?

As ons in perspektief na die verhaal kyk, sien ons dat nie een van die twee seuns hulle pa se liefde werd was nie. Hy het hulle egter onvoorwaardelik liefgehad, en al wat hy van hulle verlang het was om met mekaar versoen te raak en mekaar te aanvaar, en dat hulle albei hulle pa se versorging en liefde sal aanvaar.

Dalk is jy vandag die jonger seun wat jou rug op God gedraai en afgedwaal het. Vir jou sê die verhaal dat God vir jou wag met ope arms en tonne liefde om terug te kom.

Maar jy kan dalk ook die seun wees wat nog altyd jou deel gedoen het en getrou was in jou diens aan God, die nabyheid van Hom beleef het. Vir jou wil die verhaal vanoggend herinner dat jy nie meerderwaardig moet optree teenoor diegene wat afgedwaal het nie. Wees deel van die verwelkomingskomitee. Op daardie manier wys jy vir die Here dat jy Sy goedheid en liefde waarmee Hy jou elke dag so oorlaai, opreg waardeer.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my vandag liefde in my hart teenoor elkeen wat oor my pad kom. Maak my vergewensgesind, en leer my om nie neer te sien op ander nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026