Die Pa wat Byna Altwee Seuns Verloor het

13 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Pa wat Byna Altwee Seuns Verloor het

Lukas 15:11-32

VIDEO OUDIO

Na die kort gelykenisse van die skaap en die muntstuk wat verlore geraak het en gevind is, vertel Jesus nou die storie van ‘n man wat so byna-byna albei sy seuns verloor het.

Die verhaal begin waar die jongste broer sy pa kom vra vir sy erfgeld. Dit was ‘n skokkende ding om te vra, want hiermee wou hy eintlik vir sy pa sê: “Ek wens pa was darem nou al dood sodat ek my geld kan kry!” Die feit is dat daar ‘n spanning ontstaan het tussen pa en seun, en dat die seun vry wou wees van sy pa se seggenskap en ekonomies op sy eie voete wou staan. Hierdie is ‘n probleem wat al eeue lank gesinne uitmekaar skeur, selfs vandag nog!

Die pa se reaksie is vreemd en baie verrassend. Dalk sou my reaksie wees om die ondankbare kêreltjie sy fortuin te vertel, te verskree en vir ses maande te hok nadat ek hom ‘n afgedankste loesing gegee het!

Maar nee, híérdie pa staan die versoek toe! In kort sien ons hoedat die seun al sy erfgeld uitmors en dan in ‘n groot verknorsing beland. Hy gaan bly as bywoner by een van die burgers van die land, natuurlik ‘n heiden. Die omstandighede is haglik en hy moet varke oppas, iets wat elke Jood sal laat gril! Uiteindelik besef hy hoe dom hy was en dan kruip hy terug na sy pa toe, hoed in die hand. Hy besef dat hy verkeerd gedoen het, nie alleen teen sy pa nie, maar ook teen God!

En dit is juis hier waar die verhaal nóg ‘n slag so ‘n verrassende wending neem. Weereens doen die pa presies die teenoorgestelde as wat ons verwag. Ons sien die pa vyf baie vreemde dinge doen: Hy sien hom van ver af aankom – hy wag dus nog al die tyd vir hom! Hy kry hom innig jammer, hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom!

Nêrens lees ons dat die pa vir sy seun sê: “Ja, ek het jou mos gesê!” of “Dit sal jou leer!” nie. Hy het hom nie verlekker in sy seun se ellende nie, maar hy doen eerder die ongehoorde en onwaardige ding en hardloop hom tegemoet. Hy gee sy eie waardigheid prys omdat hy bly is dat sy seun terug is, en so maak hy daardie verskriklike pynlike laaste treë huistoe vir sy seun makliker. In hierdie pa se optrede lees ons dit helder en duidelik dat hy al láánkal sy seun vergewe het vir die verskriklike onreg wat hy sy pa aangedoen het.

Terwyl die seun op pad was huistoe, het hy geloop en uitwerk presies wat hy vir sy pa sou sê, en hoedat hy sou aanbied om een van sy pa se dagloners te word as sy pa hom maar net wou aanvaar. En hier word hy so oorweldig met liefde dat hy nie eers kans kry om vir Pa te sê dat hy bereid is om te werk vir sy losies nie. Sy pa het klaar bewys dat hy hom onvoorwaardelik aanvaar, en net om die stempel daarop te plaas, reël hy ‘n groot fees om hom tuis te verwelkom.

Maar die verhaal het ook ‘n donker sy. In die veld was die oudste broer besig om te werk toe hierdie fees aanmekaargeslaan word. Toe hy by die huis kom, kon hy sy oë nie glo nie. Kleinboet het sowaar die vermetelheid gehad om terug te kom, en wat maak Pa? Nee, hy smyt hom nie in ‘n strafkamp nie, maar hou vir hom ‘n partytjie! En dit ná alles wat hy sy arme pa aangedoen het! Sommer dadelik is hy dikbek. Hy weier om die partytjie by te woon!

Wat maak sy pa? Met dieselfde geduld en liefde wat hy vir Kleinboet verwelkom het gesels hy nou met sy oudste. Dan verduidelik hy vir die seun dat, anders as sy broer, hy nog al die tyd by sy pa was en gedeel het in al die seëninge van die huishouding. Boonop was al sy pa se besittings in elkgeval ook syne. Daar was dus absoluut géén rede waarom hy nog enigsins kon verwyt nie!

Wat was die broer se reaksie? Ons weet nie. Die verhaal het ‘n “oop” einde - een wat ons sélf daar moet inskryf. Dit dwing ons eintlik om die vraag te beantwoord ten opsigte van onsself. Hoe reageer ek persoonlik hierop? Wat is my eie reaksie as iemand wat roekeloos gelewe het tot inkeer kom?

As ons in perspektief na die verhaal kyk, sien ons dat nie een van die twee seuns hulle pa se liefde werd was nie. Hy het hulle egter onvoorwaardelik liefgehad, en al wat hy van hulle verlang het was om met mekaar versoen te raak, mekaar te aanvaar en dat hulle albei hulle pa se versorging en liefde sou aanvaar.

Dalk is jy vandag die jonger seun wat jou rug op God gedraai het, en afgedwaal het. Vir jou sê die verhaal dat God vir jou wag met ope arms en tonne liefde om terug te kom.

Maar jy kan dalk ook die seun wees wat nog altyd jou deel gedoen het, getrou was in jou diens aan God en die nabyheid van Hom beleef het. Vir jou wil die verhaal vanoggend herinner dat jy nie hoogmoedig moet optree teenoor diegene wat afgedwaal het nie. Wees deel van die verwelkomingskomitee. Op daardie manier wys jy vir die Here dat jy Sy goedheid en liefde waarmee Hy jou elke dag so oorlaai, opreg waardeer.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my vandag liefde in my hart teenoor elkeen wat oor my pad kom. Maak my vergewensgesind, en leer my om nie neer te sien op ander nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026