​​​​​​​Die Ouderling en die Dokter

9 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ​​​​​​​Die Ouderling en die Dokter

Handelinge 18:1-17

Jare gelede hoor ek die storietjie van die ouderling wat diep onder die oortuiging gekom dat dit tyd geword het dat hy ernstig moes begin om evangelisasiewerk te doen. Sonder enige opleiding oor hoe mens nou eintlik hierdie takie aanpak, was dit egter nie vir hom maklik nie. Maar daar was één gedagte wat hom aangedryf het: mét Jesus gaan jy hemel toe, maar sónder Jesus is daar net een paadjie, en dis reguit hel toe. Hy was nou ook nie juis bekend as die mees diplomatiese persoonlikheid nie. Sy eerste prooi was die plaaslike mediese dokter, ‘n man wat totaal onverskillig teenoor die Here gestaan het. Doelgerig stap hy die aand oor na die dokter se luukse huis en hy klop hard aan die voordeur.

Die dokter maak die deur oop, en voor hom staan die ouderling met 'n baie ernstige gesig. Voor hy nog kan goet, val die ouderling met die deur in die huis: “Dokter, wil jy hemel toe gaan?” Vir die dokter was hierdie konfrontasie ‘n baie komiese situasie, en hy bars byna uit van die lag. Tot groot frustrasie van die ouderling proes die dokter dit uit tussen lagbuie deur: “Nee! Ag nee, wat sou ek nou daar wou doen?” En dan bars hy weer uit van die lag vir hierdie ernstige ou man met sy simpele vraag.

Vlieg dan reguit hel toe!” blaker die ouderling dit uit terwyl hy woedend wegstap. Sy ego is geknak en hy is bitter vies oor sy heel eerste evangelisasiepoging op so ‘n totale ramp uitgeloop het.

Die ouderling se woorde het egter nie totaal by die dokter verbygegaan nie. Iets het aan hom geknaag en hy het geherkou aan daardie ontstellende woorde. Weldra het hy begin besef dat hy besig was om geestelik oor die afgrond te tuimel. Die ouderling se simpel konfrontasie het hom uiteindelik so ontstig dat hy later tot bekering gekom het. Die geheim was natuurlik dat die Heilige Gees selfs die mees patetiese poging van ‘n evangelis kan gebruik om iemand tot inkeer te bring.

Ons wil graag vir Paulus sien as ‘n voltydse sendeling wat heeldag lank kon staan en preek. Dit is egter ver van die waarheid af! Hy was ‘n tentmaker van beroep, en hy moes sy ambag bedryf om genoeg fondse te hê om homself en sy geselskap te kon onderhou en ook om sy reise te kon finansier. In die volgende stad waar hy aankom, Korinte, ontmoet hy vir Akwilla, óók ‘n tentmaker van beroep. Hy trek by hom en sy vrou, Priscilla in, waar hulle saam tente vervaardig. Intussen preek Paulus elke keer wanneer hy ‘n geleentheid kry. Hy preek ook elke Sabbat in die plaaslike sinagoge. Intussen het Silas en Timoteus uit Filippi aangekom. Hulle bring finansiële ondersteuning uit daardie gemeente saam. Dit beteken dat Paulus nou ál sy tyd aan prediking kon bestee.

In die sinagoge het dit egter weereens nie goed gegaan nie. Die Jode het die spot gedryf met Paulus en hom beledig. Uiteindelik kon hy dit nie meer hanteer nie! Hy het hy uitgestap en hulle aan hulle eie lot oorgelaat. Soos die ouderling van so flussies, sê hy ook vir hulle: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld!” Daarmee skud hy die stof van sy klere af. Van nou af preek hy in Korinte slégs vir Nie-Jode! Tot groot frustrasie van die Jode, word ‘n huis rég langs die sinagoge aangebied wat hy as “kerk” kon inrig. Baie gou is daar ‘n groot klomp mense wat gelowig word, onder hulle selfs die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy gesin! Dit moes 'n bitter pil wees vir die Jode om te sluk!

Een nag kry Paulus die wonderlikste bemoediging ná al sy frustrasies. Dit kom in die vorm van ‘n visioen, waarin die Here vir hom sê dat hy nie bang moet wees nie, en dat hy net moet aanhou preek. “Ek is by jou,” sê die Here vir hom, “en niemand sal jou kwaad aandoen nie, want hier is baie mense in hierdie stad wat aan My behoort.” Kan jy ooit ‘n groter bemoediging kry! Hierdie droom was soos vet op die vuur vir Paulus, en hy het sy volle krag ingegooi om die Evangelie vuriglik, volstoom te verkondig vir ‘n volle jaar en ‘n half lank in Korinte.

Natuurlik was die Jode baie bitter oor Paulus-hulle se suksesvolle bediening. Elke jaar op 1 Julie word daar ‘n nuwe Romeinse goewerneur aangestel. Met hierdie gebeurtenis het die Jode die geleentheid met albei hande aangegryp en Paulus-hulle voor die nuwe goewerneur, Gallio gedaag. Hy was nou nie juis beïndruk met die Jode se aanklag nie, want hierdie was ‘n interne godsdienstige aangeleentheid. Hoe kon hulle dan nou van hóm verwag om hulle simpel sake uit te sorteer? Die gevolg was dat hy summier die saak uitgegooi het en die Jode uit sy hof uitjaag het. Op hierdie manier het Gallio, sonder dat hy dit eers bedoel het, as beskermer van Paulus opgetree. Só moes Paulus ook sien hoedat die Here se belofte in sy droom waar word uit ‘n totaal onverwagse heidense oord.

Die arme Sostenus, wat vir Krispus as hoof van die sinagoge opgevolg het, moes dit ontgeld, en is sommer daar voor die goewerneur deur sy mede-Jode aangerand. Vir die Jode was Gallio se uitspraak net één te veel. Hiermee het hy aan die Christene dieselfde status as die Joodse godsdiens verleen. Hoe kon hy! Wat ‘n vernedering!

God is in beheer, al lyk die prentjie soms vir ons bitter donker. Vertrou op Hom met jou hele wese.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike wete dat U altyd in beheer is, en dat U selfs ongelowiges en onkundiges kan gebruik om U doel te bereik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026