Die Oorvloedige Bos

8 October, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Oorvloedige Bos

Hebreërs 6:4-12

VIDEO | LUISTER

Soos jy seker al agtergekom het, is ek baie lief vir die Laeveld. Wat is dit in daardie wêreld wat my so bekoor? Dit kan beslis nie die klimaat wees nie, want dit raak onhoudbaar warm, en as die son jou daar alleen kry, skroei hy jou morsdood! Moontlik die verskeidenheid van diere? Miskien, dalk. Maar ek dink eerder dit is die rustigheid en die plantegroei, veral die bome wat my so aantrek. Ek kan vir ure lank so deur die bos dwaal en my net verlustig aan die asemrowende verskeidenheid van bome, struike, grasse en veldblommetjies. Nee, ek is beslis nie ‘n boom- of plantkenner nie. Maar ek geniet hulle!

Ek wil jou uitnooi om saam met my deur die ongerepte Laeveld te stap. Kom ek stel jou voor aan die netjiese ou tante van die bos - Tannie Maroela, altyd gereed wanneer die somer kom, om jou te oorlaai met vragte geurige vrugte – altyd vrygewig! Neffens haar pryk die geniepsige Blinkblaar Wag-’n-bietjie. O, sy is beeldskoon - immergroen met ‘n digte, blink, donkergroen blaredos. Boonop baie vrygewig met haar klein rooi vruggies waarop baie voëls versot is. Maar sy is ‘n katjie wat jy nie sonder handskoene kan hanteer nie. Sy het regte katnaels wat seer kan krap! En as sy jou eers vasgegryp het, los sy jou nie weer sommer nie!

Reg langs Me. Blinkblaar staan Meneer Rooiboswilg. Hierdie is beslis ‘n man-boom, want hy gee die wonderlikste hout - die swaarste in die ganse bos. ‘n Braaivleisvuur van sy hout is goed genoeg vir ‘n koning!

‘n Entjie verder tref ons die bruid van die bos aan – die reuse Mej. Knoppiesdoring. Sy is seker nou nie juis die mooiste bruidjie nie want sy het ‘n knoetsige, skurwe stam besaai met dorings en gate. Maar sy bied skuilplek vir likkewane en voëls en die skattigste waaierstertmuisies en nagapies wat gereeld nesmaak in die gate wat sy bied. Sy is sowaar die woonstelkompleks van die bos! Maar waarom noem ek haar dan die bruid? Lentetyd ontplof sy in ‘n massa spierwit blomme wat dit laat lyk asof sneeu skielik die Laeveld getref het!

Mevrou Vanwykshout is beslis ‘n elegante dame, getooi in trosse van die pragtigste pers blomme. Meneer Worsboom is die trotse draer van reuse worse wat eerder na polonies lyk wat aan lang stingels hang. Hy het boonop asemrowende groot, dieprooi blomme. Die statige ou heer, Hardekool toring byna blaarloos die hemel in. Hy is voorwaar die “gentleman” van die bos!

Maar moenie die warboel van struike wat tussendeur die bome groei vergeet nie. Hulle is die tieners - Rosyntjiebos, Mispel, Skurwerosyntjie en Bobbejaanstert en natuurlik die ou kleintjies, die bonte verskeidenheid van vrolike veldblommetjies. En oral baljaar die voëltjies en goggatjies en ander diere. Die bos is Paradys!

Adam en Eva se Paradys het egter sy slang gehad, en so ook die Laeveld. Hy kom as ‘n ondeurdringbare muur van aaklige dorings, die “gangsters” van die bos: Sekelbos! Bankvas staan hierdie plaat van struik-bome en dreig ons met hulle lang, skerp dorings. “Hier sal julle nie deur nie!” is duidelik hulle boodskap. Ons staan verstom as ons sien dat hulle net mooi álles oorgeneem het - onder hulle groei net Gifappeltjies en Kakiebos! Waar Sekelbos versprei het, het hulle ál die ander verdring. En nou staan net die liederlike deurmekaar goed hier. Dit is baie duidelik dat die grond hier versteur was - jare gelede was hierdie ‘n boer se saailand. En toe skiet Sekelbos wortel en vat sommer alles oor. Ons voel magteloos. Agter ons, die oorvloed van die ongerepte bos; voor, die verskrikking van Sekelbos!

Ons lewens is in 'n sekere sin presies nes die Laeveld se bos! Wanneer jy die dag jou hart oopmaak vir die Here, kom die Heilige Gees en beplant die klipharde grond van jou lewe met vrugbare “bome”. Die eerste ding wat jy moet onthou, is dat plante net groei as daar kos in die grond is. In arm grond gaan jou “bome” doodgaan. Jou grond moet geestelike kos inkry, soos ons duidelik in die vorige dagstukkie gesien het. Hoe meer geestelike kos jy inkry, hoe oorvloediger dra jou “bome” - ‘n verskeidenheid van vrugte wat tot groot seën is vir almal wat oor jou pad kom.

‘n Tweede belangrike les wat ons leer uit die Laeveld, is dat verskillende soorte grond verskillende soorte plante oplewer. Ry jy deur die noorde van die Kruger Wildtuin, dan sien jy plate Mopanies, waarin die olifante na hartelus baljaar. Aan die rivieroewers kry jy weer Wildevye, Jakkalsbessies, Rooiessenhout en plate riete. So is ek en jy ook verskillend, en ons dra verskillende soorte geestelike vrugte.

Die derde les uit die Bos, is dat daar ‘n baie groot gevaar lê en dreig - die gevaar van versteurde grond, waar ons toelaat dat die vyand, die duiwel, ons vrugbare grond kom omkrap. Dit is daar waar die Sekelbos, Gifappeltjies, Gomdagga en Kakiebos in jou lewe oorneem, en al die ander vrugte verdring. Die Hebreërskrywer stel dit in Heb. 6:4-6 bitter kras, as hy sê dat waar ‘n gelowige afvallig geword het, is dit onmoontlik om weer tot bekering te kom. Só ernstig is hy oor hierdie saak, dat hy sê dat so ‘n persoon eintlik weer vir Jesus kruisig, en Hom in die openbaar tot ‘n bespotting maak!

Hebreërs wil vanoggend by my en jou pleit. Wanneer ons geestelike lewe besig is om sy groeikrag te verloor, en ons nie meer die vrugte lewer wat ons moet nie, dan is daar rooi ligte wat flikker. Moenie dat die Sekelbosse in jou lewe oorneem nie, want dit kan fataal wees - jy kan dalk jou saligheid verloor! Maak jou hart oop vir die Heilige Gees, en neem geestelike kos in sodat jy weer vrugbaar kan wees en tot nut vir die Koninkryk van God.

Gebed:

Here, ek wil nie Sekelbosse in my lewe hê nie - voed my asseblief sodat ek vrugte kan dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026