Die Ontelbare Skare

2 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Ontelbare Skare

Openbaring 7:9-17

Dalk moet ek net eers weer beklemtoon dat hierdie nie ‘n volledige Bybelstudie van die boek Openbaring is nie. Hierdie is slegs ‘n reeks oordenkings, en dit moet jou stimuleer om verder te gaan Bybelstudie doen oor die onderwerp. Lees gerus goeie kommentare oor hierdie wonderlike, soms omstrede Bybelboek.

Ek moet jou weer herinner dat die eerste ses seëls oopgemaak is. Dan volg daar eers ‘n tussenspel voordat Johannes die oopmaak van die sewende seël beleef. Gister het ons gehoor van die 144’000 uitverkorenes wat verseël is. Dit is deel van hierdie tussenspel wat voortduur wanneer Johannes vertel van ‘n ontelbare menigte wat die vervolging deurgemaak het en reeds in die hemelhof bymekaargekom het. 

Wie is hierdie mense tog? Eintlik dieselfde as die 144’000, maar vanuit ‘n totaal ander perspektief gesien. Die 144’000 is uit ‘n aardse perspektief, en die ontelbare skare uit ‘n hemelse perspektief. In Openbaring 7:l-8 is die 144’000 gelowiges op aarde verseël met die oog op die naderende verdrukking, terwyl die “groot menigte” die Triomferende Kerk in die hemel is, hulle wat die groot verdrukking alrééds deurstaan het. Hierdie visioen wil al die gelowiges wat nog steeds op aarde is, bemoedig. Moontlik staan jy op die oomblik in die verdrukking, soos mense in lande soos Noord Korea waar gelowiges wreed vervolg word. Of dalk moet jy nog die donker uur van beproewing wat voor die einde gaan kom, trotseer. Dan bemoedig hierdie visioen jou, en gee aan jou 'n visie op die ewige heerlikheid voor die groot wit Troon van God en die Lam!

Kom ek verduidelik dit só: In hierdie grendeltyd is jy ingeperk in jou huis. Dag-vir-dag is jy vasgekeer tussen vier mure, en jy smag daarna om nét ‘n bietjie te kan wegbreek onder hierdie donker wolk uit. Dan kry jy ‘n e-pos wat jou meedeel dat ‘n wonderlike, idilliese vakansie iewers op ‘n tropiese eiland vir jou wag. Die foto’s is asemrowend! Sodra grendeltyd verby is, kan jy op die vliegtuig klim en vlieg. Alle kostes is alreeds betaal! Skielik is ál jou donker wolke weg, en jy sien opgewonde met groot afwagting uit na daardie dag. Op dieselfde wyse moet hierdie visioen jou as gelowige opgewonde maak vir dít wat op ons wag.

Hierdie hemelse perspektief op die regverdiges is aangrypend. In Johannes se visioen sien hy die verheerlikte kerk wat voor die troon van die Lam stelling inneem. Dit is duidelik dat hulle die aardse stryd voltooi het, want hulle het wit klere aan - simbolies van hulle reinheid en geregtigheid om voor God te mag verskyn. Hulle hou palmtakke vas. Die Jode het gedurende die Tabernakelfees palmtakke versamel as simbool van hulle oorwinning na die 40 jaar in die woestyn. In Johannes se visioen kan die palmtakke dus gesien word as simbool van ‘n oorwinningsfees na ons aardse woestyntog.

Die engele, ouderlinge en lewende wesens, met ander woorde die kerk en skepping, kniel voor die troon terwyl hulle ‘n oorwinningslied sing. En dan vra een van die ouderlinge vir Johannes wie hierdie mense in die wit klere is? ‘n Snaakse vraag, want hy weet mos! Dalk wou hy Johannes net nuuskierig maak! As Johannes sy skouers optrek, dan beantwoord die ouderling sy eie vraag: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom.” Dan beskryf hy hoedat hulle klere gewas en witgemaak is in die bloed van die Lam. Hulle het met ander woorde die offer van die geslagte Lam deur geloof aanvaar, en hierdie sekuriteit het hulle die hele tyd gedra voor Jesus se wederkoms. In Eksodus 19:10,14 lees ons dat die Israeliete ook hulle klere moes was voordat hulle voor God verskyn het by Sinai.

Al die aardse sorge, honger, dors, hartseer ens. is nou iets van die verlede, en nou is hulle in die absoluut volmaakte teenwoordigheid van God, waar hulle Hom dag en nag dien. Johannes beskryf hier ‘n situasie van volkome saligheid, waar die Lam wat regeer hulle herder is, en hulle lei na die fonteine van water van die lewe. Hy droog hulle trane af. Al die droefheid en swaarkry wat hulle op aarde ondervind het is vir ewig verby.

Hierdie tussenspel wat Johannes beskryf gee aan jou en my, wat nog die bitter stryd op aarde moet stry, nuwe moed. Ja, hier gaan ons nog gebuk onder siektes, swaarkry, armoede, verdrukking en die spot van die goddeloses. Hier moet ons nog elke dag veg teen die talle aanslae van die Bose.

Maar één ding moet ons weet: ons behoort aan God! Ons is verseël en ons uiteinde is triomfantlik in die volmaakte diens aan Hom, waar ons in die direkte teenwoordigheid van God en die Lam sal wees. Wonderlike troos wat hierdie hoofstuk ons bied!

Gebed:

Here, God-Almagtig, ons loof en dank U vanoggend dat U vir ons ‘n plek in die hemel voorberei het - ‘n plek waar ons aan U voete kan sit en U wonderlike teenwoordigheid kan ervaar. Dankie dat U reeds die volle prys betaal het, en ons vrygekoop het met die kosbare bloed van die Lam.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026