Die Nuwe Verbond

9 September, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Nuwe Verbond

2 Korintiërs 3:1-6

Die arme Paulus het ‘n verbete stryd gevoer, nie teen heidene nie, maar teen sy eie volksgenote. In die eerste plek was daar natuurlik die Jode wat steeds aan die Joodse geloof vasgehou het. Hierdie mense het Paulus, wat eens op ‘n tyd sélf ‘n vurige Fariseër was, beskou as ‘n verraaier, en by verskeie geleenthede wou hulle hom doodmaak omdat hy die wet van Moses minag. En dan was daar ook ‘n tweede groep, die Jode wat die Christelike geloof aangeneem het, maar steeds bly vasklou het aan die ou Joodse tradisies en die wet. Hulle het steeds vereis dat die besnydenis ‘n voorvereiste is vir ‘n geloofslewe, en dat die reinheidswette stiptelik nagekom moes word. Hulle wou selfs die heidene wat tot geloof in Jesus gekom het probeer dwing om hierdie vereistes na te kom. In Handelinge sien ons die vurige debatte wat gevoer is oor hierdie vraagstuk. En dit wat ons in Handelinge lees, is maar net die puntjies van die seekoei se ore. Daar was dae om gebaklei oor hierdie netelige vraagstuk.

Uiteindelik het die “sinode” ‘n besluit geneem hieroor in ‘n groot vergadering in Jerusalem. Hulle het ooreengekom dat die heidene wat tot geloof kom in Jesus nie onder die las van die wet van Moses geplaas moes word nie. Hulle is immers nie Jode nie. Maar nie almal was hiermee gelukkig nie, en steeds was daar, baie jare daarna, nog steeds bittereinders wat die wette in almal se kele wou probeer afdruk. Dit het die arme heidene verwar, en hulle het nie geweet watter kant toe nie.

Paulus probeer nou om te verduidelik. Omdat hy self ‘n Fariseër was, ken hy hierdie dinge baie goed, en hy weet presies hoe hulle koppe werk. As Fariseër is dit in hom ingedril dat jy die wet tot op die naaste tittel en jota moet nakom, en as jy dan boonop ‘n afstammeling van Abraham is en besny is, dan sál jy die saligheid kry. Eintlik het die Fariseërs die hele ding nog ‘n stappie verder geneem, en ‘n hele rits wette gemaak wat sou keer dat jy nie miskien per ongeluk ‘n sekere wet sou oortree nie. Hulle het bepaalde gebedstye gehad en gebedsrieme. Die wet is in ‘n houertjie teen hulle voorkop vasgebind. Ja, selfs dinge wat figuurlik bedoel was, het hulle letterlik uitgevoer.

Die letter maak dood, die gees maak lewend,” skryf Paulus, en hy weet presíés waarvan hy praat! Dit gaan nie oor die uiterlike handelinge nie, maar oor dit wat in jou hart geskryf is. Paulus praat van die wet wat destyds op kliptafels uitgekap is deur die hand van God. Harde, rigiede wette wat nagekom moes word. Daardie tyd was dit baie nodig, want dit moes die Israeliete, wat vir honderde jare in heidendom gelewe het, ‘n riglyn gee om ná te volg. In die nuwe bedeling moet hierdie wette nie op klip nie, maar in gelowiges se harte geskryf wees.

Nou gaan ek ‘n ding sê waaroor baie gelowiges my dalk gaan stenig: In die geloof gaan dit nie meer oor die nakom van die Tien Gebooie nie. Is jy geskok? Die Tien Gebooie is negatief: jy mag nie dít nie en jy mag nie dát nie. As jy hierdie gebooie nie stiptelik nakom nie, sê sommige mense, is jou paadjie reguit hel toe! Nee, dit is nie waar nie!

Wat het Jesus gesê? Hy het gesê dat daar twee belangrike riglyne in jou lewe moet wees: Wees lief vir God, en wees lief vir jou medemens. Hierdie is ‘n positiewe wet. Wat beteken dit? As jy waarlik liefde vir God in jou hart het, sal jy beslis nie Sy heilige Naam misbruik, soos wat dit deesdae so hoogmode geword het nie. Kyk maar enige fliek, en tel ‘n bietjie hoeveel keer die Here se Naam misbruik word vir elke liewe dingetjie. As jy die Here waarlik liefhet, sal jy Hom eer bo alles en almal, en sal ander gode nie meer ‘n plek in jou lewe hê nie. Ander gode? Dinge soos om ‘n afgod te maak van sport, geld, kos of enigiets. As jy Hom waarlik liefhet, sal jy Hom vir alles in jou lewe vertrou. Dan sal jy ‘n lewende verhouding met Hom hê.

Wat van jou medemens? As jy jou medemens liefhet, sal die gebooie wat aan Moses gegee was outomaties deel van jou lewe wees. Dan sal liefdelose handelinge soos diefstal, egbreuk en doodslaan beslis nie in jou woordeboek voorkom nie. “Doodslaan” het eintlik ‘n baie wye betekenis: dit is om jou medemens op enige manier seer te maak, nie net deur jou dade nie, maar ook deur jou woorde. Om te skinder of kwaad te praat van iemand, is jy eintlik besig om hom geestelik dood te slaan. En dan die aaklige een: begeertes! O ja, daar is óók goeie begeertes, soos om nader aan Jesus te leef. Maar daar is ook slegte begeertes, en dit is húlle wat lei tot allerhande liederlike sondes wat mense bitter seer kan maak. As daar waarlik liefde in jou hart is, sal daar nie plek wees vir hierdie begeertes nie, en sal jy ook outomaties jou ouers sowel as ander ouer mense respekteer en aan hulle die eer gee wat hulle toekom.

So, as ek sê dat dit nie gaan oor die nakom van die gebooie nie, dan wil ek eintlik hiermee sê dat met liefde, jy outomaties die gebooie gaan nakom. Dit gaan in jou hart geskryf wees, en jy gaan dit uitleef.

Gebed:

Here, gee my asseblief baie meer liefde in my hart, en leer my om dit waarlik uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026