Die Nuwe Jerusalem

30 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Nuwe Jerusalem

Openbaring 21:9-22:5

Vir maande sit Johannes alreeds en skryf. Elke klein detail van die wonderlike, en soms bitter ontstellende visioene wat hy beleef het, is in sy boek beskryf.

Na ‘n reeks oordele wat sy hart omklem, sien Johannes een oggend die mees asemrowende gesig. Voor sy oë begin die aarde en die hemel verdwyn, en in die plek daarvan neem ‘n splinternuwe hemel en aarde stadig vorm aan. Johannes kan sy oë nie glo nie, want so wonderskoon het hy nog nooit gesien nie. Dan besef hy dat hierdie visioene nou einde se kant toe moet staan!

Meteens hoor hy die stem van God: Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.

Daarna neem ‘n engel hom na ‘n hoë berg, en wys hom die nuwe stad, Jerusalem. Sy hart bokspring van pure opgewondenheid. Die hele stad glinster soos ‘n kristalhelder opaal, wat beklemtoon dat die stad vol is van God se teenwoordigheid. Sy heerlikheid is stralend en glinsterend. Daar is ‘n 144m hoë muur met twaalf poorte, wat benadruk dat daar voldoende toegang is vir al die navolgers van die Lam. Die muur dien ook as ‘n skeiding tussen die gelowiges binne en die ongelowiges buite die stad, en gee volledige beskerming aan al die inwoners. Daarom word die toegange bewaak om slegs die gelowiges toe te laat. Die muur is van opaal, wat weereens God se teenwoordigheid daarin beklemtoon. Die fondamente van die muur is met twaalf edelstene versier, wat herinner aan die twaalf edelstene aan die borssak van die hoëpriester. Die twaalf poorte in die stadsmuur is elk uit een enkele pêrel gekerf. Johannes merk dat die name van die twaalf stamme van die volk Israel op die poorte geskryf is, en die name van die twaalf apostels op die fondamente. Dit is natuurlik omdat sowel die Ou-Testamentiese as die Nuwe-Testamentiese geloofsvolk van God deel het aan die stad.

Dan sien Johannes hoedat ‘n engel die stad meet met ‘n goue meetstok. Hiermee wil die engel sê dat hierdie God se eiendom is wat blyplek gee aan almal wat daar hoort. Die stad is in die vorm van ‘n reuse kubus van 12’000 x 12’000 x 12’000 kilometer. Die allerheiligste in die tempel was ook in die vorm van ‘n kubus, dus beklemtoon dit eenvoudig dat God se teenwoordigheid die ganse stad vul.

Die stad self is van suiwer goud, en so ook die strate. Nie alleen is dit ongelooflik waardevol nie, maar het ook ewigheidswaarde. ‘n Geheelprentjie van die goue stad en die waardevolle edelstene, herinner jou aan priesterlike dinge. Dit bring jou tot die gevolgtrekking dat die ganse stad, net soos ‘n priester, in diens van God staan. Die hele stad is ‘n tempel omdat God en die Lam daar teenwoordig is, en daarom skryf Johannes ook pertinent dat daar gladnie ‘n tempelgebou in die stad is nie. Dit is nou totaal onnodig!

Nog ‘n wonderlike ding wat Johannes opmerk, is dat die son en maan totaal oorbodig is, want die heerlikheid van God verlig die stad. Die glansryke heerlikheid van die Goddelike teenwoordigheid dien as lig om in te leef. Daar is dus ook gladnie meer ‘n onderskeid tussen dag en nag nie. Om die waarheid te sê, bestaan daar nou gladnie meer so ‘n ding soos nag nie!

Die stadspoorte word nooit meer gesluit nie. Dit staan heeldag lank oop omdat die bose mos nou reeds vernietig is. En slegs gelowiges het burgerskap in hierdie stad - dit het hulle gekry op grond van die offer van die Lam.

Nadat Johannes hom verkyk het aan hierdie wonderlike stad, wys die engel hom ‘n ander wonderwerk: die rivier met die water van die lewe, wat kristalhelder uit die troon van God en die Lam stroom. Dit is simbolies van God wat die lewe gee. En dan is daar die boom van die lewe wat twaalf keer per jaar vrugte dra. Dit beteken dat die paradys uiteindelik herstel is, en dat die totale vrede wat daar in die tuin van Eden moes geheers het, uiteindelik nou in vervulling kan gaan. Liggaamlike en geestelike siektes bestaan nie meer nie, en daar is ‘n totale afwesigheid van sonde. In volmaakte saamwees met God regeer die triomferende gelowiges nou vir ewig in ‘n wonderlike en volmaakte gemeenskap met God en die Lam.

Is hierdie nie ‘n wonderlike ding om na uit te sien nie? Hierdie beskrywing wat Johannes gee is genoeg om enige gelowige opgewonde te maak, en met groot verwagting te laat uitsien na die eindtyd.

Gebed:

Here Jesus, ek sien so uit na die volmaakte lewe saam met U. Gee my asseblief die krag om hierdie lewe op aarde voluit te leef vir U. En wanneer ek pyn en smart beleef - versterk dan die wete in my dat dit net tydelik is, en dat die volmaakte op my wag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024