Die Nuwe Bedeling

31 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Nuwe Bedeling

Romeine 8:1-13

VIDEO | OUDIO

Die jaar 1834 was ‘n baie besonderse jaar in Suid-Afrika, ‘n jaar waar ‘n nuwe bedeling aangebreek het. Ons het die afgelope paar dae gepraat van slawerny in Rome, maar ons vergeet baie gerieflik van die slawerny in ons eie mooi land se vroeë geskiedenis. Teen die tyd van die tweede Britse besetting van die Kaap was daar ‘n bietjie meer as 22’000 koloniste in die mooiste Kaap. ‘n Feit waaroor die geskiedenis liewer swyg is dat daar op daardie stadium byna 30’000 slawe was. Vandag is daar nog net enkele tekens van die slawerny wat in die Kaap geheers het. Enkele slaweklokke het staande gebly as stille getuienis van ons donker geskiedenis.

Wreed was die Britte inderdaad, veral teenoor slawe. Daar was nie minder nie as 146 kategorië misdaad waarvoor die doodstraf opgelê was, selfs iets soos diefstal! Minder-ernstige misdaad was gestraf met 100 houe met ’n sambok. Vir ‘n ernstige oortreding was die skuldige gehang en dan in vier stukke opgekap, soms terwyl hy nog lewe! Die stukke mens is by die vier ingange van die stad uitgestal om misdadigers af te skrik. Toe daar vir die eerste keer, in 1808 ‘n slawe-opstand uitbreek, was dit maar ‘n baie halfhartige poging want die arme slawe het presíés geweet wat die gevolge sou wees as dit nie werk nie!

Maar toe kom die jubelende jaar, 1834. Teen daardie tyd was daar alreeds 40’000 slawe in die Kaap. Vir die slawe was hierdie jaar ‘n totale nuwe bedeling, want toe is slawerny verban. Die slawe van Suid-Afrika was vry! (Bron: Roger Webster - At The Fireside)

Vir ons het daar ook ‘n nuwe bedeling aangebreek in Jesus Christus, ‘n bedeling waar ons ook soos die slawe aan die Kaap vrygemaak is. Onder die ou bedeling van wetsvoorskrifte was ons tot die dood toe skuldig voor God. Maar Paulus lei hierdie hoofstuk in met die wonderlike bevrydende woorde, dat daar nou (in die nuwe bedeling) geen veroordeling meer is nie!

Om hierdie gedagte vir jou ‘n konkrete werklikheid te maak, moet jy ‘n bietjie terugdink aan die ergste dinge wat jy ooit in jou lewe gedoen het. Wéét dan dat Christus voor God gaan staan het asof dit Hy is wat al jou sondes gedoen het. Sodoende het Hy God se straf wat vir jou bedoel was gedra. Hy is tot die dood toe gestraf en dít terwyl Hy totaal onskuldig was! Op hierdie manier het Christus vir eens en altyd met jou sondes afgereken. Nou het die wet ook niks meer oor jou te sê nie. Die ou bedeling is verby! Die nuwe bedeling het aangebreek.

In die ou bedeling moes jy probeer om jou verhouding met God oor ‘n afstand te bewerk deur wetsvoorskrifte na te kom. Die nuwe bring vir jou ‘n baie ryker verhouding met God want nou het jy ‘n intieme gemeenskap met Hom. God woon immers deur die Heilige Gees persoonlik in jou! Hierdie is ook nie maar ‘n tydelike verhouding nie maar 'n permanente een waar jy vir ewig saam met Hom is!

Daar rus egter ‘n verantwoordelikheid op jou noudat jy die nuwe bedeling binnegegaan het. Nét soos wat die vrygemaakte slawe aan die Kaap nie maar kon doen wat hulle wou na hulle vryspraak nie, so kan jy as vrygespreekte nie ook maar alles oorboord gooi nie. As gelowige is jy verantwoordelik om hierdie intieme, persoonlike verhouding wat God daar stel te koester en te laat blom.

Verstaan mooi: God verplig niemand om ‘n verhouding met Hom te hê nie. Die voordele om jou lewe deur die Heilige Gees te laat lei en naby aan God te leef is egter legio. Daarsonder kan jy jou egter skaars ‘n Christen noem!

Hoe beheer die Heilige Gees jou lewe? Deur drome, gevoel, visioene? Nee, deur God se Woord! Lees die Bybel asof dit persoonlik nét vir jou geskryf is. Bid elke keer wanneer jy in hierdie kosbare Woord lees, dat God sy wil vir jou lewe en jou persoonlike verhouding met Hom in daardie Bybelstudie duidelik sal maak.

Dit is egter ook belangrik dat jy dít wat jy gelees het sal toets deur met ander gelowiges wat deur die Gees gelei word daaroor te gesels. Dikwels is dit in persoonlike gesprekke waar die wil van God vir jou duidelik gemaak word. Maar dit is ook belangrik om te lees wat ander toegewyde gelowiges geskryf het. Bybelstudiehandleidings en goeie Bybelkommentare is van groot nut om te kan verstaan wat in die Bybel geskryf is.

Dikwels kan dit gevaarlik wees om jou eie afleidings te maak, veral as jy nie die agtergrond van die bepaalde stuk ken nie.

As jy dan duidelikheid gekry het oor die leiding wat die Heilige Gees vir jou gee deur hierdie Bybelgedeelte, bid dan vir krag en doen wat God van jou vra. Met ander woorde: meet jou lewe aan die Woord en rig jou lewe daarvolgens in.

Gebed:

Heilige Gees, lei my asseblief in U waarheid en rig my lewe. Gee my die ywer en wysheid om in ‘n intieme verhouding met U te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026