Vandag se onderwerp is eenvoudig, altans op die oog af. Ons ken mos almal die gebruike rondom die Nagmaal, en die betekenis daarvan. Wel, dit is wat ons dink, maar dit is gladnie so eenvoudig soos wat dit wil voorkom nie. Waarom vier ons die Nagmaal soos ons dit vandag doen, en waar kom al die gebruike vandaan?
Daar is die bekende storie van die dogtertjie wat staan en kyk het hoe haar ma ‘n hoender gaarmaak. “Ma, waarom breek mammie die vlerkies af?” wou sy weet. “Omdat Ouma my so geleer het”, antwoord die ma. Toe sy vir Ouma gaan vra, kom die antwoord weereens dat sy dit van háár ma geleer het. Uiteindelik kry die dogtertjie die geleentheid om vir Ouma Grootjie te vra waarom sy vir Ouma en Mamma so geleer het. “Nee, my kind,” kom die bewerige ou stemmetjie, “daardie jare was ons maar arm en my kastrol was te klein. Ek moes eers die vlerkies afbreek om die hoender te kon inpas!”
Ek het nou ook maar altyd aangeneem dat die Nagmaal vandag so gevier word omdat die vroegste kerk dit so gedoen het. Ek was verkeerd!
Ons weet natuurlik dat die Nagmaal sy oorsprong het by die aand voor Jesus se kruisiging, toe Hy en Sy twaalf dissipels saam die Paasmaal geëet het. Etlike jare later lei ons af uit Paulus se brief aan die Korintiërs dat die gelowiges gereeld ‘n gemeenskaplike maaltyd gehou het, waar die gemeentelede hulle kos en wyn saamgebring het na die erediens om dit saam te geniet, en so ook die Nagmaal te vier. Dit was nie maar ‘n simboliese maaltyd met ‘n flentertjie brood en ‘n paar druppels wyn nie, maar ‘n behoorlike maaltyd.
Meer as ‘n duisend jaar het verloop voordat daar weer behóórlik na die gebruik rondom die Nagmaal gekyk is. Intussen het die Roomse kerk die mis gehad waar ‘n vorm van daaglikse nagmaalsviering betrokke was. Toe Martin Luther in 1517 sy 95 stellinge van hervorming teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het, het dinge begin verander, maar die Nagmaal het baie dieselfde gebly. Zwingly, nóg ’n groot Hervormer, het ’n paar jaar later groot veranderinge voorgestel, en uiteindelik was dit Calvyn wat ‘n behoorlike uiteensetting van die nagmaalsgebruike ingestel het. Volgens hom moes dit elke week gevier word, want Woordverkondiging moet gepaard gaan met Nagmaalsviering. Om praktiese redes het die weeklikse viering later maandeliks en toe kwartaalliks geword. Verder het die hele karakter van Nagmaalsviering ook deur die jare verander. Wat oorspronklik ‘n vreugdesmaal was, het stelselmatig verander in een van rou en droefheid.
Selfs in ons eie Afrikaanse geskiedenis het die gebruike rondom Nagmaal oor die afgelope 100 jaar dramaties verander. In my oupa se tyd op Machadodorp het ‘n Nagmaal maklik twee weke geduur, waar boere van heinde en verre gekom het en op die dorpsplein uitgekamp het. Daar is gekatkiseer, getrou, kerkgehou en Nagmaal gevier. Selfs toe ek nog kind was, was Nagmaal steeds ‘n baie groot geleentheid, wat ‘n hele naweek geduur het van voorbereidingsdienste en nabetragting en danksegging ens. Vandag het dit totaal afgewater, en maak ons (myns insiens) gans te min daarvan. Die wonderlike simboliek van Nagmaal gaan dikwels by ons verby, omdat dit maar vir baie mense slegs ‘n noodsaaklike ritueel - ‘n stukkie tradisie - geword het wat in ‘n vlietende oomblik tydens ‘n doodgewone erediens verbyvlieg.
Hoe ons Nagmaal moet vier, word ongelukkig nêrens in die Bybel vir ons uiteengesit nie. Die Hebreër-skrywer verduidelik egter vir ons ‘n paar baie belangrike dinge omtrent die Nagmaal: Tydens hierdie geleentheid eet ons simbolies die liggaam en bloed van Jesus. Maar dit is ‘n baie eksklusiewe geleentheid wat volgens hom “buitekant die laer” (v 13) gevier moet word. Die bedoeling hiermee is dat die Nagmaal slegs vir gelowiges bedoel is, en dat ‘n ongelowige geensins hieraan mag deel hê nie. ‘n Derde gedagte wat die skrywer by ons laat, is dat ons met die Nagmaal aan God ‘n offer van lof bring deur Jesus, deur hiermee Sy Naam te bely. Deur deel te neem aan die Nagmaal, sê die gelowige dus ook aan die wêreld dat ons glo in Jesus se versoeningsoffer.
Wat maak ek en jy met hierdie gedagtenismaaltyd? Is dit nog vir ons ‘n besonderse vreugdemaal ter ere van Hom? Of is dit dalk maar net ‘n stukkie onverstaanbare tradisie? En dan wil ek ook vanoggend spesiaal met die leraars praat: wat maak jy om vir jou gemeente die Nagmaal ‘n besonderse belewenis te maak? Moet asseblief nie dat hierdie ook maar net ‘n formaliteit word wat afgehandel moet word nie. Doen asseblief spesiale moeite om dit vir jou gemeente ‘n wonderlike ontmoeting met Jesus te maak.
Gebed:
Here, so dikwels het Nagmaal al by my verbygevlieg. Help my om dit weereens te beleef as iets baie spesiaal.