Die Nagmaal

30 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Nagmaal

Lukas 22:14-23

Dit is ‘n uiters emosionele oomblik wanneer Jesus saam met Sy twaalf vertrouelinge aan die tafel gaan aansit vir die paasmaaltyd. Die manne saam met Hom aan tafel was die afgelope drie jaar elke dag by Hom, manne wat Hy deur en deur leer ken het. Almal was maar doodgewone mense, elkeen met sy foute, rowwe vissermanne, party van hulle.

Daar was Petrus wat gepraat het, en partymaal gedoen het ook, nog voordat hy gedink het. Onverskrokke, hierdie man, maar hy sou later nog knak voor die verskriklike druk, en selfs vir Jesus verloën in die uur toe Hy hom die nodigste sou hê.

Dan was daar Jakobus en Johannes, die twee manne met die verskriklike humeure. Jesus het hulle herdoop na “die Seuns van die Donder” - nou nie juis te vleiend nie!

Een van die manne aan tafel het vermoedelik lang vingers, Judas. Die ander vertrou hom nie so lekker nie, en hy behartig hulle finansies. Maar daar is iets baie erger omtrent hierdie man, want hy het alreeds beplan om Jesus te verraai!

Ja, en so kan ons dalk iets oor elkeen van die manne om die tafel sê. Nie een was volmaak nie! Elkeen het sy swakhede en sonde met hom saamgedra. So dikwels het ons hulle twyfel, hulle ongeloof, hulle angs, hulle onvermoë om te verstaan gesien terwyl hulle saam met Jesus was.

As hierdie manne, wat so naby aan Jesus was, dan dikwels in hulle volgelingskap gefaal het, hoeveel te meer is dit nie dalk ons eie lot nie? Nogtans sien ons vir Jesus waar Hy juis saam met hierdie twaalf sit, en dat Hy vir hulle sê dat Hy baie daarna uitgesien het om hierdie laaste paasmaaltyd saam met hulle te eet.

Wanneer Jesus die brood breek en uitdeel, sê Hy vir Sy twaalf vriende dat hierdie brood Sy liggaam simboliseer. Dit sou gebreek word, en wanneer hulle dit eet, dan moet hulle aan Hom dink. Dan word die beker met wyn omgestuur, en weereens sê Jesus vir hulle dat hierdie wyn simbolies is van Sy bloed wat vergiet sou word.

Ons moet onthou dat hulle eintlik besig was om die Pasga te vier, die maaltyd wat die Jode moes herinner aan die dag toe God hulle verlos het uit die slawekettings van Egipte. Maar skielik kry hierdie selfde maaltyd nou ‘n totaal ander betekenis: dit word nou die Nuwe Verbond waar Jesus alle gelowiges verlos uit die slawekettings van die verdoemenis.

As ons deur die annale van die geskiedenis blaai, dan sien ons dat God met ‘n paar mense ‘n verbond gesluit het: Adam, Noag en Abraham. Nou kom Jesus egter en sê dat Sy bloed wat gestort sou word die seël is van ‘n splinternuwe verbond wat Hy met die ganse mensdom sluit.

n Verbond is natuurlik ‘n ooreenkoms wat tussen twee partye ontstaan. So sal twee lande ‘n verbond sluit en sê dat hulle mekaar sal bystaan en nie mekaar sal aanval nie. In antieke tye is diere geslag om die verbond te bekragtig. As een van die twee partye die verbond sou verbreek, is daar groot moeilikheid! Daar sou met hom gebeur wat met hierdie geslagte diere gebeur het! Bloed het ‘n belangrike deel gevorm van so ‘n verbond, omdat dit die lewe simboliseer.

God se verbond werk ‘n bietjie anders, want dit is ‘n eensydige verbond waar Hy alles gee en ook sekere voorwaardes stel. So lui die nuwe verbond dus dat God die ewige lewe gee (en dit sluit al die voordele daaraan verbonde in), maar as teenprestasie vra Hy geloof in Sy Seun, Jesus. Dit is ook nie ‘n verrassing dat bloed ook in hierdie verbond ‘n baie groot rol speel nie. In hierdie geval is dit egter nie die bloed van diere nie, maar die kosbare bloed van Jesus, enige Seun van God wat as teken (seël) van die verbond gebruik word.

Direk na Jesus hierdie nagmaal ingestel het, maak Hy ‘n skokkende aankondiging: een van hierdie vertrouelinge van Hom, wat nou hier saam met hulle aan tafel sit, gaan Hom verraai. Ek sien in my verbeelding hoe die manne se gesigte val as hierdie bom hulle tref. Hoe is dit moontlik? Hoe kon enigeen so laag daal?

Maar Jesus beklemtoon die feit dat dit volgens die groot raadsplan van God gebeur, en dat dit nie in die hande van die verraaier is nie. God se raadsplan móét sy loop neem, en móét tot in die fynste besonderhede uitgevoer word. Hy bly steeds in volle beheer, al lyk dit op die oog af of alles buite beheer geraak het, selfs in ‘n situasie soos hierdie wat so tragies en fataal voorkom.

Vandag kan ek en jy die wonderlike wete hê dat ons eie foute en dislojaliteit en swakhede en twyfel en mislukkings nooit ooit God se trou en beheer oor alles kan aantas nie. Vandag kan ons met vertroue die lied sing: “U is in beheer, wonderbare Heer - U wat steeds getrou U skepping onderhou....”

Gebed:

Here, ek kan vanoggend nie anders nie as om in aanbidding voor U neer te val. Ek stel U so dikwels teleur, maar in U groot genade aanvaar U my net soos ek is. Dankie dat ek kan weet dat U in volle beheer is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026