Die Melaatse

5 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Melaatse

Lukas 5:12-16  

Oudio

Petrus en die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes het alles nét so gelos na die groot visvangepisode en Jesus se volgelinge geword. Vir die volgende drie jaar sou Jesus dag-vir-dag ‘n klompie leerlinge hê wat oral saam met Hom gegaan het. Hulle groepie sou gedurig omring wees met skares van duisende mense wat Hom as “publieke eiendom” beskou het omdat Hy so mooi kon preek en boonop siekes gesond kon maak. Ek sou gek word as mense my so sou verdring! Die filmsterre voel nogal so ‘n ietsie van wat Hy moes deurmaak, met elke Jan Rap en sy maat wat hulle private lewe verdring, en die talle joernaliste en fotograwe wat elke oomblik probeer om ‘n steelfoto te kry. G’n wonder dat hierdie mense soms uithaak en die fotograwe aanrand nie!

Lukas vertel die verhaal van ‘n melaatse man wat Jesus teëgekom het. Die melaatsheid waarvan hier gepraat word is nie noodwendig melaatsheid of Hansen se siekte soos ons dit vandag ken nie, maar enige erge velkwaal is melaatsheid genoem. Vir enige Jood was hierdie ‘n verskriklike ding want dit maak jou “onrein!” Jy word ten alle koste vermy! Melaatses moes in ‘n kolonie buite die stad bly en mag nie eers kontak gehad het met hulle families nie. Dit het beteken dat hulle nie meer kon werk of vir hulle gesinne kon sorg nie. ‘n Melaatse is soos die pes vermy. As dit sou gebeur dat hy in ‘n publieke plek moes kom, moes jy die hele tyd skree: “Melaats, melaats!” om die ander mense te waarsku om uit sy pad te bly.

Ek kan my die prentjie voorstel van hierdie arme, desperate man wat sy lewe gewaag het tussen die skare deur wat om Jesus saamgekoek het. Hy het alle sosiale reëls verbreek om daar te wees. Dit kon selfs beteken dat ‘n spul opgewerkte Jode hom kon stenig! Nogtans het hy alles gewaag en op sy knieë voor Jesus neergeval en gesmeek vir genesing. 

Jesus verbreek terselfdertyd ook die sosiale reël deur nie ‘n paar treë terug te staan soos die skare rondom Hom waarskynlik skielik gedoen het toe hulle die melaatse tussen hulle sien nie. Inteendeel, Jesus vat selfs aan die man! Hy het neergedaal tot daardie verstoteling se misrabele sosiale vlak. 

Jy kon duidelik hoor hoe almal hulle asems ingetrek het: “Wat dóén Hy? Jy raak mos nie aan ‘n melaatse nie!” Dan snak die mense na hulle asems want eensklaps, voor hulle verbaasde oë, is die sere wat die man se liggaam oortrek het, weg! Spoorloos!

Jesus het die man opdrag gegee om vir niemand te vertel van wat gebeur het nie. Dit het nie veel gehelp nie, want hoe anders kon hy as om dit aan die wêreld uit te blaker! 

Jesus het die man verder opdrag gegee om die Mosaïese voorskrifte vir reiniging te ondergaan sodat hy weer in die gemeenskap opgeneem kon word. Dit sou beteken dat hy weer kon werk, sy familie sien, sy eer herstel, sy Godsdiens vryelik beoefen en sy respek in die samelewing herwin. Kan jy jou indink hoe dit moes wees om totaal afgesny te wees van alles wat vir jou belangrik en dierbaar is? En dan skielik, wanneer alles totaal verlore lyk, dan kom hierdie wonderwerk wat alles oombliklik totaal herstel!

Die nuus van hierdie wonderwerk het soos ‘n veldbrand versprei, en die skares het al groter en groter geword. In menslike standaarde gemeet, het dit uitstekend gegaan met Jesus se bediening. Maar dit was ‘n uitmergelende werk om dag-vir-dag van vroegoggend tot laat saans die toue en toue siekes te moes sien. Eindelose toue mense met hartverskeurende siektes en kwale en gebreke en selfs duiwelbesetenheid het ál Jesus se kosbare tyd opgeneem. Hy het gesmag na daardie luukse van net ‘n klein bietjie alleenwees. Lukas vertel dan ook dat Jesus tyd gemaak het deur Sy besige skedule om Hom af te sonder sodat Hy kon bid.

As dit vir die Seun van God - Sélf God - nodig was om alleen te bid - hoeveel te meer is dit dan nie vir my en jou wat so geweldig afhanklik is van Hom, nodig om dit te doen nie. ‘n Mens moet jouself dissiplineer om juis wanneer dit goed gaan, of as die werk swaar druk, ‘n tydjie af te knyp om iewers alleen met God te gaan gesels en verkeer. Ek het eenmaal iemand hoor sê: “Ek is te besig om NIE te bid nie!” Dit is juis wanneer die druk op sy ergste is, dat ons die verfrissende krag van God nodig het om weer aan te gaan. Maar dan is dit nie net ‘n vinnige noodroep om te vra: “Here, help asseblief!” nie, maar maak jou hart oop teenoor die Heilige Gees en laat Sy wonderbare krag oor jou gemoed spoel. Sing in jou hart ‘n loflied vir Hom, die Heerser van alle heersers. Raak rustig en gee jou oor aan God. Slegs ‘n paar minute is nodig om jou gemoed te lig en jou op God te laat fokus. Die wonder hiervan is nie alleen dat dit jou gedurig herinner aan jou afhanklikheid van God nie, maar ook dat jy totaal verfris weer jou werk kan aanpak met nuwe ywer terwyl jy ‘n jubellied in jou hart sing. En almal wat jou sien sal wonder wat met jou gebeur het!

Gebed:

Heilige Gees, leer my asseblief om gereeld tydjies met U deur te bring, selfs wanneer dit besig is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026