Die Manne word Besny

12 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Manne word Besny

Josua 5:2-12

VIDEO | LUISTER

Na veertig jaar van rondswerf in die woestyn is die volk nou uiteindelik in die Beloofde Land, Kanaän. Hierdie woestyntyd was in meer as een opsig vir die volk ‘n tydperk van skande. Hulle het immers daar geland omdat hulle ongehoorsaam was aan God. Hulle het Hom nie vertrou nie! Die Here het vir hulle belowe dat Hy die land in hulle hande gee. Al wat hulle moes doen, was om dit in ontvangs te neem. Hulle het egter nie geglo dat dit kon gebeur nie, en hulle het verkies om nie die land binne te gaan nie!

Met die intog in die Beloofde Land, kom die skandelike woestyntyd tot ‘n einde. Vir die volk is dit ‘n splinternuwe begin. Daar kom egter ‘n baie belangrike saak hiermee saam. Toe God destyds die verbond met Abraham gesluit het, het Hy Abraham beveel dat hy en sy nageslag almal besny moes word as teken van God se verbond. Die Israeliete wat uit Egipte getrek het, was almal besny. Maar tydens die veertig jaar in die woestyn het die volk in baie opsigte afgedwaal van die Here af. Onder andere het hulle nagelaat om hulle seuns te besny. ‘n Hele geslag het intussen uitgesterf, en die gevolg was dat feitlik nie een van die huidige geslag besny was nie.

‘n Nuwe begin in die nuwe land beteken vir die volk dat hulle met ‘n skoon bladsy begin. Die volk kry as’t ware ‘n nuwe identiteit. Deel van die nuwe identiteit is dat hulle die sigbare teken dra dat hulle aan die Here verbind is. Daarom kry Josua opdrag van die Here om al die mans en seuns te laat besny. Tradisioneel word dit met klipmesse gedoen, en daarom moes hy spesiaal klipmesse maak vir die besonderse gebeurtenis.

Vir die Israeliete was die feit dat hulle nie besny was nie nét so ‘n groot skande op hulle naam as die woestyntyd. Wanneer hulle dus besny word, word hulle simbolies bevry van die skande wat hulle met hulle saamdra. God plaas as’t ware ‘n punt agter die skande en verleenthede van die verlede. Hy begin totaal nuut met hulle. Daarmee is hulle skandelike verlede ook totaal vergete.

Baie jare later het daar ‘n wonderlike ding gebeur by Golgota, waar God óók ‘n punt geplaas het agter die skandelike verlede van enigeen wat bereid is om in Jesus te glo. Wanneer jy die dag omdraai en jou vertroue in Hom plaas, gee Hy jou ‘n splinternuwe identiteit as kind van God. Jy word hiermee dan ook bevry van die reputasie wat jy met jou saamgedra het. Die teken van die doop bevestig daardie nuwe identiteit.

Josua noem die plek waar hulle gekamp het en waar die besnydenis plaasgevind het “Gilgal” wat beteken: “God het bevry”.

Hierdie moes ‘n reuse operasie gewees het, want ons weet dat daar veertigduisend weerbare manne was. Dan was daar nog al die ander wat nie so weerbaar was nie asook ‘n magdom kinders. En almal is besny! Na ‘n week of twee het almal gelukkig darem herstel. En dan wag daar ‘n groot fees op hulle. Josua beveel dat almal die Paasfees vier, waar die uittog uit Egipte herdenk word. Die Paasfees vertel vir die volk hoedat God hulle gered het uit die Egiptiese slawerny!

Die volgende oggend eet hulle ongesuurde brood en gebraaide koring as deel van die fees. Die koring is deel van die opbrengs van hierdie nuwe land wat hulle so pas betree het. Dit was dus in daardie sin óók vir hulle ‘n nuwe begin.

Tot op daardie stadium het die Here nog steeds elke dag vir die volk manna uit die hemel voorsien. Vir veertig jaar lank, dwarsdeur hulle woestyntydperk, het die Here getrou voorsien ten spyte van die volk se ongehoorsaamheid en afvalligheid. Daar breek egter nou ‘n nuwe tydperk aan waar hulle kos kry uit hierdie nuwe land van oorvloed. En dan hou die manna skielik eensklaps op. Op die dag wat hulle die eerste vrug van Kanaän eet, stop die manna. Nou begin daar vir hulle ook ‘n totale nuwe lewenswyse, waar hulle uiteindelik hulle eie grond gaan kry en kan plant en oes van hierdie vrugbare land. Dit gee ‘n verdere varsheid aan hulle nuwe verhouding met die Here.

God se voorsiening van manna aan die ontroue volk, vertel vir ons iets van die wonderlike voorsiening van God aan ons. Alles is suiwer genade! God gee nie in ooreenstemming met dít wat ons doen nie. Dit hang nie af van hoe goed ons is nie. As dit die geval sou wees, sou meeste van ons jammerlik gekrepeer het van die ellende! Maar nou weet ons dat Hy voorsien omdat Hy vir ons lief is!

Maar waar laat dit my en jou? Omdat God se genade so groot is, beteken dit dat ons maar kan terugsit en doen wat ons lus het?

Baie beslis nie! Omdat Sy genade oor my so wonderlik groot is, gaan ek júís my álles vir Hom gee om op daardie manier vir Hom dankie te sê vir Sy groot liefde wat Hy aan my bewys het.

Gebed:

Here, ek besef weereens vanoggend dat alles genade is en dat U my met ‘n oorvloed guns oorlaai ten spyte van my lewe wat nie altyd volgens U wil is nie. Help my asseblief dat ek U uit dankbaarheid kan dien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026